

72
Beste Grootneef
s
oos Buurman verlede week vir Mevrou Dominee in die
bad sê: Die wêreld is boos. Kyk nou net hoe die nuwe
baas van PRASA verduidelik oor die verhoging van
350% wat hy aan homself toegeken het. Dis nou dieselfde
besigheid wat laasjaar Spaanse treine bestel het wat nie
pas nie.
Buurman sê die hogeres lyk altyd so hartseer as hul streke op die
lappe kom. Nie omdat hul jammer is oor wat hul gedoen het nie,
maar dat hul uitgevang is. Want dan moet hul ‘n ambassadeur of
‘n LP word vir ‘n kwart van die salaris wat hul voorheen vir hulself
gereël het. Maar dis nou wat gebeur as jy van ‘n grasbesem ‘n
vacuum cleaner
wil maak.
Ou Neef, die weiveld in die Vrystaat is mooier as ooit. Vanjaar gee
dit so ‘n kykie van hoe die paradys voor die sondeval moes gelyk
het. Wanneer jy met ‘n bakkie deur die veld ry, voel dit kompleet
asof jy met ‘n boot deur die golwe van wuiwende rooigras gly.
Vroegoggend al gaan lê die beeste en herkou, blink gevreet in die
lang gras. Hoe het die wêreld nie in ‘n paar maande verander nie
– laasjaar die tyd was die ellende hoog, met noodvoer wat vir die
winter ingery moes word. Net genade ou Neef, net genade.
Die nat weer het natuurlik ook sy bondel sports gehad; met party
manne wat met trekkers deur die vleie en spruite moes dorp toe.
Geen bakkie kon deur die hoogwater kom nie. Maar met die sak van
die water terug tot in die natuurlike lope van
vleie en spruite, wou algar gaan kyk tot waar
die water opgestoot het. Die opdrifsels teen
die drade en bome vertel mos ‘n eie storie van
hoe breed en wyd ‘n spruit geloop het.
Dit was ‘n Maandagoggend dat ons verneem
het van Buurman se groot sit. Die spruit se
geel potklei was so glad soos seep en sy Ford
het van die wal tot in die sloot gegly. Gelukkig
was daar ‘n selfoonsein sodat hy hulp kon
ontbied. ‘n Gewone bakkie sou dit nie maak
nie, maar Buurman laat weet dat ons sy ou
Land Rover moet stuur om hom uit te sleep.
Só is ons terug tot by sy stoor om sy Landy aan
die gang te kry. Dié kan enige pad ry.
Daar gekom, word die enjinkap behendig
deur Amos oopgemaak en met ‘n plank ge-
stut om nie toe te val nie. Die waterwerke kry
so 2 liter water gesluk en toe word die filter
se deksel afgeskroef vir ‘n doppie
kwik start
in elke keelgat af. Met die filter weer toe,
draai Amos die sleutel in stille afwagting. Die
starter
gee egter net so klak-geluid, maar met geen belofte van ‘n
vonk om lewe aan die ou kolos te gee nie.
En toe sak ek en Amos maar in skrumformasie teen die Engelse
maaksel. Ek agter en Amos in flank posisie langs die Landy se deur.
Op
crouch and engage
krap Amos die klip onder die voorwiel uit
en toe stoot ons. Met ‘n geknars het die Landy se wiele stadig begin
rol. Toe die afdraande en swaartekrag oorvat, kon Amos vinnig
inspring, die eerste rat instamp en die koppelaar los. Met ‘n sidde-
rende hoes is die
kwik start
tot in die Landy se binneste. En toe vat
hy met ‘n bol rook en ‘n knal soos ‘n 303. Al die hoenders op hol
en die stoorkat teen die balke uit. Amos
ref
toe daai Landy dat die
hele ding staan en sidder en beef soos ‘n gelaaide flossie op Groot-
fontein se aanloopbaan.
“Sy’s nou reg,” het Amos tevrede laat weet en is toe met die
proesende Landy die werf uit om vir Buurman uit die spruit te sleep.
Ek dink toe by myself, die Engelse het ons waarlik gestraf met die
klomp Landy’s wat hul hier gelos het. Die voordeel van ‘n ou Landy is
weliswaar dat jy nie met ‘n GPS hoef te sukkel nie. Jy ry sommer net
op die oliestreep terug huis toe.
Ou Neef, groete op die Oosgrens! Maak solank daardie .30-06 skoon
en soek die biltonghakies. Die winter is op ons.
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Die groot sit
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
April 2017