

Kyk híérna by
instandhouding
S
pilpunte is meganiese strukture en net soos met enige
ander meganiese toerusting is deeglike instandhouding
belangrik vir die korrekte, langdurige werking van die
masjien. Dit is ’n goeie tyd om voor die seisoen begin alle
instandhoudings- en inspeksietake af te handel.
Sodoende kan uitdagings reeds voor die groeiseisoen aangespreek
word, sodat daar geen herstelwerk tydens kritieke besproeiingstye
nodig is nie. In hierdie artikel bespreek ons van die belangrikste take
om gedurende die instandhouding van spilpuntbesproeiingstelsels
in gedagte te hou.
Motors en ratkaste
Wees op die uitkyk vir olielekkasies. Enige seëls wat lek, moet
vervang word en die olie moet weer opgevul word. By die ratkaste
kan die olie na die eerste 1 000 ure (nooit voor die eerste 1 000 uur
nie) uitgetap en met ’n langlewe-smeermiddel vervang word om
die lewe van die ratkaste te verleng.
Of ’n langlewe-smeermiddel gebruik word al dan nie, is dit steeds
’n goeie gebruik om periodiek die olie van die ratkaste te vervang.
Bande
Die inspeksie van die bande kan ook tydens die inspeksie van die
motors en ratkaste gedoen word. Maak seker daar is geen pap
bande nie en dat die bande teen die regte druk gepomp is. Die
spesifikasies vir die regte druk sal tussen vervaardigers en tussen
verskillende bandgroottes verskil.
Dryfas
Saam met die bande, motors en ratkaste by elke toring moet die
dryfas ook geïnspekteer word. Maak seker dat al die komponente
goed vas en in ’n werkende toestand is. Let ook op vir slytasie.
Pype
Stap met die lengte van die spilpunt af om pype te inspekteer en
seker te maak dat die pype op die spanne nie lek of geroes is nie. Dit
is beter om enkele pype voor planttyd te vervang as om hele spanne
of spilpunte wat gedurende die groeiseisoen val, te herstel en/of te
vervang. Waar daar water uit pype lek, moet die rubberseëls tussen
die konneksies vervang word.
Spilpuntspanne vorm ’n boog tussen die torings. Hoe prominent
die boog is, hang af van die span-lengte, pypdikte asook die
fabrikaat. Wanneer die boog van ’n span platter lyk in vergelyking
met die ander spanne, is dit ’n aanduiding dat van die pype op die
span vervang moet word.
Spuite
Die hoofdoel van ’n spilpunt is om ’n bewegende struktuur te wees
waarvandaan spuite die gewas kan benat. Sonder doeltreffende
spuite is optimale oeste nie moontlik nie. Om die beste diensverrig
ting uit spuite te kry, moet die spuitpakket periodiek vervang word.
Die spuitkomponente word uit plastiek vervaardig en slyt metter
tyd. Die optimale leeftyd van ’n spuitpakket is vier tot tien jaar
– afhangende van die waterkwaliteit, die aantal ure en die kwaliteit
van die plastiek waaruit dit gemaak is.
Spuite wat vuil of verstop is, kan ook ’n negatiewe uitwerking op
die eenvormige verspreiding van water hê. Voldoende filtrasie sal
die skoonhou en instandhouding van spilpunte vergemaklik.
Drukreguleerders op spuite
Voor elke spuit op die spilpunt is daar drukbeheer om die
verspreidingneerslag so egalig en eenvormig moontlik te hou. Hier
die drukreguleerders het ’n beperkte leeftyd (soos ander kompo-
nente in die spuitpakket) en moet, soos nodig, vervang word.
Die drukreguleerders werk met ’n veer om die druk eweredig te
hou. Mettertyd verloor die veer spanning soos dit die water se druk
beheer en word dit minder doeltreffend.
Senterpunt
Die senterpunt is die spil waarom die spilpunt draai en moet geghries
word om wrywing en slytasie te verminder. Ghries die spilpunt aan
die een kant en laat die spilpunt dan 180° loop om die ghries aan die
anderkant toe te dien. Lekkasies op die senterpunt kan ook daarop
dui dat die rubberseëls vervang moet word.
Toetslopie
Laat die spilpunt vir ’n ruk in een rigting droogloop en daarna in
die teenoorgestelde rigting om seker te maak dat alles reg loop.
Gedurende hierdie toetslopie kan ook seker gemaak word dat
die grondbedrading nog reg is en dat die regte voltlesings by die
beheerpaneel van die spilpunt gelees word.
Fokus
Besproeiing
Produkinligting
Frederik Nel,
Lindsay Africa
1: ’n Spilpunt wat ’n lusernland besproei. Die nodige instandhou
ding voor die seisoen ’n aanvang neem, sal sorg dat die spilpunt
vlot en met die minimum onderbrekings funksioneer.
2: Die nodige onderhoud aan die spuite is belangrik vir die
eweredige neerslag van besproeiingswater.
1
2
Oktober 2018
30