80
Beste Grootneef
d
at ‘n stukkie skuurpapier kleiner as ‘n posseël sóveel
klokke kon laat lui! Van Kaapstad tot in Queensland
beier dit oor die gepeuter deur die span van Oz. Buur-
man sê die klomp lyk almal so jammer in dié Volk se
blad – nie oor die gepeuter aan die bal nie, maar omdat
hulle uitgevang is. Knapgedaan, baasspeurder Fanie!
Ou Neef, so draai die wiel. In Holland praat hulle van “de kleine
man”. Dis nou die gewone Piet en Klaas soos ek en jy. De kleine man
word meestal maar tot stof gemaal deur die ratte van die lewe. Maar
so nou en dan is daar ‘n skuurpapier-oomblik wat de kleine man laat
voel dat geregtigheid geseëvier het.
Ou Neef, al wat beter as ‘n skuurpapier-oomblik is, is ‘n lekker ou
bustoer. Askies, Buurman sê mens noem dit ‘n studietoer.
Só ‘n uitnodiging land een aand in my “wat is op”-toep: “Alle
studiegroeplede: Gratis vervoer in 22-sitplek bus wat Dinsdag na
Donderdag se veiling vertrek. Sou iemand iets koop, het ek plek vir
40 diere op die sleepwa. Braai en akkommodasie vir elke lid se eie
rekening. Antwoord so gou moontlik, daar is net plek vir 16 persone.
Die ander sitplekke word uitgehou vir die koelbokse. Vriendelike
groete.” Die volgende boodskap pieng bykans onmiddellik met
‘n nota dat Van der Merwe Prokureurs 25% afslag op egskeidings
gee wat uit die studietoer voortspruit...Maar jy moet bewys lewer
dat jy op die bus was. Die volgende pieng het almal laat weet dat
‘n sekere lid se vrou nie van hom wil skei nie, want sy wil hom nie
gelukkig sien nie.
En so voorts, tot in die laatnag. Toe die son die volgende oggend
opkom, was die 16 sitplekke op die bus volbespreek. Ou Neef, met
die bus se vertrek die volgende Dinsdag, het ‘n feestelike atmosfeer
geheers – beide by die busgangers, maar veral by die wederhelftes
wat moes agterbly. Enige iets vir ‘n paar dae se rus en vrede.
Die bus het nie ver gevorder nie. Die eerste stop was op Kroonstad.
Die manne wou bene rek en braai. Dis toé dat Buurman die mooi
kapokkies wat daar rondstap, gewaar. Hy begin toe dadelik met die
petroljoggies onderhandel vir ‘n halfdosyn kapokkies. Die joggies
het laat weet dat die verhandeling van hoenders buite hul jurisdiksie
val en dat Buurman verdere navrae aan die
manager
moet rig.
Dié se nommer, rang en naam is met groot huiwering aan Buurman
gegee. Buurman het die
manager
se nommer met groot vertoon op
sy selfoon ingesleutel en toe hartlik met homself begin gesels. Die
“gesprek” het min of meer só verloop: “Meneer Wessels, pragtige
garage wat jy hier het. Ons is ‘n studiegroep op pad noorde toe en
wil graag ‘n kapokkie koop. O, u sê dis nie nodig om te koop nie,
ons kan sommer een verniet kry? En die mense by die pompe sal ons
help vang ook! Dis nou gaaf. Baie dankie mnr Wessels. ‘n Lekker dag
vir u ook!”
Na die monoloog op ‘n dooie foon, het ‘n kring petroljoggies
Buurman ongelowig aangekyk. Buurman laat waai toe met ‘n: “Toe
toe, julle het die
manager
gehoor – kom ons vang die
hoenôr
!” En
toe spat die oggend se rus en vrede op daardie petrolstasie uitme-
kaar soos die joggies op die kapokkies toesak.
Ou Neef, het jy al probeer om ‘n boerbok alleen aan te jaag? Nes jy
dink die rigting is bepaal, swenk die bok na links of regs met so ‘n
langsame draffie en ‘n stert na bo. Jy sal verniet probeer om bok
se kind op jou eie deur ‘n hek te jaag. ‘n Kapokkie is veel erger – nes
jy vat-vat aan sy stertvere, maak hy ‘n draai of vlieg al kekkelende
voor jou uit. Ou Neef, dít was nou vir jou ‘n konsternasie op die
stasie. Die kapokkies totaal ontstig en die petroljoggies wat alkant
toe ‘n vangs probeer maak. Einde ten laaste is ‘n jong haantjie
ingehardloop, en onder luide toejuiging aan Buurman oorhandig.
Maar dit was tyd om ons ry te kry voor die
manager
opdaag.
Buurman het by almal in die bus loop en spog met die studiegroep
se nuutste aanwins. Dit het gelyk of dit ‘n jong haan is en die
kapokkie is toe terstond “Haanis” gedoop. So het Haanis die hele
toer meegemaak: Saam met die manne geëet én gekuier. Maar kan
so ‘n hoender vir jou suip! Na ‘n doppie klippies en Coke, loop daai
hoender twee rye spore! Skoon hoenderkop.
Toe die bus drie dae later met ‘n sleepwa vol bokke op Wesselsbron
stop, is Haanis eenparig as erelid van die studiegroep aangewys!
‘n Maand later met die studiegroep se afskeid, is Haanis soos ‘n ou
vriend by die vergadering verwelkom: Om opgeveil te word. Die
aand se afslaer het Haanis se lof as ‘n stoethaan met ‘n stamboek
tot in Kroonstad besing. Die laaste bod op Haanis is op R21 000 aan
Buurman toegeslaan!
So twee maande later het Buurman gerapporteer dat Haanis heel
vreemd vir ‘n haan opgetree het. Haanis het eers begin eiers lê,
daarna broeis geraak en toe sewe kuikens uitgebroei. Haanis was toe
al die tyd Haanetjie. Maar kan so ‘n Haanetjie vir jou suip! Buurman
sê as Haanetjie ys in ‘n glas hoor val, kom sy met sulke wye vlerke oor
die werf aangehardloop!
Groete op die Oosgrens.
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Haanis
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Mei 2018