DIE
GRAAN- EN OLIESADEBEDRYF
VAN SUID-AFRIKA – ‘N REIS DEUR TYD
ႄ
MEER AS ’N EEU
LATER IS GRAAN SA,
DIE BELANGRIKSTE
LIGGAAM WAT DIE
BELANGE VAN GRAAN- EN
OLIESADEPRODUSENTE
IN SUID-AFRIKA AAN
DIE BEGIN VAN DIE
21STE EEU BEVORDER,
STEEDS ’N ORGANISASIE
MET DIE BELANGE
VAN PRODUSENTE AS
HOOFFOKUS.
BEMARKINGSBEDELING
Die vorige
Kommersiële graanverbouing in Suid-Afrika het eers vanaf die
laaste gedeelte van die negentiende eeu momentum gekry na
die ontdekking van goud en diamante in die land. Aanvanklik
het ’n totale vryemarkstelsel gegeld, maar vanaf die vroeë
tot middel 1930’s was die bemarking van die meeste graan-
produkte in Suid-Afrika vir sowat 60 jaar lank onderhewig aan
statutêre beheermaatreëls, met beheerrade, skemas, poele
en ander intervensies deur die Staat.
Reeds voor die aanvaarding van die eerste wetgewing hieroor in 1938, was daar
hewige debat oor en kritiek teen die instellings van die maatreëls. Die debat het
nooit werklik opgehou nie en het uiteindelik in 1996 gelei tot die herroeping van die
statutêre beheermaatreëls en die terugkeer na ’n vryemarkstelsel.
ONTSTAAN VAN BEHEERDE BEMARKING
Die tydperk onmiddellik na die beëindiging van die drie jaar lange Tweede Boere-
oorlog tussen Brittanje en die Boererepublieke was gekenmerk deur bykans haglike
omstandighede in die boerderygemeenskappe van veral die destydse Transvaal
en Vrystaat – plase was verlate, die grootste gedeelte van Suid-Afrika se landbou-
grond was onbewerk en grootliks verwoes, die gesinslewe van landbouers was
wesenlik ontwrig en groot armoede het in boerderygemeenskappe geheers. Pro-
dusente moes in die meeste gevalle uit niks ’n begin maak, met uiters beperkte
hulpmiddels en baie primitiewe tegnologie en boerderymetodes.
Koöperatiewe beweging
Hierdie omstandighede was waarskynlik die grootste beweegrede vir die stigting
van koöperatiewe verenigings vanaf ongeveer 1908. Op daardie stadium het veral
mielieproduksie redelik vinnig en suksesvol toegeneem, maar produsente was
op hulself aangewese om hulle oeste te bemark. Hulle het oor die algemeen nie
baie besigheidservaring gehad nie en is deur gesoute handelaars uitgebuit. Dit
het met verloop van tyd gelei tot ’n bewuswording van die noodsaaklikheid om
koöperatief te beding en in 1908 is die Transvaalse Koöperatiewe Wet, 17 van
1908, aangeneem om vir die stigting en regulering van koöperasies voorsiening
te maak. In 1910 is ’n soortgelyke wet in die Oranje-Vrystaat aangeneem en in
1922 is die eerste koöperatiewe wet van die Unie van Suid-Afrika daargestel,
naamlik die Wet op Koöperatiewe Verenigings.
Dié koöperatiewe wette was in werklikheid die eerste stappe in die daarstelling
van beheerde bemarking. Die koöperasies, waarvan slegs produsente lede kon
wees, se hoofdoel was om ondersteuning aan produsente te bied in terme van die
bemarking van hulle produkte en die voorsiening van insetmiddels, voorligting
en later ook finansiering. Hoewel die Staat instrumenteel was in die stigting van
koöperasies deur die daarstelling van die eerste koöperatiewe wet, was die koöpe-
ratiewe verenigings van die vroegste dae af in werklikheid produsente-organisa-
sies: Die lede sowel as direkteure daarvan was almal bona fide-produsente.