120
Beste Grootneef
o
u Neef, dit klink of die Spaanse trein gaan sit. Dis nou
in die Daspoorttonnel. En die Du Toitsklooftonnel.
Eintlik klink dit of die nuwe treine oral gaan sukkel om in
te pas!
Dit laat my dink aan die ou wat vanmelewe sy roomkan-
ne met ‘n donkiekar na die Rustfonteinhalte karwei het. Van daar
is die kanne elke oggend op die melktrein na Bloemfontein. Voor
die stasie moes die donkiekar onderdeur die spoor. Die spruit het
egter die deurgang met verloop van tyd toegespoel. Toe, op een
vroegoggend, steek die donkie viervoet onder die bruggie vas, na-
dat sy ore teen die bruggie begin skuur het.
Die donkiedrywer het hot en haar probeer, maar die steeks donkie
het bly staan asof hy geplant was. Jy kon maar sê, soos Lot se
vrou wat in ‘n soutpilaar verander het...
Nou kyk, met die trein op pad en die room wat suur raak, het die
drywer uit radeloosheid begin om met ‘n stuk ysterklip twee
vore onder uit die betonbruggie te kap. Dít nou, sodat die donkie se
ore nie teen die bruggie sou skuur nie!
Die lawaai het gou die stasiemeester uit sy kantoor gelok. Dié
het met ‘n armswaai beduie dat die kappery nie geduld kan word
nie – die brug is immers staatseiendom! Hy
vra toe ook sommer die drywer hoekom
hy nie liewer die sand onder die brug
uitgrawe nie, dan sal esel se kind mos weer
maklik pas. Waarop die drywer toe met ‘n
kopskud en ‘n snork geantwoord het dat
die stasiemeester duidelik nie insig in die
probleem het nie. Dis die donkie se ore wat
skuur, nie die donkie se pote nie!
Ou Neef, dié week het ek ook die gevoel
gekry die trein-owerstes dink die volk het
nie insig nie. Dis nie die treine wat te hoog
is nie, dis die tonnels en kragkabels wat te
laag is!
So dink ek toe ook aan ‘n ander groot sit.
Dit was in die Kangogrotte neffens Oudts-
hoorn. Kyk, die bittereinders wie al deur
die “duiwel se skoorsteen” gekruip het
sal weet, dat net effe verder die grot in,
die “posbus” lê en wag. Die gids het die
dag ewe mooi beduie van “only letters,
no parcels”, maar een gesette tante wóú
daardeur. En daar sit sy toe wragtig vas...
Soos die donkie onder die brug, wou niks
vorentoe of agtertoe nie. Einde ten laaste
het Oudtshoorn se brandweer haar toe
met ‘n pot vaseline uitgewriemel.
Ou Neef, met die maak van enige plan moet daar gemeet en gepas
word. En as jy nie mooi weet nie, vra jy raad. Die moeilikheid
deesdae is egter dat elke tweede Jan Rap en sy maat hul uitgee as
“konsultant”. Dis nou om raad te gee aan die owerstes in die staat
wat van hul poste minder as ‘n kat van saffraan weet.
Nou ja, gegewe my uitgebreide ervaring in die tonnels van die
Kangogrotte, bied ek my advies gratis en verniet aan die trein-
owerstes wie se lokomotiewe nie pas nie. Voor elke rit moet die
manne ‘n 50 gelling drom ghries vooraan die lokomotief vas-
maak en dan kole gooi om enige tonnel met spoed te nader.
Daardie trein sal dan nes die tante in die grot, soos ‘n prop uit ‘n
sjampanjebottel dwarsdeur die tonnel vlieg!
Nou ja, danksy al die slim “konsultante” het ons nou duikbote wat
nie kan duik nie, vliegtuie wat nie kan vlieg nie en treine wat nie
pas nie.
Daar is darem altyd iets om voor dankbaar te wees...Want daar is
steeds braaivleis, rugby, sonneskyn, musiek op die draadloos en
skuim op die bier...
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Spaan se trein
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
September 2015