107
September 2015
AKTUEEL
Goeie arbeidspraktyke en
-verhoudinge in die kollig
E
en van die grootste uitdagings waarmee individue en be-
sighede tans in Suid-Afrika te doen het, is beurtkrag. Dit
beïnvloed die wyse waarop elkeen aktiwiteite beplan – hetsy
in die privaat lewe of in die besigheidsomgewing.
Landbou is nie alleen in hierdie stryd nie. Vanweë die kritieke tyd
waarin sekere aktiwiteite, soos besproeiing, oes, verpakking en
verkoeling moet plaasvind, kan landbou egter besonder hard deur
beurtkrag getref word. Indien beurtkrag dus op ‘n kritieke tyd plaas-
vind, kan dit tot groot verliese lei.
Omdat aktiwiteite rondom beurtkragskedules beplan moet word,
beïnvloed dit verskeie bedryfsvertakkinge, op maniere wat ons dalk
nie eers besef nie.
Volgens aanduidings gaan beurtkrag nie binnekort iets van die
verlede wees nie en sal elke werkgewer sy besigheidsmodel moet
evalueer en moontlike veranderings aanbring om die impak van
beurtkrag tot ‘n minimum te beperk.
Het iemand egter al gewonder hoe beïnvloed beurtkrag die werk-
gewer-werknemer-verhouding? Wat is die verantwoordelikhede van
elke party in die geval van beurtkrag?
Dit is belangrik om te onthou dat daar ‘n werkskontrak tussen ‘n
werkgewer en ‘n werknemer bestaan. In terme van gemenereg en
arbeidswetgewing is dit duidelik dat die twee partye wat verbind is
tot ‘n kontrak, ‘n verantwoordelikheid het om die kontrak na te kom.
‘n Werkgewer het ‘n verantwoordelikheid om arbeidswetgewing na
te kom sowel as om werknemers te vergoed soos ooreengekom,
terwyl ‘n werkskontrak stipuleer dat die werknemer die verant-
woordelikheid het om sy dienste aan te bied. Indien ‘n werkgewer
van ‘n werknemer verwag om sy dienste aan te bied op ‘n spesifieke
dag en tyd en die werknemer voldoen hieraan, moet die werkge-
wer ook sy verantwoordelikheid nakom om die werknemer daarvoor
te vergoed.
Beurtkrag kan dus nie as gronde gebruik word om die “geen-werk-
geen-betaling”-beginsel toe te pas nie.
Dit laat dan die vraag wat ek glo elke werkgewer sal vra: Wat van
die verlore produksie as gevolg van beurtkrag? Wel die werkgewer
het ‘n paar opsies.
Indien beurtkrag beplan word en die werkgewer is bewus van die
tye daarvan, kan hy met sy werknemers ooreenkom om werksure
te verander om voorsiening te maak vir die beplande beurtkrag.
Die werkgewer kan egter nie eensydig hierdie besluite neem nie,
maar moet dit met die werknemers onderhandel.
Die ander opsie is om die verlore produksie in te haal deur oortyd
in te stel. Dit laat die vraag hoeveel ‘n werknemer dan betaal moet
word vir oortydwerk om verlore produksie in te haal. Volgens
arbeidswetgewing word oortyd vir operasionele redes geag as
oortyd en moet die werknemer vergoed word vir genoemde oortyd
dienooreenkomstig die stipulasie daarvan.
Nog ‘n aspek wat in gedagte gehou moet word, is die verantwoor-
delikheid van ‘n werkgewer ten opsigte van die veiligheid van
werknemers oor die algemeen, maar nog meer so in die geval van
beurtkrag. Wat gebeur as ‘n werknemer wat in ‘n pakstoor werk, op
daardie oomblik op ‘n leer is en die krag gaan af? Wat gebeur as die
werknemer van die leer afval?
Of as die werknemer met masjiene werk wat afskakel as beurtkrag
begin – gaan die masjien outomaties weer aangaan as die krag
weer aankom? In terme van die Wet op Beroepsveiligheid en Ge-
sondheid is die veiligheid van werknemers by die werksplek die ver-
antwoordelikheid van die werkgewer en moet die werkgewer alles
in sy vermoë doen om insidente te voorkom en om ‘n veilige werks-
omgewing te skep.
In die geval van beurtkrag is dit nie anders nie. Die werkgewer sal
‘n deeglike risiko-analise moet doen, ook ten opsigte van alle
risiko’s geassosieer met beurtkrag. Daar sal dan prosedures ont-
wikkel moet word om die risiko’s of potensiële risiko’s tot die mini-
mum te beperk.
Laasgenoemde sal aan die werknemers gekommunikeer moet word
sodat elke werknemer kennis dra van wat van hom verwag sal word
ten tye van beurtkrag.
Na aanleiding van die inligting wat in die artikel verskaf is, is dit
duidelik dat die instelling van beurtkrag deur Eskom ‘n ander di-
mensie na die werkgewer-werknemer-verhouding bring wat ekstra
verantwoordelikhede op die werkgewer plaas. Dit bemoeilik die
omgewing waarbinne die werkgewer sy besigheid moet bestuur en
verhoog koste en aanspreeklikhede.
Dit is egter belangrik dat werkgewers weet wat van hulle verwag
word en om planne in plek te sit om die risiko’s aan te spreek en
aanspreeklikhede na te kom.
ELIZE VAN DER WESTHUIZEN,
senior bestuurder: Arbeidsverhoudinge, Agri SA
Die invloed van beurtkrag op arbeid in landbou
Reeks
Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke wat hulle op die plaas toepas
en wat vir hulle werk, met medeprodusente te deel. Stuur ‘n e-pos na
estiedv@mweb.co.zaen ons sal jou kontak.