4
k
an ‘n nat jaar in die noorde van die land net so katastro-
fies wees soos wat ‘n droë jaar is? Kan ons somer-
graanprodusente, wat insette teen belaglike wisselkoerse
moet aankoop, nog teen uitvoerpariteit winsgewend
wees?
Een droogtejaar se skuld word lankal nie meer in die daaropvol-
gende jaar afgelos nie. Die oplossing lê ongelukkig nie meer in
harder werk nie. Slimmer werk het ook beperkings.
Verlede jaar hierdie tyd was die droogte ‘n enorme realiteit. Klag-
tes oor beurtkrag is geopper en vyandigheid teenoor die landbou-
sektor is wyd ervaar. Tans bestaan die persepsie dat die droogte
met die draai van die seisoen verby sal wees. Daar is minder sim-
patie en meer hoop dat die “droogteprobleem” met die val van die
eerste druppels iets van die verlede gaan wees. Maar helaas, in
landbouterme weet ons dit reën nie gras of mielies nie. Hope harde
werk lê nog voor en belangrike produksiebesluite moet voor planttyd
geneem word.
Die gunstigste planttyd vir die oostelike streke het reeds sonder eni-
ge reën aangebreek en die mark speel wipplank met die mielieprys.
Sommige dae dink ek – en ek glo party produsente ook – met heim-
wee terug aan die Mielieraad. Al die energie was toegespits op die
mielieprys. Sodra dit vasgestel en goedgekeur was, kon die pro-
dusente al hul aandag aan die produksieproses gee. Klink eenvou-
dig as ‘n mens só daaraan dink.
Nou vang my oog die opskrifte in die koerante: Studente wat hul-
self (en ander) opvoeding ontsê, politici wat mekaar probeer ver-
woes ten koste van ons land en die ekonomie. Ek wonder waarop
die Minister vandag die mielieprys sou vasstel indien daar só ‘n
klomp gewelddadige betogers buite sy kantoor was?
Een van die groot sondes van apartheid was om mense van be-
hoorlike opvoeding te weerhou – dit wás verkeerd. Wat regverdig
dit vandag? Verkeerd bly mos verkeerd, of hoe? Met twee kinders
op universiteit het ek nogal gewonder of ek aan die einde van die
jaar van die klasgelde gaan terugkry?
Die graanbedryf beleef nou ‘n tyd van vele uitdagings. Groot be-
sluite moet geneem word. Daagliks word daar meer en meer on-
sekerhede in die “besluitnemingspot” gegooi en wanneer hierdie
konkoksie geroer word, is ek seker min mense sal regtig daarvan wil
hê. Ons planne is dalk minder, maar dit raak beslis nie op nie.
Somergrane word ook hierdie jaar met ‘n hele paar uitdagings ge-
konfronteer. Die wêreld se voorraadkamers is tot oorlopens toe
vol en die daaglikse nuus berig oor uitstaande oeste in die uitvoer-
lande. Somergraanpryse gaan onder groot druk kom. Ons sal waar-
skynlik nie alle beskikbare hektare vir produksie kan aanwend nie.
Op dié manier kan ons verseker dat die opbrengste van die goeie
hektare opmaak vir die laer pryse.
Graanboerdery in Suid-Afrika is nie vir sissies nie! Die hele graan-
waardeketting se krag word beslis in die vuuroond getroef. Die
geure wat nou uit die oond kom, sal aandui van watter stoffasie ons
gemaak is.
Die waarheid is dat ons redding eers verskyn as ons in die oond is
en nie terwyl ons buite staan en redekawel met dié wat regeer nie.
Daniël en sy vriende se geloof is heelwaarskynlik ‘n les vir vandag:
Selfs al sou ons God ons nie uit die vuuroond red nie, sal ons Hom
nog steeds dien.
Wanneer die stryd juis op sy felste is, is die oomblik nét voor die
uitkoms. Vasbyt, die uitkoms is naby!
Graanboerdery is nie
vir sissies nie!
JANNIE DE VILLIERS,
uitvoerende hoofbestuurder/CEO
“
Daagliks word
daar meer en meer
onsekerhede in die
“besluitnemingspot”
gegooi...
“
STANDPUNT
POINT OF VIEW
Graan SA
November 2016