Background Image
Previous Page  14 / 72 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 14 / 72 Next Page
Page Background

FOKUS

Geldsake en finansiële dienste

Spesiale

Mei 2016

12

Prysrisikoverskansing op

Safex in ‘n neutedop

S

edert die deregulering van die Suid-Afrikaanse graanmark

in 1996 en ‘n dramatiese verhoging in prysvolatiliteit, speel

die verskansing van prysrisiko toenemend ‘n groter rol by

verskeie rolspelers. Baie onsekerhede bestaan reeds en die-

selfde realiteite staar produsente vir die nuwe seisoen in die gesig.

Onsekerhede wat gewaspryse beïnvloed, sluit in plaaslike en

internasionale hektare aangeplant en produksie per hektaar (wat

bepalend is vir voorraadvlakke), plaaslike en internasionale weers-

toestande, internasionale pryse (wat in- en uitvoerpariteit beïn-

vloed), asook internasionale ekonomiese toestande – om slegs ‘n

paar te noem.

Daar bestaan egter ‘n wye verskeidenheid finansiële instrumente

op die South African Futures Exchange (Safex) wat spesifiek aan-

gewend kan word vir verskansingsdoeleindes. Hierdie instrumente

wissel van termynkontrakte tot opsies en die buigsaamheid van die

produkte bied aan markdeelnemers die geleentheid om hul kanse

met ‘n beter verskansingsbesluit te verbeter. Ten spyte hiervan, is

markdeelnemers steeds huiwerig om van die instrumente gebruik

te maak – weens verskeie redes, wat wissel van ‘n gebrek aan kennis

tot slegte ervarings in die verlede.

Definisies

Dit is noodsaaklik om ‘n begrip van die basiese konsepte van ter-

mynkontrakte en opsies te hê om die werking van die instrumente

te verstaan.

Termynkontrakte kan gedefinieer word as ‘n gestandaardiseerde

ooreenkoms tussen twee partye om ‘n gestandaardiseerde hoe-

veelheid van ‘n onderliggende kommoditeit te koop of te verkoop

teen ‘n spesifieke prys op ‘n spesifieke datum in die toekoms.

‘n Lang posisie word ingeneem wanneer ‘n afgeleide instrument

gekoop word en ‘n kort posisie wanneer ‘n afgeleide instrument

verkoop word.

Daar bestaan twee verskillende soorte opsies in die graanmark,

naamlik ‘n put- en ‘n call-opsie.

‘n Put-opsie kan gedefinieer word as ‘n kontrak wat die koper die

reg gee, maar nie die verpligting nie, om ‘n gestandaardiseerde on-

derliggende kommoditeit te verkoop teen ‘n voorafbepaalde prys

(trefprys) op ‘n voorafbepaalde dag (vervaldatum).

Daarteenoor is ‘n call-opsie ‘n kontrak wat die koper die reg gee, maar

nie die verpligting nie, om ‘n gestandaardiseerde onderliggende

kommoditeit te koop teen ‘n voorafbepaalde prys (trefprys) op ‘n

voorafbepaalde dag (vervaldatum).

Wanneer die posisie ingeneem word, word dit teen ‘n spesifieke

vlak gedoen, naamlik die trefprys. ‘n Opsie word beskou as “in die

geld” indien die markprys bo (in die geval van ‘n call-opsie) of onder

(in die geval van ‘n put-opsie) die opsie se trefprys is.

Indien die trefprys gelyk is aan die markprys, is die opsie “by die

geld” en word ‘n opsie as “uit die geld” beskou wanneer die mark-

prys onder (in die geval van ‘n call) of bo (in die geval van ‘n put) die

opsie se trefprys is.

Kortom, ‘n lang opsiehouer beskik oor die reg om ‘n opsie uit te

oefen voor of op die vervaldatum en sal hierdie reg in alle waar-

skynlikheid uitoefen indien die opsie “in die geld” is. Hierdie reg is

egter nie gratis beskikbaar nie en daar word ‘n premie betaal vir die

reg om die opsie te kan uitoefen.

Beide termynkontrakte en opsiekontrakte bied dus aan verskeie

rolspelers die geleentheid om prysrisikoverskansing op verskeie

maniere te benader. Die keuse van afgeleide instrument sal tot ‘n

groot mate verband hou met die rolspeler se beskikbare kontant-

vloei, kennis van afgeleide instrumente en risiko-aptyt. Hierdie

aspekte word vervat in die voor- en nadele van elke tipe afgeleide

instrument.

Voor- en nadele van afgeleide instrumente

Afgeleide instrumente is veelsydig en uitstekende instrumente vir

beide verskansings- en spekulasiedoeleindes, alhoewel dit belang-

rik is om te besef dat verskillende instrumente en strategieë ge-

bruik word om verskillende doelwitte te bereik.

Beide termynkontrakte en opsies is ‘n bekostigbare manier om toe-

gang te verkry tot die onderliggende kommoditeit sonder om dit te

koop, wat markdeelnemers toelaat om dieselfde winste (verliese)

te genereer as ‘n eienaar van die onderliggende kommoditeit met

slegs ‘n fraksie van die kapitaal en kostes.

Dit bly egter belangrik om te besef dat hierdie kleiner kapitaaluitleg

in die vorm van ‘n termynkontrakaanvangsmarge geensins verwar

moet word met die prysrisikoblootstelling van só ‘n kontrak nie.

Die koper (verkoper) van ‘n termynkontrak word nie vrygestel van

die onderliggende termynkontrak se prysverandering nie. Indien ‘n

termynkontrak gekoop (verkoop) word en die termynkontrakprys

styg (daal) is die koper (verkoper) van hierdie kontrak verskans teen

prysstygings (prysdalings).

Daarteenoor kan die termynkontrakprys daal (styg) en sal die koper

(verkoper) van hierdie kontrak moontlik onbeperkte verliese in

die gesig staar. Hierdie moontlike verliese sal egter eers ‘n risiko

word indien die koper (verkoper) van die termynkontrak nie tydens

die termynkontrakmaand lewering kan ontvang (lewering kan

maak) nie.

Die realiteit is dat ‘n termynkontrak ‘n vastepryskontrak is en dat

die koper (verkoper) van hierdie kontrak uit ‘n verskansingsoogpunt

slegs die Safex-kontrakprys sal realiseer ongeag of die prysbewe-

ging op die Safex-termynkontrak gunstig of ongunstig deur die loop

van die kontraktermyn beweeg het.

‘n Opsie beperk egter hierdie prysrisiko, aangesien ‘n opsiehouer

beskerm word teen ongunstige prysbewegings, maar steeds die

voordeel van gunstige prysbewegings kan benut. Opsies beperk die

opsiehouer se risiko tot die premie van die opsie en die spesifieke

SUSARI GELDENHUYS,

Senwes Graanmakelaars