

FOKUS
Saad
Spesiale
Maart 2017
46
Hoë opbrengs in goeie
en swak seisoene
D
ie LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) het ‘n nuwe droë-
landkultivar vir die Vrystaat geregistreer wat hoë opbrengs
en graankwaliteit in goeie en swak seisoene verseker.
ie vrystelling van Kubetu is deel van die LNR-KGI se voortdu-
rende strewe om koringverbouing meer kompeterend en volhoubaar
deur middel van hul teelprogramme te maak. Die produksie-
omgewing vir koring, wat deur ‘n produsent op sy plaas geskep
word, is egter die sleutel wat bepaal of die winspotensiaal van ‘n
kultivar ontsluit word of nie.
Die hoofboustene wat gunstige groeitoestande vir koringplante
skep, word gedefinieer in genoeg sonlig en koue, voldoende
voedingstowwe en voldoende beskikbare grondvog. Tydige en
korrekte grondbewerkings vir optimale vogbewaring en regstel-
ling van grondsuurheidsvlakke begin al maande en selfs seisoene
voor die tyd.
Hiermee saam moet ‘n koringprodusent ook noukeurige kultivar-
keuses maak en dan hou by die optimale plantdatums van die
spesifieke kultivars.
Opbrengspotensiaal
Die gemiddelde opbrengsrangorde van Kubetu in streekproewe in
die Oos-Vrystaat was tweede in die vroeë aanplanting van 2015 en
laat aanplantings in beide 2014 en 2015 en blyk goed aangepas te
wees vir beide plantdatums (
Tabel 1
).
Hierdie nuwe vrystelling neig na ‘n intermediêre groeitipe met ‘n
medium kouebehoefte. In die warm winter van 2015, waartydens
vele wintertipekultivars (langseisoengroeiers) nie genoegsaam kon
vernaliseer nie, het Kubetu steeds volkome oorgeskakel vanaf die
vegetatiewe fases na die reproduktiewe groeifases.
Winspotensiaal
Die potensiële winsgewendheid van Kubetu is uitstekend, aange-
sien hoë opbrengspotensiaal ondersteun word deur goeie graan-
kwaliteit. In die kwaliteitsevaluasies wat in 2014 en 2015 deur die
Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) gedoen is, vergelyk
Kubetu gunstig met Elands, wat die kwaliteitstandaard van droë-
landkoring in die somerreënvalgebied is (
Tabel 2
).
Die gemiddelde hektolitermassa van Kubetu is hoër, met die valge-
tal effe laer – wat dui op meer ensiemaktiwiteit en proteïeninhoud,
wat ook laer is as vir Elands.
Volgens die graderingstabel sou Kubetu egter steeds ‘n B1-graad
in beide 2014 en 2015 behaal het ten spyte van die laer parameters.
Hierdie kombinasie van hoë opbrengs en goeie kwaliteit is nood-
saaklik om hoë winspotensiaal (R/c) te verwesenlik (Sien
SA Graan/
Grain
April 2016, bladsy 58 tot 60).
Agronomiese eienskappe en
roesweerstand
Die gemiddelde koleoptiellengte van Kubetu is ongeveer 83 mm,
wat dieper plant in Oos-Vrystaat-gronde moontlik maak, maar ook
voordelig is in voorkoming van toewaai van saailinge in die Wes-
Vrystaat.
Kubetu se uitloopweerstand, wat by die LNR-KGI getoets word, is
in 2015 geklassifiseer met uitstekende weerstand teen uitloop in
die aar. Dit bied die bykomende waarborg van goeie kwaliteit in
nat oestye.
Roesevaluasies in 2016 (gedoen deur die Universiteit van die Vry-
staat) dui daarop dat hierdie kultivar matig weerstandbiedend teen
geelroes en blaarroes op volwasse groeistadium is.
Hoë graanopbrengs bly die primêre vereiste vir volhoubare koring-
produksie in Suid-Afrika. Dit is egter belangrik om te onthou dat
graankwaliteit, soos in die graderingstabel vir broodkoring uiteen-
gesit, saam met opbrengs die winsgewendheid van koring bepaal.
Kubetu voldoen aan beide vereistes en beloof om
koringprodusente in die somerreënvalstreek ‘n ge-
paste alternatief in kultivarkeuse te bied.
ROBBIE LINDEQUE,
LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem
Produk-inligting
Het jy geweet?
Kubetu is die naam van die Liebenbergvleirivier in
Sesotho. Dit is die voedingsaar vir water uit die Lesotho
Hooglandskema na die Vaalrivier. Die Liebenbergvleirivier
was tot voor die totstandkoming van die Lesotho-water-
skema slegs ‘n vloeiende spruit in die somerreën-val-
maande. ‘n Paar kilometer daarvan dien ook as die
oostelike grens van die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI).
“Kubetu” is die Sesotho naam vir die Liebenbergvleirivier – die
voedingsaar vir water uit die Lesotho Hooglandskema na die Vaalrivier.