Januarie 2016
16
OP PLAASVLAK
Grafiek 2: Geselekteerde Suid-Afrikaanse oliekoekinvoere.
Bron: Trade Map (2015)
GRAANMARK-OORSIG
Die grootste invoervolume is in 2012 aangeteken, met 840 173 ton.
Feitlik die helfte hiervan (399 327 ton) was palmolie-invoere (sien
Grafiek 1
). Die skerp toename in invoere is hoofsaaklik aangedryf
deur die toenemende vraag vanaf die kitskosbedryf en industriële
verbruik. Suid-Afrika produseer nie palm- en klapperolie nie en die
groot invoervolumes van hierdie produkte word waarskynlik deur
inkomstevlakke en bevolkingsgroei beïnvloed. Albei hiervan dui op
hoër verbruik van olie. Dieselfde faktore het ook die groei in invoere
van olyf- en raapsaadolie (kanola) aangevuur.
Suid-Afrikaanse oliekoekinvoere
Suid-Afrika voer steeds, as gevolg van ‘n groot plaaslike vraag na
veevoere, groot volumes oliekoek in. Hierdie vraag kom hoofsaaklik
vanuit die groeiende vee- en pluimveebedryf, wat weer aangevuur
word deur ‘n toenemende vraag na hoë proteïenvoedsel – veral in
die groeiende middelklas van die populasie. Die grootste invoere van
oliekoek is dié van sojaboon, sonneblomsaad, klapper, katoensaad
en palmpit. Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat die invoer
van hierdie produkte sedert 2012 as gevolg van die uitbreiding van
die plaaslike persaanlegte afneem (sien
Grafiek 2
).
Die afgelope vyf jaar was sojaboonoliekoek die grootste invoer-
produk in die Suid-Afrikaanse oliekoekmandjie en het ‘n gemiddelde
aandeel van 77% (766 505 ton) uitgemaak. Die grootste verskaffer
regdeur hierdie tydperk was Argentinië, met ‘n markaandeel van
99% in 2014. Katoensaadoliekoek was die tweede grootste invoer-
produk in die oliekoekinvoermandjie, met ‘n gemiddelde aandeel
van 11% (100 679 ton). Die grootste verskaffers was Zimbabwe,
Malawi, Benin, Indië en Zambië. Die derde grootste invoerproduk
was sonneblomsaadoliekoek teen 8% (83 811 ton). In 2014 was
die voorste verskaffer van hierdie produk weer Argentinië, met ‘n
markaandeel van 95% en totale invoere van 56 731 ton. Palmpit-
oliekoek het ‘n gemiddelde invoeraandeel van 4% gehad, met
Indonesië, Nigerië en Maleisië as die grootste verskaffers. Klapper-
oliekoek het ‘n aandeel van 0,3% (3 163 ton) gehad, met Mosambiek
en die Filippyne as die voorste verskaffers.
Invoervervanging in die olie- en
oliekoek-produksegment
Gegewe die struktuur en tendense in Suid-Afrika se oliesaad- en
oliekoekbedryf is daar twee belangrike waarnemings wat die aan-
dag trek. Eerstens, namate die aandeel van sojaboonolie-invoere in
die oorhoofse plantaardige olie-invoermandjie tussen 2010 en 2014
vanaf 35% tot 21% gedaal het, het die aandeel van sojaboonolie-
uitvoere oor dieselfde tydperk van 7% tot 53% gestyg. Intussen,
soos die aandeel van sojaboonolie-uitvoere gestyg het, het die
aandeel van sonneblomuitvoere vanaf 91% in 2010 tot 41% in 2014
gedaal. Oor dieselfde tydperk het Suid-Afrika van ‘n netto uitvoer-
posisie na ‘n netto invoerposisie vir sonneblomolie verskuif. Die ver-
skuiwing in Suid-Afrika se oliehandelstruktuur kan ‘n weerspieëling
wees van die mate van vervanging van sonneblomolie met soja-
boonolie in die oliesaadmandjie. Hierdie verskuiwing kan toegeskryf
word aan die beduidende beleggings in bykomende verwerkings-
kapasiteit in die onlangse verlede, wat in ‘n groot mate op sojaboon-
verwerking gemik was. Die perskapasiteit, wat sojaboon- sowel as
sonneblomolie kan verwerk (dubbeldoel-kapasiteit), word op tussen
48% en 57% van die totale geïnstalleerde kapasiteit geskat.