

48
Beste Grootneef
d
it is deel van elke mens se vesel
om iets na te laat om aan ont-
hou te word. Van die vroegste
tye af. Kyk maar na die Farao’s
van Egipte – hulle piramides
staan ná al die eeue steeds
buite Kaïro. Net so met die klomp Romeine
– hul colosseum in Rome beïndruk vandag
nog, ‘n Loftus uit Caesar se dae!
Die geskiedenis van die Farao’s en die
Romeine is letterlik uit klip gekap – en só kan
ons vandag nog op ‘n manier verstaan hoe
hul geleef en gedink het.
Gaan jy egter verder terug die eeue in,
kry jy bouvalle en strukture van voor
menseheugenis. Niemand weet hoekom ‘n
plek in Engeland soos Stonehenge gebou is
nie. Om daardie tonne klip staan te maak,
moes ‘n bomenslike taak gewees het. En vandag weet niemand eers
wie dit vermag het nie!
In ons eie landjie aan die suidpunt van Afrika, het die vroegste
inwoners ook daarvan gehou om hul merk te maak. Kyk maar onder
die holkranse en grotte, dan sien jy eeue gelede se skilderykranse.
Jagters met pyl en boog, olifante, elande en wat nog, uit vergange
se dae. Herinneringe uit die vroegste tye op klip vasgepen, wat die
toets van die tyd deurstaan het.
Stap ‘n mens deur valleie en berge, kan jy maar uitkyk vir die hoop
klippe op die hoogste piek. Elke reisiger van toeka tot nou, pak sy
klippie op die stapel, om daardeur te sê “Ek het dit gemaak”. En
om vir dié wat nog op pad is, te herinner aan wié reeds deur die
dal gereis het. Soms is dit ‘n dal van doodskaduwee, soms ‘n vallei
van verlatenheid. Ander kere weer is dit ‘n vallei van vreugde en
oorvloed wat anderkant die klipbaken gevind word. Dit is maar hoe
die lewensreis werk. Maar elk wat op sy lewensreis deur die kloof is,
het sy klippie met woord en daad op die lewensbaken gelaat.
Die mens se onthou, hou egter omtrent net vir drie geslagte voor-
dat dit in die vergetelheid verdwyn. Soos die verhale uit die boere-
oorlog. Oupa se ervarings op die ope velde, is nou bloot net ‘n
vae herinnering.
Die grootste bouwerk is egter nie altyd met klip en sand nie. ‘n Goeie
plan kan selfs langer hou as die grootste monument. Vlugvoetige
denke wat mense besiel, kan ‘n veilige hawe skep. Net so kan ‘n
vrot plan se geur egter ‘n leeftyd draal, voordat die gevolge daar-
van verdwyn.
Wense vir die nuwe jaar? Dat ons bouwerk met denke en dade die
toets van die tye sal deurstaan. En dat die planne wat ons maak en
die ervarings wat ons deel, ‘n veilige vesting sal bied.
Sodat die jong boere van môre wat ná ons kom, nie eendag in
verwondering staan en kopkrap en wonder wát die oumanne van
destyds met die hoop klippe wou doen nie. Maar dat dit ‘n baken van
hoop vir die nuwe geslag sal wees, ‘n baken van helder denke wat
‘n verskil gemaak het toe dit die nodigste was. Want 2015 gaan ‘n
moeilike neut wees om te kraak.
Geseënd ou Neef. Geseënd op die Oosgrens, so oor die Kerstyd.
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Om iets na te laat
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Desember 2014