

47
Merk hom met ‘n “X”
– die nuwe Nissan X-Trail-reeks
d
ie eerste Nissan X-Trail het in 2001 in Suid-Afrika
aangeland. Hierdie sogenaamde “oorkruis”-model het
dadelik die oog gevang met sy netjiese afwerking en
‘n binneruimuitleg wat jare vooruit was. Die term “oor-
kruis” verwys na ‘n voertuig wat tussen ‘n stasiewa en ‘n
sportnutsvoertuig val.
In 2007 het die tweede geslag X-Trail sy verskyning gemaak. Dit
het afgewyk van die vorige vierkantige voorkoms, met ‘n meer
vaartbelynde stilering. Die derde geslag X-Trail-reeks is in Oktober
vanjaar in Suid-Afrika geloods – met ‘n nuwe voorkant, nuwe
onderstel en met Nissan se jongste bobaas ekonomiese enjins
onder die enjinkap.
Nissan se hele idee met die nuutste X-Trail, is dat dit aantreklik
moet vertoon, prakties en ruim moet wees, maar dit moet veral aan
die X-Trail-eienaar ‘n pakket bied wat geen kompeteerder kan troef
nie. As ‘n mens kyk na wat die vlagskip in die reeks, die 1.6dCi bied,
dan het Nissan in sy doelwit geslaag. Hierdie voertuig is gelaai met
van die beste tegnologie om ‘n padvaste en veilige rit te verseker.
Daar is agt verskillende X-Trail-weergawes beskikbaar. Vier modelle
met petrolenjins en vier met die 1,6 liter-dieselenjin. Die vier
petrolenjins bestaan uit twee 2 liter-petrolenjinmodelle wat net met
voorwielaandrywing beskikbaar is en twee 2,5 liter-petrolenjins wat
op hulle beurt net met vierwielaandrywing beskikbaar is. Die vier
dieselmodelle gee jou die keuse tussen voor- en vierwielaandry-
wing. Die X-Trail 1.6dCi LE 6MT 4WD is die vlagskipmodel in die
reeks. Met al agt modelle kan jy ook kies of jy vir ongeveer R7 000
ekstra die ingeboude sewe-sitplek-keuse wil uitoefen.
Die 2.5 SE-petrolmodelle is net beskikbaar met Nissan se nuwe
gevorderde Xtronic CVT-ratkas, terwyl die res van die X-Trail-reeks
met ‘n sesspoed handratkas toegerus word. Diesel X-Trails het ‘n
hoëdruk 1 598 cc dieselinspuiting-enjin wat ‘n kraglewering van
96 kW teen 4 000 omwentelinge bied en ‘n wringkrag van 320 Nm
teen 2 000 omwentelinge opwek. ‘n Baie lae brandstofverbruiksyfer
van 5,3 liter/100 km is in die gekombineerde siklus te wagte.
‘n Grondvryhoogte van 209 mm is een van die X-Trail se ken-
merke en hy is 1,71 m hoog en 4,64 m lank. Hierdie syfers spreek
boekdele – dit is nie ‘n lae, plat, klein karretjie nie en as ‘n mens in ag
neem dat sekere modelle in die reeks ook permanente vierwielaan-
drywing het, dan weet jy dat hierdie meneer vir grondpaaie en
selfs die veld ook kans sien. Die X-Trail se vierwielaandrywing-
stelsel is van die mees gesofistikeerde tegnologie wat in die
wêreld van 4x4-aandrywing beskikbaar is. Hierdie alle-toestande-
stelsel beteken dat gevorderde elektronika aanvoel op watter
padoppervlakte die voertuig ry en dit outomaties aanpas tussen
twee- en vierwielaandrywing.
Dit beteken dat die X-Trail-modelle, wat met vierwielaandrywing
toegerus is, altyd die voordeligste kloukragverstelling het, ongeag
die toestande. In gewone toestande gebruik die X-Trail net
voorwielaandrywing wat ‘n verlies aan energie beperk en brandstof
bespaar. Sodra die stelsel egter waarneem dat een of meer wiele
begin gly, word ‘n middelkoppelaar in die agterste eindaandrywing
elektronies ingespan om aandrywing tussen die voor- en agterwiele
korrek aan te wend.
Die X-Trail het ‘n 5-ster NCAP-veiligheidsgradering. Veiligheids-
tegnologie wat in die hele modelreeks voorkom, sluit ses lugsakke
in, ‘n ABS-remstelsel, elektroniese remkragverspreiding, ‘n rem-
ondersteuningstelsel, voertuig dinamiese kontrole, heuwelweg-
trekondersteuning en elektroniese stabiliteitsprogram (ESP). Die
ESP-stelsel gebruik sensors wat aan die remme, stuur, wiele en
die romp self gekoppel is om die wyse waarop die motor bestuur
word, voortdurend te monitor. Die ESP reageer blitsig in ‘n noodge-
val en stuur die motor in die verlangde rigting deur die remme op
elke wiel selektief in te span om beheer te herwin.
Die binneruim is vol pakplekhokkies en die X-Trail spog met ‘n
magdom toerusting, waaronder kopligte en ruitveërs wat outomaties
aanskakel,
Bluetooth
-verbinding vir selfone, dubbelsone-klimaat-
beheer, elektronies beheerde vensters en buite truspieëls en klank-
kontroles op die stuurwiel, om maar net ‘n paar te noem.
‘n Verdere pluspunt is die rygemak. Anders as die ander sportiewe
nutsvoertuie op die mark, ry die X-Trail sag en gerieflik sonder dat
padbeheer ingeboet word. Selfs die tweewielaangedrewe vaar
soos ‘n tydrenmotor op grondpaaie. Met die groot sigveld wat die
bestuurder in hierdie voertuig geniet, is daar baie min blinde kolle
en dit maak hantering in rotsagtige terrein maklik en natuurlik
parkering en in trurat ry, kinderspeletjies.
Die X-Trail het die beste waarborgpakket in sy klas: Ses jaar/
100 000 km sowel as ‘n versieningsplan vir vyf jaar/90 000 km met
ingeslote padbystandsdiens.
Teen R327 700 kan jy die goedkoopste X-Trail in die reeks – die
2.0 XE 6MT – aanskaf. Die 1.6dCi LE 6MT 4Wd kos R473 600.
GERRIE SMIT,
lid van die SA Motorskrywersgilde
WIELE
vir die plaas
December 2014
Die X-Trail met vierwielaandrywing sien ook vir rowwe paaie kans.