• Login
  • Search Icon

Wolprodusente kan hulself met inligting bemagtig

October 2013

DR ANTONIE GEYER, LANDBOU-EKONOMIE, UNIVERSITEIT VAN DIE VRYSTAAT, PIETMAN BOTHA, PRIVAAT LANDBOU-EKONOOM EN JAN-LOUIS VENTER, NWKV VAN SA

Baie produsente hou rekords by, maar die rekords land jaarliks in of bo-op die kas, waar dit lê en stof opgaar. Tog kan daar so baie met hier die inligting gedoen word.

Die Universiteit van die Vrystaat se Eenheid in Lewende Hawe Ekonomie bedryf tans ‘n stelsel waar hierdie syfers verder verwerk en vergelyk word. In die opstel van hierdie artikel is dié syfers gebruik en daar word net na Merino skaapprodusente as voorbeeld verwys.

Die Merino bedryf het die afgelope paar seisoene ekonomies presteer. Met die ontleding van studiegroepresultate is dit baie duidelik dat die Merino met die wen-kombinasie van wol en vleis, baie goed gevaar het.

Vir die Merino produsent om werklik volhoubaar te wees, verg baie effektiewe bestuursvaardighede. Op plaasvlak is daar geweldig baie uitdagings en besluite wat die winsmarges dramaties beïnvloed. Die teelbeleid van die boerdery het ‘n reuse-invloed op die pryse wat vir produkte behaal word en dit bepaal weer die winsgewendheid van die stelsel waarin die produsent boer.

‘n Merino produsent se inkomste op beide wol en vleis is kritiek belangrik. Grafiek 1 toon die drie jaar gemiddelde wol-vleis-verhouding van alle Merino studiegroepe wat vergelyk is. Dit toon dat vir ‘n Merino produsent die totale inkomste uit 68% vleis en 32% wol bestaan. Die drie jaar gemiddeld in Grafiek 1 bevestig die algemene norm van 70% inkomste uit vleis en 30% inkomste uit wol wat algemeen gebruik word. Dit is belangrik vir Merino produsente om te let op die feit dat die wolprodusent dus ‘n belangrike vleisprodusent is en dat hierdie komponent nie afgeskeep moet word nie.

image

Wolproduksie bly egter ‘n baie belangrike faktor wat die inkomste van Merino produsente bepaal. Die studiegroepdata bevestig dat die wolinkomste ‘n groot gedeelte van die totale koste dek. Daarom word daar nie so baie vleisverkope benodig om die totale koste te dek nie en word die wins gewoonlik uit vleisverkope gegenereer.

Uit die vergelyking is die drie jaar gemiddelde wolproduksie vir Merino skape ongeveer 4,13 kg per dier. Dit is ook belangrik om die verhouding tussen wol- en vleispryse te vergelyk. Hierdie verhouding is ‘n aanduiding van waarop produsente moet konsentreer.

Suid-Afrikaanse Merinowol moet internasionaal met ander produsente vir markte meeding en daarom is dit noodsaaklik dat die Suid-Afrikaanse wolskeersel die internasionale standaarde handhaaf om daar te kan bly meeding. Internasionale vraag en aanbod en mode giere is van die prysbepalende faktore van wol wat ‘n reuse-invloed op wolpryse het. Die produsent moet weet wat die mark vra.

Sekere woleienskappe, soos fynheid, lengte, kwaliteit, skoonopbrengs en treksterkte is prysbepalend in die vryemarkekonomie. Die markprys is dus ‘n baie goeie aanduiding van die vraag wat deur die mark geskep is. Dit is dus die produsent se eie verantwoordelikheid om die produk aan te bied wat aan die vraag van die mark voldoen. Sodoende word die beste pryse behaal vir alle tipes wol.

Markinligting en markverwagtinge bly dus vir Merino wolprodusente baie belangrik. Dit is belangrik dat die Merino produsent hierdie faktore in aanmerking neem as ‘n teelbeleid vir die toekoms bepaal word. Produsente moet daarteen waak dat die verhouding van wol tot vleis nie versteur word nie.

Die bruto marge (BM) word bereken deur die direk allokeerbare veranderlike koste (DAVK) vanaf die bruto produksiewaarde (BPW) af te trek. Die direk allokeerbare veranderlike koste verwys na daardie koste wat direk na die spesifieke vertakking toegewys kan word (voer, dieregesondheid, vervoer, bemarking, skeer, pakmateriaal en los arbeid). Die bruto produksiewaarde verwys na die inkomstegedeelte van die vertakkingsontleding (produkinkomste – wol; handelsinkomste – vleis; en veeverkope en kapitaalverandering).

Die bruto marge van die Merino het die afgelope drie jaar dramaties toegeneem. Grafiek 2 illustreer dat die Merino se gemiddelde bruto marge vir die 2011/2012-seisoen, R604,80/KVE was. Dit is 13,59% beter as die vorige seisoen se bruto marge van R532,44/KVE. Volgens Grafiek 2 het die bruto marges van die Merino vanaf die 2008/2009-seisoen jaarliks beduidend toegeneem.

image image

Produsente weet dat daar lammers gebore moet word om diere te hê om te bemark. Die studiegroepresultate bevestig die feit dat reproduksie een van die belangrikste faktore is wat direk bydra tot die inkomste van enige dier. Die reproduksiesyfers lewer ‘n direkte bydrae tot die produkinkomste (wol) sowel as tot die handelsinkomste (vee- en vleisverhandeling). Die lampersentasie word bereken deur die aantal lammers lewendig gebore, te deel deur die aantal ooie gepaar uitgedruk as ‘n persentasie (%). Die Merino produsente se gemiddelde lampersentasie vir die 2011/2012-seisoen is 94,85%, wat 3,58% laer is as die 2010/2011-seisoen se lampersentasie van 98,37%. Die drie jaar gemiddelde lampersentasie is 96,66%.

Ongelukkig weet produsente dat alle lammers nie tot by bemarking kom nie en daarom is die speenpersentasie ‘n belangrike norm om te bestuur. Hoe hoër die speenpersentasie, hoe hoër sal die wins aan die einde van die jaar wees. Die speenpersentasie word bereken deur die aantal lammers gespeen te deel deur die aantal ooie gepaar uitgedruk as ‘n persentasie (%).

Die Merino produsente se gemiddelde speenpersentasie vir die 2011/2012-seisoen, was 83,41% met ‘n gemiddelde verlies van 11,45% vanaf lam tot speen. Die drie jaar gemiddelde speenpersentasie van alle Merino studiegroepe is 86,97% met ‘n gemiddelde verlies van 9,70% en dit los die vraag: Wat doen ander produsente om beter as die gemiddeld te vaar?

Om vandag steeds die boerdery-uitdagings sinvol te bemeester, is dit belangrik dat produsente hulself teenoor ander produsente meet. Hierdie inligting kan as rigtinggewend in die boerdery aangewend word en sodoende word ingeligte besluite geneem. Die studiegroepresultate gee ‘n baie goeie aanduiding van die ekonomiese drywers binne die wolskaapbedryf en strategiese besluite moet met hierdie inligting geneem word.

Alhoewel hierdie inligting wel belangrik is, moet Merino wolprodusente steeds weet hoeveel dit hul kos om te produseer. Indien almal oor hierdie inligting beskik kan hul sinvolle besluite neem oor wanneer wol bemark moet word en hoeveel hul reserwepryse moet wees waarteen wol verkoop moet word.

Indien daar verdere navrae is, of as jy wil deelneem aan die projek, kan Antonie Geyer by 082 653 3255 of Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Publication: October 2013

Section: Input Overview

Search