• Login
  • Search Icon

Wild as alternatief tot diversifisering op die saaiplaas

October 2013

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAAN

imageDiversifisering op ‘n graanplaas is nie ‘n nuutjie nie – produsente besef dat hulle hul risiko binne hul boerdery moet versprei. Interessant is dat al hoe meer graanprodusent deesdae ook ‘n wildsbeen in hulle boerderyvertakking het.

Om dié rede oorweeg Graan SA ook om by volgende jaar se Graan SA NAMPO Oesdag ‘n aantal uitstallers uit die wildsbedryf te plaas.

Volgens dr Peter Oberem, visevoorsitter van Wildlife Ranching South Africa (WRSA), het die wildsbedryf die afgelope dekade vinniger as enige ander vertakking in die landbou gegroei – tot soveel as 20% per jaar. Tans dra die wildsbedryf ongeveer R9 miljard tot die BBP van Suid-Afrika by. “Dit is meer as die bydrae van sommige van die ‘konvensionele’ vorme van landbou – soos die melkbedryf.

“Ons skat dat ongeveer 10 000 produsente oor die afgelope tien jaar hul plase in ‘n wild- of ‘n kombinasie wildsplaas omskep het, veral in die Vrystaat waar graanprodusente hul weiding, saam met hul mielies of ander gewasse op die lande, vir wild gebruik,” sê dr Oberem.

Volgens dr Oberem moet voornemende wildsboere besef dat daar baie meer in steek om ‘n finansieel volhoubare wildsplaas te vestig as bloot net die koop van ‘n plaas en om diere daarop te sit.

“Die hele proses moet wetenskaplik benader word. Begin deur jouself af te vra of die grond daarvoor geskik is, watter wild daar sal aard, watter aspekte van wildsboerdery daar beoefen gaan word, die drakrag van jou grond, en vele meer. Daarom is die WRSA daar om voornemende nuwe toetreders te help om die nodige hulp en toegang tot kundiges en ervare wildsboere te kry. Skakel gerus met ons,” nooi dr Oberem.

SA Graan/Grain het by twee graanprodusente, wat ook in eksotiese wild teel, gaan aanklop om meer uit te vind oor dié diversifiseringstak van hul boerdery.

imageElandré Breeders

Jan Grobler van Vierfontein is een van sewe telers van koperblesbokke in die land. Sy belangstelling in wild het in 1990 begin toe sy buurman se swart wildebeeste deurgebreek het na hom en hy hulle nie kon terugkry nie.

“Ek het die daaropvolgende jaar ‘n wildskamp op my plaas in die Vierfontein-distrik gespan en daarin witblesbokke, springbokke en gemsbokke gesit vir jagdoeleindes. Ek het egter gou besef dat dit nie ‘n goeie bron van inkomste gaan wees nie as dit op ‘n té klein skaal is nie,” vertel hy.

Grobler het in 2005 uitgebrei en nog ‘n wildskamp gespan, dit geëlektrifiseer met montering en koperspringbokke daarin gesit.

“As saaiboer het ek na verskeie wildsveilings gegaan en daar besef dat ‘n eksotiese wildsbeen in my bedryf ‘n ekstra inkomste kan genereer. In 2009 het ek besef dat daar ‘n groot aanvraag is na eksotiese wild.”

Grobler het al sy wild laat uitvang en begin spesialiseer in koperspringbokke en koperblesbokke – wat in daardie stadium ‘n baie skaars spesie was en wat die beste in sy omgewing en habitat geaard het.

“Beide spesies is tans hoog in aanvraag en ek spesialiseer om goeie genetika en standaarde na vore te bring en teelmateriaal aan medewildsboere te bemark,” vertel Grobler.

Volgens Grobler is daar baie graanprodusente wat in eksotiese wildslyne spesialiseer en hy glo dat die wildsbedryf in ‘n groeifase is omdat die aanvraag so groot is.

Wenke vir voornemende wildsboere

“As ek wenke kan gee aan saaiboere wat in die bedryf wil belê, is dit om seker te maak dat die spesie in jou omgewing en habitat aanpas. Maak ook seker dat wanneer jy teelmateriaal aankoop, dit by telers is wat al ‘n naam in die bedryf gemaak het.

“Die wildsbedryf is ook in streke ingedeel, waarvan WRSA die oorkoepelende liggaam is. My advies is om in te skakel by jou streek om sodoende die nuutste inligting aangaande die bedryf te kry,” gee Grobler advies.

imageSyncerus Buffels

Jaco Minnaar van Hennenman se wildsbeen in sy boerdery het sy ontstaan gehad uit ‘n ondersoek na alternatiewe beleggingsmoontlikhede en geleenthede om goeie kwaliteit Oos-Afrika buffels teen billike pryse te kan bekom.

“Esteties lê wildsboerdery my ook na aan die hart en die benutting van veld wat deur bosindringing bedreig word, was ‘n bydraende faktor. ‘n Verdere faktor is dat die kosprys van wild ‘n persoon in staat stel om op ‘n baie klein stuk grond vinnig en effektief te kan diversifiseer om die risiko’s ook binne boerdery te kan versprei,” vertel Minnaar.

Vir ‘n trop van tien buffels het ‘n mens in Minnaar-hulle se omgewing 60 ha weiding nodig, terwyl vir ‘n gelykstaande kapitaalbelegging in vee ‘n mens 400 beeste op 2 000 ha grond benodig.

 

 

image

Grafiek 1 dui die groei in kapitaal en wins met verkoop van diere, minus die koste van aankope en uitgawes aan.

Waar het dit begin?

Volgens Minnaar was hulle aanvanklik vier vennote in Syncerus Buffels – die naam waaronder hulle handel dryf. Sy neef, Danie Minnaar van Kroonstad, is ook saam met hom in die vennootskap.

“Die siening agter die vennootskap is dat ‘n klomp kapitaal beskikbaar is om eerder beter kwaliteit diere aan te koop en een topkwaliteit bul in plaas van vier as ons individueel sou intree,” verduidelik Minnaar.

Syncerus Buffels beywer hulle daarvoor om topkwaliteit buffels, wat met enige ander in die mark kan vergelyk, op veilings aan te bied. Hulle het twee kampe, een in die Hennenmanomgewing en die ander een in die Kroonstadomgewing.

“Buffels word hoofsaaklik vir teelmateriaal geteel, maar die swakker bulle wat nie potensiaal het nie, word verkoop om te jag. Ons laat nie self jag nie,” verduidelik Minnaar. Volgens hom het die keuse op buffels geval omdat daar verskeie beperkings ten opsigte van die teling en aanhouding daarvan bestaan. Die relatiewe beskikbaarheid van goeie genetika is baie beperk – baie meer as ander spesies.

“Buffels is ook baie gehard en aanpasbaar en die feit dat hulle nie selektiewe vreters is nie, maak hulle ook uiters geskik vir aanhouding in ekstensiewe kampe, alhoewel hulle relatief mak raak en wisselweiding wel toegepas kan word.

Bulkalwers word op ongeveer twee jaar ouderdom uit die trop verwyder en na ‘n tweede lokaliteit op die plaas geneem om uit te groei tot ongeveer ses jaar wanneer hulle baie naby aan hulle volle potensiaal is. Volgens Minnaar vind gedurige seleksie en vervanging binne die trop plaas.

Ander wild, soos njalas en elande, word ook op die plaas aangehou om te sorg vir beter benutting van alle habitatte op die plaas. Hierdie diere is meer selektiewe vreters wat veral die doringbome en indringerbos vreet en sodoende drakrag aansienlik verhoog.

In 2008 is die kudde se eerste diere aangekoop, waaronder twee koeie van oor die 37”. Minnaar-hulle het sedertdien swakker kwaliteit koeie afverkoop en met beter kwaliteit diere vervang, teen meestal dieselfde prys as gevolg van hulle naam wat reeds gevestig is en pryse wat aansienlik gestyg het. ‘n Bul is ook vanaf een van die bekendste telers in Suid-Afrika gekoop.

 “Dit voeg bepaald baie waarde tot ons kudde toe as gevolg van die kwaliteit van die bul, maar ook as gevolg van die verwantskap met die groot telers.

“Die sukses van kwaliteit-handelsmerke in die wildsbedryf het ons genoodsaak om as ‘n groep produsente ‘n gesamentlike wildsveiling van eksotiese wild aan te bied. KroonStud Wildtelers is uit hierdie gedagte gebore en ons beplan om jaarliks ‘n gesamentlike veiling van ses telers aan te bied.”

Uitstaande genetika

“Sewe uit die top tien trofeebuffelbulle is in Oos-Afrika – wat ‘n goeie aanduiding is van die uitstaande genetika waaroor die streek beskik en derhalwe die keuse om buffels aan te koop afkomstig uit die gebied,” vertel Minnaar.

Volgens Minnaar behoort alle buffels in Suid- Afrika aan dieselfde Syncerus Caffer subspesie. Daar word egter steeds in die mark onderskeid getref tussen hoofsaaklik drie genepoele, naamlik Kruger, Addo en Oos-Afrika.

Die Oos-Afrika bloedlyn is uit Europese dieretuine afkomstig wat in die vroeë tagtigerjare deur Suid-Afrikaanse besigheidsmanne ingevoer is. Hierdie diere het egter slegs in die onlangse verlede premies bokant ander genetika begin behaal.

“Op onlangse wildsveilings is rekordpryse soos volg behaal: Verse R4 miljoen, koeie tot R20 miljoen en ‘n 53” bul op ‘n onlangse veiling R40 miljoen. Die premies wat betaal word vir goeie genetika is dus fenomenaal,” aldus Minnaar.

Publication: October 2013

Section: Input Overview

Search