March 2014
WILLEM KILIAN, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem
Die vraag hierbo het nie slegs ‘n enkele korrekte antwoord nie. As die vraag gevra word oor tien kultivars, sal daar tien verskillende antwoorde wees.
Hoe word plantestand tans bepaal?
In die mieliebedryf is dit lank reeds die gebruik om die beplande plantestand in plante per hektaar uit te druk om voorsiening te maak vir die verskille in pitgewig.
Die pitgewig van mieliesaad kan wissel van 0,2 gram tot 0,4 gram; teen ‘n plantestand van byvoorbeeld 30 000 plante per hektaar, is die gewig van die saad enigiets tussen 6 kg/ha en 12 kg/ha. Dit is ‘n groot verskil en daarom word daar nie in die mieliebedryf gepraat van saaidigthede in kilogram per hektaar nie.
In die koringbedryf word baie berekeninge rondom plantdigtheid steeds gedoen in kilogram per hektaar. Dieselfde begin sel wat vir mieliesaad geld, is egter ook waar vir koring. Die probleem is dat koringsaad baie lig is – tussen 0,03 gram en 0,05 gram per pit. Die plantestand per hektaar is ook geweldig hoog en kan onder besproeiing tot meer as 3 000 000 plante per hektaar wees. Die orde van die syfers het waarskynlik daartoe gelei dat plantdigtheid in kilogram per hektaar as ‘n “maklike” uitweg beskou is en tans so gebruik word.
Groot foute kan gemaak word
Die gevare van die gebruik van plantdigthede in kilogram per hektaar is tweeledig van aard. Eerstens kan dit daartoe lei dat die opbrengs wat behaal word nie optimaal is nie omdat die plantestand te hoog of te laag is. Tweedens het dit natuurlik ‘n finansiële effek omdat te veel saad geplant kan word.
Navorsingsresultate
In navorsingsprogramme word die duisendkorrelmassa (DKM) van kultivars gebruik om plantdigtheid te bepaal sodat navorsers seker kan wees dat appels met appels vergelyk word.
‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Nasionale Kultivarevalueringsprogram. Alle kultivars in die verskillende produksiegebiede word in die veldproewe geplant teen ‘n spesifieke plantestand per vierkante meter. In die proses word die DKM van elke kultivar bepaal en die berekeninge word daarop gebaseer.
‘n Werklike voorbeeld van verskille tussen kultivars
Kom ons gebruik as ‘n voorbeeld die kultivarproewe in die Wes-Kaap in die 2013-seisoen. In Tabel 1 word die werklike DKM-waardes van al die kultivars wat in die gebied aanbeveel word en wat in die proewe aangeplant is, weergegee.
Die kultivars in die Swartland word almal aanbeveel teen ‘n plantdigtheid van tussen 100 kg/ha en 120 kg/ha. Indien ‘n mens die DKM van elke kultivar gebruik om die werklike plantdigtheid in plante per vierkante meter te bereken (Tabel 2), kan gesien word dat daar groot verskille tussen kultivars is.
Kultivar 1 se saadtoediening per vierkante meter is byna 50% meer as wat die geval is met Kultivar 11. Die aanbevole uiteindelike plantestand in die Swartland is tussen 175 en 200 plante per vierkante meter. Indien ‘n opkomspersentasie van 85% gebruik word, behoort die saadtoediening dus êrens tussen 205 en 235 plante per vierkante meter te wees. Alle kultivars met DKM-waardes van 45 gram en laer sou dus eintlik teen 110 kg/ha, teen té hoë plantdigthede geplant gewees het.
Die berekenings
In praktyk moet die DKM-waarde omgereken word na die kilogram saad van die spesifieke kultivar wat benodig word per hektaar om planterkalibrasies moontlik te maak. Die inligting wat benodig word, is die uiteindelike hoeveelheid plante per vierkante meter, die DKM en die oorlewings persentasie (ook genoem die opkomspersentasie). Die eerste twee faktore is direk beskik baar en die oorlewingspersentasie is ‘n funksie van die tipe planter en die grondtipe en dus plaas spesifiek.
Die formule wat in die berekening gebruik word, is soos volg:
Saaidigtheid (kg/ha) = | plant/m2 x DKM(g) |
|
oorlewings% |
Om die berekeninge te vergemaklik is die meegaande tabelle (Tabel 3 tot Tabel 5) opgestel, wat die hoeveelheid saad in kilogram per hektaar aandui vir ‘n spektrum van DKM-waardes en vereiste plantestande vir onderskeidelik ‘n 70%, 80% en 90% oorlewingspersentasie.
Wat word aanbeveel?
Alles in ag genome, maak dit weinig sin om enige koringaanplanting te doen gebaseer op ‘n plantdigtheid in kilogram per hektaar wat nie die pitgewig, uitgedruk as die duisendkorrelmassa (DKM), in ag neem nie. Die gevare is opbrengste wat laer is as wat deur die omgewing gedikteer word in die spesifieke seisoen en finansiële verliese as gevolg van te veel saad wat geplant word. Die DKM-waardes van gesertifiseerde saad word aangedui op die etikette (nog ‘n rede om gesertifiseerde saad te koop).
Gebruik dit om die plantestand meer akkuraat te maak. As ‘n mens kyk na die berekeninge wat gedoen moet word, is dit ook belangrik om jou planter beter te leer ken in terme van die uiteindelike plantestand wat realiseer.
Publication: March 2014
Section: Other Articles