• Login
  • Search Icon

WEES VEILIG – hier is wenke

October 2018

KARINA MULLER, SA Graan/Grain medewerker

"Plaasveiligheid is ’n uitdaging wat veel groter as ’n enkele organisasie, gemeenskap of owerheidstruktuur is,” aldus mnr Dan Kriek, president van Agri SA. Kriek sê in Agri SA se jongste verslag oor plaasveiligheid: “Die werklikheid van plaasaanvalle is skrikwekkend en ’n mens word geskok deur elke voorval – ongeag hoeveel maal jy daarmee gekonfronteer word”.

Die veiligheidslessenaar van Vrystaat Landbou (VL) het slagoffers van plaasaanvalle in dié provinsie ondervra en gevind dat aanvallers hulle vooraf deeglik dopgehou het en inligting oor hul roetine, hul honde en veiligheidstelsels gehad het. 

“Navorsing toon dat plaasaanvalle meestal goed beplan en uitgevoer word, dus word die moontlikheid van sindikate en georganiseerde groeperings nie uitgesluit nie,” sê dr Jane Buys, veiligheids- en risiko-analis van VL.

Volgens statistiek wat deur Agri SA bekend gemaak is, het die meeste plaasaanvalle die afgelope vyf jaar in die Noordwes Provinsie (24%) voorgekom, gevolg deur Gauteng (21%) en KwaZulu-Natal (15%).

“Tog staan die boerderygemeenskap nie alleen in die stryd teen misdaad nie en met ’n bondgenoot soos die Agri Securitas Trustfonds maak produsente steeds planne om hul eie en hul plaaswerkers se veiligheid te verseker. Die Trustfonds maak vir jare reeds ’n finansiële bydrae tot boereverenigings om hulle by te staan in die stryd teen plaasaanvalle en misdaad,” sê mnr Kobus Visser, direkteur: Landelike veiligheid en provinsiale sake by Agri SA.

Prof Rudolph Zinn van die Departement Polisiepraktyk aan Unisa en voormalige polisieluitenant, doen omvangryke navorsing oor residensiële rooftogte. Hier is enkele van sy bevindings:

  • Agt uit elke tien rooftogte word uitgevoer met die hulp van werkers en voormalige werkers.
  • Booswigte kan die huis vir so lank as twee weke dophou.
  • Die meeste aanvalle vind tussen 19:00 en middernag plaas, wanneer huismense TV kyk, kosmaak of ontspan.
  • 97% van die rowers is gewapen.
  • Gewapende bendes bestaan gemiddeld uit vier lede.
  • Enigiemand wat sigbaar welaf is (en ’n groot huis, duur juwele en spogmotors het) is ’n teiken.
  • Die gemiddelde inbreker is tussen 19 jaar en 26 jaar oud.
  • Gemiddeld 30% van alle aanvallers het voorheen gemoor of sal nie huiwer om te moor nie.
  • Slegs 17% van aanvallers is buitelanders.
  • Die gemiddelde rower is by 103 rooftogte betrokke voor hy in hegtenis geneem word.
  • Rowers word afgeskrik deur elektriese heinings, rigstrale (beams), geslotebaan-TV en klein honde binne-in die huis. Hulle word nie noodwendig afgeskrik deur alarms en gewapende reaksiedienste nie.

SA Graan/Grain het met kenners op dié gebied gesels en die volgende lys wenke uit die gesprekke saamgestel.

  • Bly binne en ontbied hulp as jy snags vreemde geluide buite hoor. Rowers wil jou uit jou veilige ruimte (blyplek) kry en doen dinge soos brandstigting of oopdraai van krane om jou na buite te lok. Skakel die binneligte af en gebruik nagsigapparaat om te kyk wat buite aangaan. Reageer vanuit jou veilige ruimte.
  • Ken jou bure en handhaaf goeie betrekkinge. Hulle is die naaste en kan jou die vinnigste bereik in geval van nood. Hulle kan ook sien as enigiets verdag voorkom. Sorg dat jy hul telefoonnommers ken.
  • Sluit aan by ’n buurtwag of -patrollie (veiligheidsnetwerk). As daar nie een in jou omgewing is nie, neem leiding en stig een.
  • Bly waaksaam. Moenie dink dat jy nie aangeval sal word nie; dit gebeur oral.
  • Mense op plase en hoewes het dikwels ’n vaste roetine. Dit kan positief én negatief wees. Verander jou roetine in jou onmiddellike omgewing van tyd tot tyd, maar onthou dat roetine in ’n gemeenskap daartoe kan bydra dat mense vir mekaar uitkyk. As jy en jou buurman byvoorbeeld elke oggend by mekaar verbyry, is dit gerusstellend en wanneer jy hom die dag nie sien nie, behoort jy ’n oproep te maak om te hoor of alles reg is.
  • Wees versigtig met die deel van inligting oor jou perseel en gewoontes. Huis- en plaaswerkers is dikwels ’n uitdaging, omdat hulle daardie inligting aan kriminele oordra. Dit is raadsaam dat werkers nie moet weet dat daar ’n kluis, wapens, kontant of enige ander waardevolle items in jou huis is nie. Daar was al gevalle in misdaadondersoeke waar foto’s van items soos kluise en alarmstelsels op die selfone van werkers gevind is – waar dié inligting aan aanvallers deurgegee is.
  • Moenie enigiemand in diens neem voor sy identiteit en agtergrond nie vasgestel is nie. Hou rekord van mense wat vir jou werk en sorg dat jy foto’s van hulle en afskrifte van hul identiteitsdokumente het.
  • Sorg dat die ondergroei van bome (naby die woning) skoongesny is, want dit kan ’n skuilplek vir misdadigers wees.
  • Gebruik gruis in jou erf of om jou huis as vroeë waarskuwingsteken.
  • Daar moet behoorlike beligting buite wonings wees.
  • Outomatiseer hekke – veral op kwesbare punte soos by die ingang na die plaas of woning. Dit verseker dat inwoners nie hoef uit te klim nie. In meeste gevalle sal dit nodig wees om sonpanele en batterybystand aan die hekmotors te koppel veral by verafgeleë hekke. Moet nooit onnodig lank by ’n hek vertoef nie – dit is die ideale plek vir ’n lokval. Moet nooit uitklim as ’n outomatiese hek nie wil oop- of toemaak nie. Dit kan ’n teken van ’n lokval wees.
  • Beskou sekuriteit in “lae”: Laag een is elektriese heinings en outomatiese hekke, laag twee buitebeskerming met kameras en laag drie beskerming binne die woning.
  • Werk ’n noodplan uit en maak seker elkeen in die gesin weet hoe hy of sy in geval van nood moet optree.
  • Indien jy iemand op jou eiendom betrap, moet daar ’n dossier by die polisie geopen word en ’n klag soos diefstal, betreding of poging tot roof gelê word.
  • Meld alle verdagte persone of voertuie by jou naaste polisiestasie of veiligheidsnetwerk aan.
  • Werkers of vreemdelinge moenie regstreekse toegang tot ’n erf hê om by ’n deur aan te klop nie. Bring ’n interkomstelsel by die hek aan. Te dikwels is plaasmense al oorval deur misdadigers wat voorgegee het dat hulle werk soek of iets wil koop.
  • Vergoed vertrouelinge wat inligting oor onwettighede verskaf en moedig werkers aan om inligting oor verdagte omstandighede bekend te maak.

Publication: October 2018

Section: Spotlight on farm Security

Search