November 2014
Beste Grootneef
Dikwels verenig die ganse nasie oor goed waarvan hulle nié hou nie. Niemand hou van tolhekke nie. Ook nie van die Aussies se rugby coach nie – dié suurpruim sê nooit dankie en geluk as hy teen die Bokke verloor nie. En niemand hou van toustaan nie. Veral nie vir water nie.
Ons het onlangs by die familie in die groot stad gaan kuier. Wat ‘n ellende. Elke man en muis moes met al wat ‘n hol ding is, in ‘n tou staan vir water uit ‘n tapkar. En net daar, in die watertou, leer mense mekaar beter ken. Met een gemenebes – niemand hou van toustaan nie. Veral nie vir water nie.
In die watertou het stories met die riemtelegram op en af gestroom. Soos, dat die kabels (alweer) gesteel is. Of, dat die watertafel gesak het – alles die myne se skuld. Of, dat iemand vergeet het om die pomp te diens. Nou pomp die pomp, maar hy wil nie pomp nie. Die “Illuminati”. Sabotasie...
Dít alles, terwyl die straaltjie uit die tenk al hoe flouer loop. Die man van die tapkar het ná die laaste druppel skouers opgehaal, die lorrie met ‘n dreun laat vat en is toe fort om iewers nog te gaan water haal. Die res van die waterdraers met hul plastiekkanne, het maar bly staan in die hoop dat die tapkar weer ‘n draai sal maak voor die son sak.
Nou kyk, daar was ‘n redelike gemoedelikheid oor die saak onder die tou waterwagtendes. Daar is mos ‘n ewige optimisme dat as jy volgende keer aan die kraan draai, daar water sal uitkom. Die gety het egter ná die derde dag gedraai op Drogeputs. Ek meen, basiese dinge soos ‘n ringsitting op witbank, was skielik ‘n krisis.
Die enigste ligpunt in dié droewige, droë storie, was dat Liekwar City later in die aande oop was. Waterdra is immers harde werk.
Buurman sê as die mense so staan en wag vir water, moet hulle sommer stem ook. Dan slaan jy twee vlieë met een klap, want almal staan reeds in ‘n tou. Ek wonder nogal wat die uitslag sou wees as dié waterdraers hul stemme nou kon laat hoor!
Nou dink ek so by myself. Vir water kan ‘n mens nog wag. Ek meen, ‘n mens hoef net een keer ‘n week te bad, al is dit nie nodig nie. Maar hoe wag jy vir brood en meel? Wat gaan ons mense maak as die goewerment se grondplanne naderhand maak dat ons nie meer koring en mielies kan plant nie en die brood- en meelpyplyn verstop?
Hoe dit ook al sy. Vanaand vat ek in die sielerus van die aandskemer op die Vrystaatvlaktes, ‘n glasie skoon windpompsjerrie. Boorgatsous uit die diepte van die aarde, elke dag 'n suiwer oesjaar. Met ys ja, met ys.
En dink met deernis aan die mense met plastiekemmers in ‘n tou, oë soekend na die laaste waterwa van die dag.
Groete op die Oosgrens.
Kleinneef
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.
Publication: November 2014
Section: Features