March 2016
PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker en ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain
Raak betrokke by die Droogteramphulpfonds
Vir navrae oor:
Droogte bring ook altyd iets goeds na vore. Ja, daar is baie slegte dinge wat gepaard gaan met ‘n droogte. Niemand ontken dit nie. Tog het hierdie 2015/2016-droogte ons weer eens laat besef hoe afhanklik ons van die natuur en ons Skepper is. Nie net die produsente nie, maar ook die insetverskaffers en gemeenskappe voel die effek.
Die Suid-Afrikaanse gemeenskap, produsente en buurmanne het saamgestaan en mededeelsaamheid getoon. Voer en water is op groot skaal na produsente in nood aangery.
Droogteramphulpfonds
Agri SA is sedert Augustus verlede jaar besig om aan verskeie fronte aandag te gee aan die erge droogte en ‘n taakspan is saamgestel om gebeurlikheidsplanne in samewerking met die regering op te stel.
Die Senwes en Agri SA Droogteramphulpfonds is in werking gestel en ’n fondsbestuursplan is ontwikkel om die toekenning van fondse volgens duidelike riglyne en voldoeningsmaatreëls in die provinsies te bestuur.
Produsente kan via hulle plaaslike boereverenigings by die Droogteramphulpfonds aansoek doen. Let wel: Produsente hoef nie lid van die boerevereniging te wees om aansoek vir fondse te doen nie.
Die organisasie help met die mobilisering en bewusmaking van die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap om voer en ander vorms van humanitêre hulp te skenk en om geldelik tot die Droogte ramphulpfonds by te dra.
Daar is veral van sosiale media gebruik gemaak om ‘n bewustheid onder die publiek te skep. Besoek gerus Agri SA, asook Christo van der Rheede (adjunk uitvoerende direkteur: Agri SA), se Facebookbladsy vir watter aksies deur die provinsies geloods is en ook om foto’s te sien van skenkings wat gemaak is.
Hand in eie boesem steek
Produsente is in hierdie tyd egter gedwing om self na hul besighede te kyk. “Waar gaan die geld heen? Watter nie-nood saaklike itgawes is daar? En hoe kan ons die uitgawes afbestuur?” is van die vrae wat gevra is.
Die droogte het tot gevolg dat die belangrikheid van die landbousektor weer onder die loep geneem is. Voedselpryse het die hoogte ingeskiet en kan nog styg. Wie het om te verkoop, sal die voor deel kry.
Finansiering
Wat finansiering betref, word die finansiële instellings, soos banke, deur streng regulatoriese maatreëls beheer. Dit maak dit vir die finansiële instellings moeilik om die kredietkriteria aan te pas. Tog het al die finansiële instellings gaan kyk hoe hulle die kredietverskaffingsmaatstawwe kan aanpas om nog steeds binne die regulatoriese reëls te pas en om produsente, waar moontlik, te kan help.
Volgens mnre Loffie Brand (ABSA) en Dawie Maree (FNB) kyk finansiële instellings op ‘n individuele basis na landbou en produsente. Verskeie opsies bestaan om produsente te help, soos byvoorbeeld herskedulering van lenings, kapitaalmoratoriums en konsolidasie. Hierdie opsies sal egter van individu tot individu verskil.
Daar word steeds gekyk na solvabiliteit, likiditeit en terug be taalvermoë. Dit sal die opsies bepaal. Finansiële instellings poog om kliënte sover moontlik te help sodat hulle kan bly produseer. Die finansiële instellings doen ‘n beroep op produsente om hul vroegtydig te besoek en hul finansiële sake te kom bespreek.
Insetverskaffers
Buiten dat insetverskaffers se verkope dié jaar nie so hoog was nie, voel hulle die effek van die droogte ook op ‘n ander manier: Baie voorraad is verlede jaar bestel, maar produsente het nie die middele kom koop om te gebruik nie. In dieselfde tyd het die internasionale pryse, as gevolg van die laer olieprys, begin daal met die gevolg dat die waarde van die voorraad onder skoot kom.
Hulpbronne
Voldoende reën gee lewe. Ons sien nou die effek van ‘n paar jaar se ondergemiddelde reënval in die natuur. Dit word mooi in Grafiek 1 en Grafiek 2 (wat die laaste klompie jare se reënvalafwykings van die gemiddelde reënval gee) aangedui. Dit is hoekom die natuurlike hulpbronne so swaar kry.
Die hulpbronne sal oor tyd herstel, maar dit moet bestuur word. ‘n Baie belangrike aspek wat die produsent ten alle tye in gedagte moet hou, is dat dit nie sommer net gras reën na ‘n droogte nie. In sekere dele is die weidingplant oor die drempel van oorlewing gestoot waar dele of selfs algehele graspolafsterwings plaasgevind het.
Indien die graspol dood is, sal die grasplante weer van saad af moet ontkiem, wat ‘n baie lang periode sal neem om tot volwassenheid te ontwikkel om weer volhoubaar te kan produseer. Die bestuur van die beweiding van die veld is daarom krities.
Volgens prof Hennie Snyman (Vee-, Wilden Weidingkunde, Universiteit van die Vrystaat) moet produsente besef dat die wei dingskapasiteit van sy plaas nie dieselfde gaan wees as voor die droogte nie en hy sal baie minder diere kan aanhou.
Die tempo van veldherstel is gekoppel aan opvolgreënval, terwyl veldbestuur, veebelading en veldtoestand ook baie belangrik is. Met swak veldbestuur, sal hierdie toestand voortduur vir ten minste die volgende jaar of twee of selfs langer.
Effektiewe weiveldbestuur is die wagwoord vir vinnige veldherstel sodat die plantbedekking weer tot normaal kan terug keer en optimale produktiwiteit kan hand haaf. ‘n Wetenskaplik-gefundeerde veld be stuurstelsel sal deel van die beplanning moet uitmaak – wat onder andere lang rusperiodes insluit.
Só ‘n weidingstelsel dien as vroegtydige waarskuwing om diere betyds te verminder. Hou altyd by ‘n veebelading in ooreenstemming met die veldtoestand en dus die veld se wei dingkapasiteit, terwyl aanpassings deur entyd volgens die reënval moet geskied.
Veld in goeie toestand kan slegs deur optimale weiveldbestuur oor die langtermyn verkry word en hierdie veld se weerstand teen droogtes is baie hoër as dié van veld wat normaalweg onder druk verkeer.
Hoe beter die toestand (gesondheid) van die weiveld voor die droogte, hoe vinniger sal veldherstel na die droogte weer kan plaasvind. As daar nie ‘n goeie beweidingstelsel vir die plaas bestaan nie, is dit nou ‘n goeie tyd om met een te begin.
Sosio-ekonomiese gevolge
Dit is so dat alles deesdae in rand en sent gemeet word. Die droogte het verseker ook ‘n reuse impak op alle produsente se sakke. Nie net die produsente gaan die effek voel nie, maar ook mevrou-dokter in Sandton en meneer-prokureur in die nuwe, mooi geboue in die ooste van Pretoria.
Die hele ekonomie is gekoppel en as dit in een bedryf sleg gaan, voel al die ander bedrywe dit ook. Die graanbedryf het die afgelope paar jaar hul produkte op uitvoerpariteitsvlakke aan die mark gelewer.
Met hierdie droogte het die prys sommer dramaties na invoerpariteitsvlakke gestyg. Verder is heelwat van hierdie produkte uitgevoer – wat die wisselkoers en betalingsbalans ondersteun het. Hierdie ondersteuning is weens die droogte weg en daar word verwag dat die wisselkoers hieroor nog meer kan verswak.
Volgens onlangse studies wat deur finansiële instellings gedoen is, kan verwag word dat die wisselkoers moontlik tot rondom R18 per dollar kan verswak. Die gevolg is dat inflasie gaan styg. Die Reserwebank het reeds begin om die rentekoerse te verhoog.
Ongelukkig gaan ‘n verswakking in die wisselkoers ons pro duksiekoste ook negatief raak. Inteendeel: Dit doen al klaar. Die effek van die lae oliepryse het ons in ‘n mate reeds verby gegaan en as die oliepryse begin styg, gaan ons lang krokodiltrane huil.
Die klein besighede op die platteland word net so erg soos die landboubedryf geraak. Met ‘n drastiese daling in die ekonomiese aktiwiteite, is die werkloosheid op die platteland weer en vinnig aan die styg. Dit is nie die internasionale besighede wat die mense op die platteland in diens neem nie, maar plekke soos die verfwinkel, die klein motorhawe, die kafee op die hoek en sulke onderneming wat in hierdie droogtejaar die spit afbyt.
Daar word algemeen gepraat van die voorwaartse en terugwaartse bindings in die landbousektor. Dit is só dat vir elke rand wat die saaibedryf maak, daar R1,27 is wat buite-om gemaak word. Neem dus die inkomste van ‘n klein dorpie weg, dan gaan ‘n mens ellende sien. Om jou werk te verloor en stapelvoedselpryse styg deur die dak, is twee klappe gelyk.
Invoerrealiteit
Dit is maklik om te sê: Voer in. Die vraag is: Van waar en teen watter prys en kan die infrastruktuur dit hanteer, maar nog meer kan die verbruiker dit bekostig?
Witmielie-invoere het vir seker sy uitdagings en dit teen ‘n prys. Maar hierdie invoere en droogte het beslis ‘n impak op die res van die ekonomie. Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) voorspel dat die land se reëlegroei met 3,38% van die gemiddeld van die afgelope drie jaar kan daal.
Dit sal ‘n negatiewe effek op die regering se spandering hê en die ergste is dat daar ‘n drastiese daling in die werksgeleenthede verwag kan word. Met ‘n daling in werksgeleenthede kan verwag word dat die misdaadsyfer sal styg.
As alles rondom die droogte saamgevat word, is daar nie baie positiewe punte nie. Die negatiewe aspekte is baie meer en almal in hierdie mooi land van ons gaan die gevolge daarvan voel.
Publication: March 2016
Section: Relevant