• Login
  • Search Icon

Waterverbruik van sojabone onder die loep

August 2016

ANNELIE DE BEER, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom

Waterverbruik van sojabone onder die loepDie beskikbaarheid van varswater is nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd onder enorme druk. Gevolglik raak die bestuur en benutting daarvan al hoe meer omstrede. Daar word beraam dat ongeveer 86% van alle varswater ter wêreld vir voedselproduksie aangewend word.

Die watervoetspoor van produkte sal dus al hoe belangriker raak. Daar word geskat dat die watervoetspoor van 1 kg dierlike proteïen ongeveer 1,6 tot twee keer hoër is as die produksie van plantaardige proteïen.

Sojabone (Glycine max) is een van die belangrikste bronne van olie en proteïen wêreldwyd. Sojaboonproduksie in Suid-Afrika het oor die afgelope aantal jare drasties toegeneem as gevolg van onder andere die verhoogde parskapasiteit (2 300 000 ton) wat ontwikkel is. Die sojaboonproduksie word hoofsaaklik gedryf deur die aanvraag na dierlike proteïen vir gebruik in die veevoerbedryf.

Gedurende die 2015-produksieseisoen het sojaboonproduksie in Suid-Afrika vir die eerste keer die 1 miljoen ton merk oorskry. Tydens die 2015/2016-seisoen het die produksie, as gevolg van die ernstige droogte, drasties gedaal wat gelei het tot 'n laer produksie per hektaar, maar ook omdat 26,8% minder oppervlakte aangeplant is.

Volgens die Oesskattingskomitee is daar slegs 502 800 ha aangeplant met 'n verwagte totale produksie van 691 750 ton. Slegs ongeveer 50 000 ha (± 10%) van die totale aanplanting word onder besproeiing verbou.

Die gewildheid van sojabone as deel van 'n wisselboustelsel neem toe as gevolg van die stikstofbindingsvermoë van sojabone sowel as die verbeterde grondstruktuur wat te wyte is aan die uitgebreide wortelstelsel van sojabone.

Vir beplanningdoeleindes is dit belangrik om te weet wat die totale waterbehoefte van sojabone is en die bestuursbesluite daarvolgens te neem. Die waterverbruiksdoeltreffendheid van sojabone wissel tussen 4 kg en 7 kg graan per hektaar per mm waterverbruik.

Laer opbrengste gaan gewoonlik met 'n lae waterverbruiksdoeltreffendheid gepaard, terwyl hoë opbrengste weer met 'n hoë waterverbruiksdoeltreffendheid gepaard gaan. Meer sojabone word dus per mm waterverbruik geproduseer in die geval van hoër opbrengste as in die geval van lae opbrengste.

Waterbehoefte van sojabone

Seisoenale waterverbruik van sojabone word, soos vir alle gewasse, deur die atmosferiese verdampingsaanvraag en die be skik baarheid van water in die grondprofiel bepaal. Indien die verdampingsaanvraag die toevoer van water (reën en besproeiing) oorskry, sal sojabone slegs die water wat redelik beskikbaar is, gebruik.

Die tekort veroorsaak dat die gewas dan 'n waterstremming ontwikkel – iets wat gereeld onder droëlandverbouing in Suid-Afrika ondervind word en 'n verlies in opbrengs tot gevolg het.

Sojabone se waterbehoefte sal deur die seisoen wissel na gelang van die weersomstandighede en die groeistadium van die plant wat meer of minder water vereis. Ongeveer 6 kg per hektaar per mm water vir saadproduksie kan vir beplanningsdoeleindes aanvaar word.

Om dus 'n opbrengs van 3 000 kg per ha te produseer, sal (3 000 kg per ha/6 kg per ha per mm water) = 500 mm water benodig word. Hou in gedagte dat atmosferiese aanvraag 'n invloed op waterverbruiksdoeltreffendheid het. Waterbehoeftes is dus hoër in gebiede met hoë verdampingsyfers.

Evapotranspirasie per definisie is die transpirasie van water uit plante asook verdamping/evaporasie van water uit die grond. Transpirasie op sigself is baie belangrik omdat opbrengs linieer gekorreleer is met die hoeveelheid water wat 'n sojaboonplant transpireer.

Kennis oor sojabone se waterbehoeftes verseker beter besproeiingskedulering en stel die produsent ook in staat om die regte kultivarkeuse te maak in die geval van droëlandverbouing.

Faktore wat evapotranspirasie beïnvloed

Die waterverbruik van sojabone word beide deur die weersomstandighede asook die groeistadium van die plant beïnvloed. Faktore om in ag te neem, is:

Weersomstandighede
Evapotranspirasie word beïnvloed deur die heersende lugtemperatuur, relatiewe humiditeit, wind en straling. Hoë temperature, lae humiditeit, wolkloosheid asook sterk wind verhoog die evapotranspirasieproses.

Tipe grond
Waterhouvermoë van die grond asook die heersende waterinhoud in die grondprofiel. Die plantbeskikbare water wat die grond kan hou (plantbeskikbare waterkapasiteit) is die maksimum water beskikbaar vir die plant wanneer die spesifieke grond veldkapasiteit bereik het (Tabel 1).

Waterverbruik van sojabone onder die loep

Faktore wat plantbeskikbare waterkapasiteit beïnvloed, is die grondsoort, organiese materiaal, worteldiepte en die digtheid van die wortels. Gronde met 'n hoër klei-inhoud en fyner tekstuur kan meer water hou, maar is moeiliker beskikbaar in tye van droogte. By veldkapasiteit is plante se watergebruik dus maksimaal.

Die gewas kan op 'n wye verskeidenheid gronde aangeplant word met die wete dat die risiko vir knopwortelaalwurm teenwoordigheid verhoog op sanderige gronde. Knopwortelaalwurm veroorsaak dat die plant nie behoorlik voedingstowwe en water deur die wortelstelsel kan opneem nie, met gevolglike oesverliese.

Sojaboonwortels is minder sensitief vir grondsuurheid as mielies en sojabone kan gevolglike droogtestremming in suurgronde beter oorleef as mielies. Gronde met 'n vlak watertafel verhoog ook die risiko vir versuiptoestande, omdat sojabone veral in die vroeër groeistadium meer vatbaar is vir versuiping.

Groeistadium van die plant
Die waterbehoeftes van die plant wissel na gelang van die groeistadium van die plant. Jong plante transpireer minder vanweë die kleiner blaaroppervlakte (Grafiek 1).

Waterverbruik van sojabone onder die loep

Sojabone se waterbehoefte is die hoogste vanaf blom tot en met die saadvulstadium. Die mid- tot laat reproduktiewe stadium is dus baie sensitief vir enige vogstremming. Dit is dus uiters be langrik om die korrekte kultivarkeuse, ten opsigte van die volwassenheids groepering, te maak na gelang van die verwagte reënvalpatroon van die gebied waarin die aanplanting gedoen word.

Die gewasfaktor dui die waterbehoefte van die gewas op die verskillende groeistadiums aan. Waterstremming by sojabone wys wanneer die jongste terminale blaar en later alle blare, na bo draai.

Groeiperiode
Die groeiperiode van 'n sojaboonkultivar word deur die volwas sen - heidsgroepering aangedui. Kultivars met 'n hoë volwassen heidsgroepering met byvoorbeeld 'n 6,5 sal meer water benodig oor sy totale groeiperiode as 'n kultivar met 'n volwassenheidsgroepering van byvoorbeeld 4.

Alhoewel kultivars met 'n hoër volwassen heidsgroepering meer water vereis, het dit ook die potensiaal om 'n hoër opbrengs onder optimale toestande te lewer.

Plantpopulasie
Hoër plantpopulasies vereis meer vog en daarom word laer plantpopulasies vir droëlandtoestande aanbeveel as vir besproeiing asook vir hoër reënvalgebiede. Sojabone beskik oor die vermoë om in die geval van lae plantpopulasies te kompenseer deur sy groei en ontwikkeling aan te pas deur meer sytakke en peule te produseer.

Deklaag en minimumbewerking
Minimumbewerkingspraktyke asook 'n goeie deklaag verminder die verdamping van vog vanaf die grondoppervlakte en verhoog ook infiltrasie van reënwater.

Aspekte van belang

'n Gesonde wortelstelsel wat water optimaal kan benut moet verseker word deur verdigtingslae op te hef en optimale voedingstofstatus in die grond te verseker. Sojaboonwortels is egter in staat om water tot 1,8 m diep te kan benut. Waak dus teen oor besproeiing omdat dreineringverlies kan plaasvind, veral vroeg in die groeiseisoen as die tempo van waterverbruik nog laag is. Langdurige versuiptoestande kan afsterwing van wortels laat plaasvind wat ook opbrengsverliese veroorsaak en siekte toestande bevorder.

Veral na die blomstadium sal hergroei van die wortels gewoonlik nie meer plaasvind nie wat opbrengs ernstig kan strem. Plant wortels het ook suurstof nodig wat nie moontlik is as grond oorbesproei of versuip nie. Die simbiotiese binding van stikstof word deur waterstremming negatief beïnvloed. Vroegtydige onkruidbeheer verseker hoër produksie en laer vogverliese as gevolg van waterver bruik deur on kruide. Sojaboonsaailinge is veral kwesbaar vier tot sewe weke na aanplanting.

Kennis van die waterbehoefte van sojabone stel dus bestuursriglyne vir produsente daar om 'n ingeligte kultivarkeuse te maak wat die waterbehoefte van sojabone in ag neem in vergelyking met die langtermyn verwagte totale reënval en verspreiding in die gebied.

Literatuurverwysings

Agriculture Victoria, 2015. Growing soybean. http://agriculture.vic.gov.au.
FAO, 2015. Crop water information - soybean. FAO Water - http://www.fao.org/nr/water/cropinfo_soybean.html.
Liebenberg, A. 2012. Sojaboonproduksiehandleiding. LNR-Instituut vir Graangewasse, Privaatsak x1251, Potchefstroom.
Monsanto, 2016. Soybean water use and irrigation timing. http://www.aganytime.com.

Publication: August 2016

Section: Focus on

Search