• Login
  • Search Icon

Water- en elektrisiteitstariewe: Impak op produsente

July 2012

image

DAWIE MAREE, SENIOR EKONOOM, AGRI SA

Die landbousektor en veral besproeiingslandbou, word swaar getref deur verhogings in geadministreerde pryse en veral met tariefverhogings vir water en elektrisiteit. Hierdie verhogings het natuurlik direk ‘n impak op produsente se insetkoste en dus ook winsgewendheid.

Watertariewe

Die watertariefbedeling is vir die landbou van groot belang aangesien sowat 1,3 miljoen hektaar deur kommersiële besproeiingsprodusente benut word en 120 000 permanente werksgeleenthede asook ‘n onbekende aantal seisoenswerkers, van die besproeiingsbedryf afhanklik is.

Sowat 250 000 tradisionele bestaansboere, waarvan die meerderheid deur vroue verteenwoordig word, is ook deel van dié bedryf. Ongeveer ‘n kwart van landbou se bydrae tot die Bruto Binnelandse Produk is van besproeiing afkomstig.

Hoewel die goedgekeurde watertariewe vir die 2011/2012-boekjaar van die Departement van Waterwese oor die algemeen ‘n styging behels, is daar ook verskeie positiewe aspekte vervat in die tariefbedeling. Onder andere is die maksimum toelaatbare stygings nie toegepas nie. In dié opsig behoort die hersiening van die prysstrategie so spoedig moontlik gedoen word, om groter deursigtigheid in dié verband te bring.

Volgens Agri SA se ontledings styg die waterinfrastruktuurkoste by sommige staatswaterskemas tot soveel as 20%. In gevalle waar die onderhoud- en bedryfskoste nog nie ten volle verhaal word nie, kan dié koste volgens ooreenkoms met die Departement, met soveel as 50% jaarliks verhoog word.

In hierdie gevalle het die onderhandelinge van georganiseerde landbou met die Departement van Waterwese dus ‘n wesenlike voordeel van tot soveel as 30% tot gevolg gehad. Alhoewel die waterhulpbronbestuurskoste in sommige van die 19 wateropvangsbestuursgebiede hoë persentasie stygings toon, is die werklike omvang van dié koste in die meeste gevalle nominaal. In die gevalle waar die waterinfrastruktuurkoste reeds ten volle verhaal word, is die verhogings van soveel as 20% egter buitensporig en nie in pas met die jaarlikse inflasiekoers nie.

Wat egter bemoedigend is, is dat die watertariewe by sommige skemas drasties gedaal het, wat daarop dui dat die verfyning van die Departement se berekeningsmetodieke begin vrugte afwerp. Die volledige uiteensetting van die tariefverhogings is beskikbaar op die webwerf van die Departement van Waterwese (www.dwa.gov.za).

Dit blyk egter dat die tariefberekeningsmetodiek nie deurgaans konsekwent toegepas word nie. Daarom moet met die hersiening van die prysstrategie toegesien word dat hierdie probleem aangespreek word om groter deursigtigheid in dié verband te bring. Volgens wetgewing is die Departement van Waterwese veronderstel om die prysstrategie elke vyf jaar in hersiening te neem.

Die prysstrategie is die laaste keer in 2005 hersien en effektief in April 2007 in plek gestel. Agri SA het reeds verskeie voorstelle aan die Departement gedoen oor hoe om die bekostigbaarheid van water aan te spreek aan die hand van internasionale beste praktyk. Ná wat verneem word, is die tender om die hersiening van die prysstrategie te fasiliteer, nog hangende.

Elektrisiteitstariewe

Elektrisiteit het die afgelope paar jaar een van die insetkoste geword wat die grootste stygings getoon het. Die laaste verhoging van gemiddeld 15,7% in die styging van elektrisiteitstariewe vir die landbou dra dan nog verder toe tot die stygende insetkoste van produsente.

Na regte kon Eskom ‘n tariefverhoging van ongeveer 25% gehef het, aangesien dit alreeds deur die Nasionale Energie reguleerder (Nersa) goedgekeur was. Alhoewel die tariefstyging 10% minder is, is die 15,7% styging steeds aansienlik meer as inflasie. Dit plaas uit die aard van die saak groter druk op produsente en ook regdeur die waardeketting op verbruikerspryse. Waar elektrisiteitskoste in die verlede minder as 10% van ‘n besproeiingsprodusent se insetkostestruktuur beloop het, het die afgelope paar jaar se stygings veroorsaak dat dit meer as 20% beloop.

Agri SA is al ‘n geruime tyd besig om in same werking met die Nasionale Landboubemarkingsraad, die Departement van Energie en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) te poog om deur middel van ‘n kabinetsmemorandum ‘n beter bedeling vir die landbou te beding in terme van elektrisiteitstariewe.

Ongelukkig blyk dit dat daar nie consensus bereik kon word binne die ekonomiese groepering van departemente insake die kabinetsmemorandum nie. Agri SA poog egter steeds om met DAFF, wat die verantwoordelike departement is, gesprek te voer om ‘n meer gunstige bedeling vir landbouprodusente te beding.

Belangrikheid van georganiseerde landbou

Die belangrikheid van georganiseerde landbou en bedryfsorganisasies moenie onderskat word wanneer ons praat van geadministreerde pryse nie. Agri SA, met die hulp van bedryfsorganisasies, soos Graan SA en andere, is deurlopend in gesprek met verskeie staatsdepartemente om die saak van die produsent te stel.

Hierdie is ‘n taak wat ongelukkig nie individueel aangepak sal kan word nie, aangesien die regering klem plaas op kollektiewe bedinging en konsultasie. Dit is debatteerbaar, maar vanuit georganiseerde landbou word die siening gehandhaaf dat indien dit nie vir georganiseerde landbou was nie, kon water- en elektrisiteitstariewe dalk meer gestyg het as wat tans die geval is. Die inligting wat deur bedryfsorganisasies beskikbaar gestel word aan Agri SA, is juis van onskatbare waarde in hierdie prosesse van konsultasie met die regering.

Sonder bedryfsorganisasies en georganiseerde landbou sal die produsent in Suid-Afrika ongelukkig slegs ‘n enkele stem in die woestyn wees.

Publication: July 2012

Section: Input Overview

Search