December 2013
DR ANNEMIE ERASMUS, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
Die Afrika stamboorder, Busseola fusca, is benoem en beskryf deur Fuller in 1901, maar so vroeg as 1891 is stamboorderskade alreeds deur J.B. Hellier in die Kaapkolonie gerapporteer as “die ruspe wat jong mielieplante aanval” en later as “‘n ruspe wat die koppe aanval”. Voor die gebruik van insekdoders was kulturele praktyke, soos om mieliereste in te ploeg of om stoppels te brand (Foto 1), die norm.
Sedert die 1970’s tot die 1990’s is ‘n meer geïntegreerde plaagbeheerbenadering gevolg. Tydens hierdie tydperk het navorsing op B. fusca ekologie ingesluit, insekdodertoedienings, tyd van toedienings, seisoenale motvlugte wat deur ligvalle gemonitor is, skade wat aanleiding gee tot oesverlies en monitering van motvlugte met sintetiese geslagsferomone ingesluit.
Die ontwikkeling van feromone (afgeskei deur wyfiemotte om mannetjies te lok) en feromoonvalletjies, het daartoe gelei dat motvlugte makliker gemonitor kon word om sodoende op die regte tyd insekdoders toe te dien. Tydens die 1980’s is drie afgebakende motvlugte per seisoen gerapporteer (Grafiek 1) – die eerste een in November, die tweede motvlug in laat Januarie en ‘n klein vlug in April, wat verskil van oos na wes as gevolg van die temperatuurgradiënt.
Hierdie motvlugte word vandag nog gebruik as riglyn, maar die vraag is: Kon dinge verander het as gevolg van klimaatsveranderinge, aangepaste plantdatums of ‘n toename in spilpunt aanplantings? In vergelyking met die eerste beheertegnieke, waar die spreekwoordelike wa nog voor die perde ingespan moes word, word daar vandag van ‘n enkele geen gebruik gemaak om stamboorders te beheer. Sedert die koms van geneties gemanipuleerde Bt-mielies om die drie belangrikste stamboorders, B. fusca, Chilo partellus en Sesamia calamistis te beheer, het insekdoders en die ontwikkeling daarvan minder aandag gekry.
Gedurende 1994 is verskillende events van Bt-mielies wat Cry-proteïene uitdruk vir die eerste keer in Suid-Afrika geëvalueer om stamboorders, B. fusca en C. partellus te beheer. Die mees effektiewe event wat beide B. fusca en C. partellus beheer het, was die event wat Cry1Ab-proteïene uitgedruk het. Kort daarna, in 1998, is die eerste Bt-mielies in Suid-Afrika gekommersialiseer.
Sewe jaar ná die vrystelling van Bt-mielies is die eerste teken van B. fusca oorlewing op Bt-mielies gerapporteer. Die swak aanplanting van toevlugsoorde was een van die hoofredes vir weerstandsontwikkeling, maar dit kan nie gesien word as die enigste oorsaak nie. Die riglyne vir die plant van die toevlugsoord is opsie 1: ‘n 5% toevlugsoord van nie-Bt-mielies waar stamboorders nie chemies beheer mag word nie of opsie 2: ‘n 20% toevlugsoord van nie-Bt-mielies waar chemiese beheer wel toegepas mag word. Hierdie riglyne geld vandag nog en moet toegepas word by Bt-mielie-aanplantings.
Ná die bekommernis van weerstandsontwikkeling, is daar gekyk na nuwe events wat wel die weerstandbiedende larwes kan beheer. ‘n Nuwe event wat Cry1A.105- en Cry2Ab2-proteïene uitdruk, is geïdentifiseer wat wel weerstandbiedende B. fusca larwes beheer wat in 2011 vrygestel is. Weerstandsontwikkeling het groot navorsingsvrae tot gevolg gehad wat veroorsaak het dat daar weer oor B. fusca se ekologie besin moet word om sodoende nuwe tegnologiese lewensduur te verleng. Die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG), in samewerking met die Noordwes-Universiteit, is tans besig om navorsingsvrae te evalueer en toegepaste navorsing te doen om moontlike antwoorde te kry.
Voordat Bt-mielies in Suid-Afrika aangeplant is, was chemiese beheer die steunpilaar van stamboorderbeheer. Die ekonomiese drumpelwaarde vir hierdie beheer is wanneer 10% van die plante in die land kelkskade toon. Eers dan sal dit ekonomies regverdigbaar wees om ‘n insekdoder toe te dien.
Die produsent moet dus nie al met die eerste tekens van stamboorderskade spuit nie. Aangesien ‘n groot deel van die lewensiklus van albei stamboordersoorte in die kelke deurgebring word en dit dáár relatief maklik deur insekdoders bereik kan word, is kelktoediening die doeltreffendste metode om stamboorders te beheer.
Produsente wil egter weet hoe stamboorders beheer moet word wat wel op Bt-mielies oorleef. Eerstens moet produsente hul Bt-lande monitor oor tyd vir stamboorderskade. Indien stamboorderskade waargeneem word, moet dit by die betrokke saadmaatskappy gerapporteer word.
Indien die produsent wel kennis dra van weerstandsprobleme in die betrokke omgewing sal dit wys wees om eerder gebruik te maak van die nuwe event wat Cry1A.105- en Cry2Ab2-proteïene uitdruk. Vir enige navrae, kan die LNR-IGG geskakel word by 018 299 6100.
Publication: December 2013
Section: Input Overview