• Login
  • Search Icon

Wat weet ons van boorvoedingstekorte by sonneblom?

June 2014

ANDRÉ NEL, LNR-Instituut vir Graangewasse

Boor is een van die mikro-voe dingselemente van plante. Mikro-elemente word in besonderse klein hoeveelhede opgeneem in vergelyking met die makro-voedings elemente, soos stikstof en kalsium.

imageSonneblom wat ‘n opbrengs van 1 ton/ha lewer, neem byvoorbeeld sowat 18 kg kalsium per hektaar op teenoor slegs 65 g boor per hektaar.

Van alle akkerbougewasse, is sonneblom die sensitiefste vir boortekorte en dit word deurlopend oor die leeftyd van die plant opgeneem. Boor word ondermeer in selwande ingebou en speel op dié wyse ‘n rol in die sterkte van die plantweefsel.

In teenstelling met ‘n voedingselement, soos stikstof, word boor as dit reeds in ‘n orgaan vasgelê is, nie weer gemobiliseer en na ‘n ander deel van die plant getranslokeer nie. Indien stikstoftekorte voorkom, word dit van ouer na jonger weefsel getranslokeer. Die vergeling van die ouer blare van mielies met ‘n stikstofgebrek is ‘n baie kenmerkende simptoom.

Boortekortsimptome word gewoonlik nie in die vroeë ontwikkelingstadia opgemerk nie, maar ontwikkel gewoonlik sodra die blomknop bo die blare verskyn. Tekortsimptome is die duidelikste sigbaar gedurende die blom- en vroeë saadontwikkelingstadiums. Sulke tekortsimptome wissel volgens die intensiteit van die tekort, die voorkoms van droogte, die kultivar en volgens planttyd en kan selfs binne ‘n land in verskillende grade voorkom.

Tekorte kom ook meer gereeld voor in dele met hoër reënval en gronde met ‘n hoër geloogdheid soos in die oostelike Vrystaat in teenstelling met dele met ‘n laer reënval. Die voorkoms van tekorte is dus moeilik voorspelbaar, behalwe dat ‘n droogteperiode tydens die laat vegetatiewe en vroeë blomontwikkelingstadia dikwels tot tekorte aanleiding gee weens onvoldoende opname uit die grond.

Boor word gewoonlik in die grond met die organiese materiaal geassosieer wat hoofsaaklik in die boonste 200 mm van die grondprofiel gekonsentreer is. Tydens ‘n droogteperiode word vog hoofsaaklik uit die dieper grondlae opgeneem en ontwikkel die plant maklik 'n boorgebrek weens onvoldoende opname uit die boonste grondlaag.

Indien ‘n plant nie genoeg boor uit die grond kan opneem nie, soos tydens 'n droogteperiode, ontstaan ‘n tekort in dié gedeelte van die plant wat op daardie spesifieke stadium aan die ontwikkel is. Die blare wat ontwikkel, bly klein en het ‘n liggroen kleur.

Die stam is verswak waar die tekort voorkom en breek maklik, wat aanleiding gee tot die baie kenmerkende nekbreeksimptoom. Dit lyk gewoonlik of die stam met ‘n skerp voorwerp afgesny is. Indien dit waargeneem word, kan geen regstelling op hierdie stadium meer gemaak word nie.

Die identifikasie en regstelling van ‘n boorgebrek voor die kritieke blomstadium, is dus belangrik en gevolglik moet lande gereeld besoek word. ‘n Boorgebrek kan met 'n blaarontleding bevestig word. Die heel boonste volwasse blare, sonder blaarstele, word gemonster en ontleed.

Blare (sonder die blaarsteel) wat met die aanvang van die blomstadium gemonster word, moet minstens 40 mg boor per kilogram droë materiaal bevat. Blare wat ‘n maand na-plant gemonster word, moet minstens 60 mg boor per kilogram droë materiaal bevat. Grond kan ook ontleed word om die boorinhoud te bepaal; 'n konsentrasie van 1 mg/kg - 4 mg/kg is gewoonlik voldoende.

Verskeie boorbevattende middels is beskikbaar en kan voorkomend of regstellend toegedien word. Die aanbeveling vir grond wat 15% klei of minder bevat, is 1 kg boor per hektaar; vir 16% - 30% klei is dit 2 kg boor per hektaar; en vir 31+% klei, is dit 3 kg boor per hektaar.

Oorskryding van die aanbevelings en onnodige toedienings moet vermy word aangesien boor baie gou toksies kan raak en opbrengste kan onderdruk. ‘n Boortoediening op 'n bepaalde sonneblomland kan die opbrengste van sensitiewe opvolggewasse benadeel.

Daarom moet boorbemesting met omsigtigheid hanteer word. In Australië word aanbeveel dat indien ‘n betrokke land met boor bemes is, dit vir verskeie jare daarna nie weer boor hoef te ontvang nie.

Publication: June 2014

Section: Input Overview

Search