May 2012
FERDI MEYER, DIREKTEUR, BURO VIR VOEDSEL EN LANDBOUBELEID (BFAP)
Die Suid-Afrikaanse landboubedryf het oor die afgelope vyf jaar uitstekend gevaar indien na die netto boerdery-inkomste (NBI) in reële terme gekyk word.
Nie net in die plaaslike mark nie, maar ook in die internasionale mark het die winsgewendheid van die landboubedryf betekenisvol verbeter. Netto boerdery-inkomste het in reële terme die vinnigste gestyg in drie dekades oor die periode 2004 tot 2008 en na ‘n kort daling in 2009, het winsgewendheid weer verhoog aan die hand van kommoditeitspryse wat rekordvlakke behaal het in 2011 en begin 2012.
‘n Kombinasie van makro-ekonomiese faktore tesame met weer en kritieke veranderinge in die beleidsomgewing, het aanleiding gegee tot hierdie stygende tendense. Die dramatiese uitbreiding in biobrandstofproduksie asook die vinnige ekonomiese groeikoers van ontluikende lande, soos Sjina, kan as hoofdrywers in die internasionale mark gelys word.
Afgesien van internasionale prysvlakke wat natuurlike binnelandse pryse ook laat styg het, het daar ‘n dramatiese skuif in die koopkrag van verbruikers in die Suid-Afrikaanse mark plaasgevind. Vanaf 2004 tot 2011 het die persentasie van die bevolking wat in die laagste Living Standard Measurement (LSM) groep val, gedaal van 35% tot 14%. Die gevolg was dat verbruikers hulle eetgewoontes kon aanpas wat gelei het tot ‘n skerp styging in die vraag na vleis en meer verwerkte kos. Die vraag na hoenders wat oor die afgelope dekade met meer as 6% jaarliks gegroei het, dien as ‘n sprekende voorbeeld.
‘n Natuurlike vraag wat onstaan as ‘n mens na historiese tendense kyk, is of hierdie winsgewendheidsvlakke volhoubaar is in die nabye toekoms. Die kort antwoord is: Waarskynlik nie.
Grafiek 1 illustreer die mees onlangse simulasies rondom boerderyinkomste wat deur die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) onderneem is, waar duidelik uitgewys word dat netto boerdery-inkomste in 2013 en 2014 daal en dan grotendeels sywaarts beweeg tot 2017. Daar is vanselfsprekend ‘n reeks aannames wat gemaak is om hierdie beeld te skep, waarvan die mees belangrike aanname op hierdie stadium sonder twyfel is dat gunstige reënvalsomstandighede internasionaal en plaaslik sal heers.
Om die prystendense oor die afgelope 18 maande te verduidelik, kan die impak van ongunstige weerstoestand in die VSA en Suid-Amerika nie genoeg beklemtoon word nie. Ondergemiddelde mielie-opbrengste in die VSA vir twee jaar agter mekaar, het wêreldvoorraadvlakke met meer as 20 miljoen ton laat daal en markte erg onder druk geplaas.
‘n Mens kan eenvoudig die koring- en mieliewêreldprystendense met mekaar vergelyk om die impak van lae voorraadvlakke te verstaan. In teenstelling met mielievoorrade wat gedaal het, het koringvoorraadvlakke gestyg. Die gevolg is dat wêreldpryse van mielies by tye selfs hoër verhandel het as koring, bloot omdat voorraadvlakke meer onder druk is. Teen hierdie vlakke is dit baie meer winsgewend om mielies te plant in plaas van koring in die gebiede waar beide grane verbou kan word. Die nuutste wêreldneigings is ook ‘n baie goeie aanduiding dat basiese ekonomiese beginsels op plaasvlak die relatiewe skuif in hektare teweegbring wat op die ou einde die prysverhouding tussen mielies en koring gaan herstel.
Aan die vraagkant is die afplatting in die addisionele vraag na mielies in die produksie van etanol, ‘n belangrike indikator om die toekomstige styging in die totale verbruik van mielies te bepaal. Sedert 2005, het die vraag na mielies vir die produksie van etanol, met 86 miljoen ton gestyg, terwyl die totale verbruik van mielies in die wêreld met 200 miljoen ton gestyg het. Dit wil se dat ‘n derde van die totale styging in die verbruik van mielies, aan etanolproduksie toegeskryf kan word. Amerika se verpligte inmengingsvlakke is bereik en tensy daar nie nuwe verhoogde vlakke aangekondig word nie, wat op dié stadium baie onwaarskynlik blyk, beteken dit dat die addisionele vraag na mielies vir etanol baie stadiger gaan groei. Die mees onlangse projeksie dui op ‘n styging van 20 miljoen ton oor die volgende dekade.
Om af te sluit, dit is nie realisties om te verwag dat die tendens in NBI presies soos in die grafiek aangedui word, gaan uitspeel nie. Die grafiek gee die gemiddelde mees waarskynlike uitkoms uit ‘n reeks moontlike scenario’s en as vir volatiliteit (risiko en onsekerheid) toegelaat word, wat ons almal in die landbou ken, dan is daar weer die tipiese stygings en dalings.
Dit kom egter daarop neer dat die gemiddelde uitkoms van al die pieke en trôe laer is as die vlakke waar landbou tans staan. Soos reeds genoem, gaan weerspatrone markte laat skommel. Die wisselkoers kan ook die prentjie dramaties anders laat lyk, wat bewys word deur die piek wat in 2002 in die NBI behaal is.
Die realiteit is dat ‘n swakker wisselkoers meestal nie volhoubare langtermynstygings in die NBI tot gevolg het nie, omdat insetkoste dienooreenkomstig styg vanweë die feit dat Suid-Afrika ‘n netto invoerder van landbou-insette is. Reuse-staatskuld en ‘n swak ekonomiese groeikoers by groot ekonomiese moondhede soos die VSA en die EU is ‘n realiteit wat met ons gaan wees vir ‘n hele klompie jare.
Met ‘n veranderlike beleidsomgewing is die vinnigste manier hoe dit markte beïnvloed, deur die relatiewe bewegings van die wisselkoers, soos wat die vertroue van ‘n land daal of styg. Tensy daar ‘n dramatiese ommeswaai in beleid plaasvind, lyk dit asof die wêreld se biobrandstofbedryf oor die volgende klompie jare nie naastenby teen dieselfde tempo gaan groei soos ervaar is die afgelope vyf tot ses jaar nie.
Soos met enige besigheid is dit die besluite in die goeie surplusjare wat gaan bepaal hoe die moeiliker tye hanteer gaan word. Dit is noodsaaklik om die produktiwiteit en effektiwiteit van die hele voorsieningsketting te verhoog. Dit strek van presisieboerdery en verbeterde genetika, tot infrastruktuurontwikkeling en die ontsluiting van plaaslike markte, veral in afgeleë gebiede om voedselsekerheid te verseker.
‘n Verdere kritieke drywer wat landbouvolhoubaarheid in die afsienbare toekoms gaan beïnvloed, is die toegang tot en beskikbaarheid van water. Landbou is in direkte kompetisie met mynbou en dit blyk asof mynbou tans die geveg wen. Produktiwiteit gaan egter nie net gepaard met besluite wat op plaasvlak geneem word nie, maar ook bedryfsinstansies en staatsamptenare wat daarna moet strewe om die produktiwiteit van ons bedryf te ondersteun en te verbeter.
Herinvestering is onontbeerlik en dit maak ‘n mens opgewonde om te sien hoeveel daar oor die afgelope klompie jare in nuwe tegnologie geïnvesteer is. Die suksesvolle uitbreiding van die sojaboonbedryf is ‘n goeie voorbeeld waar dit nie net gaan oor die uitbreiding van produksie nie, maar nuwe verwerkingsaanlegte wat nou daarop fokus om die regte kwaliteit aan ons plaaslike veevoermark te voorsien. Ten spyte hiervan, is politiese onsekerheid rondom grondhervorming en alles wat daarmee gepaard gaan, op hierdie stadium moontlik die enkele grootste faktor wat die herinvestering in landbou kan demp.
Publication: May 2012
Section: Input Overview