October 2014
PIERRE VAN ROOYEN, SA Stamboek
Presisieboerdery in die saaibedryf is lank reeds nie meer 'n nuwe begrip nie – dit is eenvoudig ‘n staande praktyk ter wille van oorlewing.
In die veebedryf het dit ook nou ’n bepalende faktor geword en word algemeen aanvaar dat veeprodusente wat nie daadwerklike pogings gaan aanwend om hulself in hierdie verband te skool en in te rig nie, dit kort voor lank moeilik gaan vind om te oorleef.
Presisieveeboerdery gedefinieer?
Dit is die effektiewe aanwending van alle beskikbare hulpbronne, inligting en tegnologie wat kan lei tot die minimalisering van risiko’s en die maksimalisering van wins. Die doelwit van 'n kommersiële veeprodusent behoort te wees om hulpbronne waaroor hy beheer het, só te bestuur dat hy ‘n kudde vroulike diere het wat aangepas is in sy omgewing en elke jaar 'n swaar kalf relatief tot die ma se gewig, speen.
Die stoetteler daarenteen, wil afgesien van bogenoemde, ‘n nageslag produseer wat gemete meerderwaardigheid toon – met ander woorde ‘n nageslag wat geneties beter is as hul ouers vir die verskillende produksie-eienskappe wat ekonomies belangrik is. As produsent van verbeterde genetika, het die stoetteler eerstens ten doel om meerderwaardige gene aan medestoettelers te voorsien en tweedens genetika aan die breër kommersiële produsent wat laasgenoemde weer in staat kan stel om hoër produksiepeile van vleis, melk en vesel te bereik.
Die produksie van geloofwaardige, hoëwaarde genetika, is vir die stoetteler slegs moontlik indien hy in sy teeltbeleid die betroubare aantekening van geboortes, ouers en eienaarskap tesame met produksiemeting met ‘n diere-aantekeningstelsel op ‘n betroubare databasis, toepas. Om egter presisieboerderypraktyke toe te pas om ‘n suksesvolle produsent te kan wees, sal slegs moontlik wees met 'n positiewe ingesteldheid teenoor boerdery.
Om tans, in die omstandighede waarin boerdery in Suid-Afrika bedryf moet word, by die veebedryf betrokke te kan wees, is opsigself ‘n groot rede om positief te wees vergeleke met van die probleme waarmee ander boerderyvertakkings worstel. Kyk 'n mens na die globale ekonomiese toestande van die afgelope paar jaar, is dit verblydend dat die veebedryf beslis nie die negatiewe klimaat tot dieselfde mate as ander sektore ervaar het nie. Vleispryse het tot ‘n groot mate gestabiliseer, die droogte van die afgelope jaar ten spyt en alhoewel speenkalfpryse basies dieselfde is as tien jaar gelede, maak diegene wat op presisieveeboerdery ingestel is, wel nog ‘n bestaan aangesien hulle meer koste-effektief kan produseer.
As gelet word op die inligting in Grafiek 1, is dit duidelik dat, ten spyte van ‘n progressiewe verhoging in produksie sedert 2006, daar nie voldoen word aan die stygende verbruik van rooivleis nie en is Suid-Afrika steeds ‘n netto invoerder van rooivleis.
Dit is dus duidelik dat die veebedryf dié sektor in die landbou is waarby dit goed is om betrokke te wees, want enige landbouer is in ‘n voordelige posisie as hy ‘n produk produseer waarvoor daar 'n tekort is.
Vir beesboerdery byvoorbeeld, is die kapitaalbelegging in rand per hektaar, omgewerk na per GVE, laer as vir enige ander landbouproduk in alle streke. Dit word verder aanvaar dat die ekonomiese waarde van appresiasie van vee in vergelyking met die depresiasie van trekkers en implemente, nie onderskat moet word nie.
Hoeveel saaiprodusente sal nie daarvan kan getuig dat hul vee hul deurgehaal het in 'n seisoen wat die saaiery hulle in die steek gelaat het nie? Die veebedryf met al sy produkte maak 43% van die bruto binnelandse produk (BBP) van landbou uit. Die res word deur al die ander landbouprodukte saam, opgemaak. Die veebedryf is dus inderdaad die ruggraat van die Suid-Afrikaanse landbou.
Een van die grootste gevare vir enige produk is egter dat daar 'n behoefte geskep word waarin nie voorsien kan word nie. Dit word beraam dat 73% van Suid-Afrika se grond slegs geskik is vir veeboerdery. Groot dele is semi-aried en selfs aried en het gevolglik ‘n lae produksiepotensiaal. Vee is in elk geval al waarmee in hierdie gebiede geboer kan word.
Hierdie positiewe aanwysers in die veebedryf is egter geen waarborg dat veeboerdery inderdaad in die medium en lang termyn winsgewend sal bly nie. Die gemiddelde vlak van produksie van die nasionale kudde is eenvoudig nie tekenend van ‘n volhoubare besigheid nie. Daar is ‘n groot deel van ons veeprodusente, stoet sowel as kommersieel, wat rekord hou, meet en selekteer en suksesvol produseer.
Daar is egter ongelukkig ‘n veel groter groep wat dit nie doen nie en wie se diere ondergemiddeld produseer. Met 'n beraamde nasionale kalfpersentasie van byvoorbeeld onder 60%, is dit duidelik dat daar ‘n groot probleem met produktiwiteit in ons nasionale kudde is.
Hierdie is ook ‘n groot uitdaging vir die bedryf. Insetkoste, ook vir die veeprodusent, het so 'n vlak bereik dat dit eenvoudig nie meer moontlik is om suksesvol of selfs lewens vatbaar te bestaan met diere wat ondergemiddeld reproduseer en produseer nie. Die per kapita verbruik van rooivleis is geleidelik besig om te styg, soos duidelik blyk uit Grafiek 1.
Dít, tesame met die feit dat die aanvraag verder styg weens die bevolkingsaanwas en die toename in persone met ‘n hoër inkomste, skep ‘n groter tekort as wat in elk geval ervaar word. Die enigste manier waarop daar in hierdie vraag voorsien kan word indien binnelandse produksie nie verhoog nie, is om óf na alternatiewe soos hoendervleis te swaai, óf om meer vleis in te voer. Wat ‘n uitdaging en wat ‘n geleentheid! Hierdie geleentheid moet aangegryp word om, nie net meer nie, maar meer doeltreffend te produseer tot so ‘n mate dat daar nie na ander opsies gekyk hoef te word nie.
Daar sal egter slegs aan hierdie uitdaging voldoen kan word indien:
Dit is alleenlik moontlik indien daar met die regte diere op die regte plek en op die regte manier geboer word – dus, presisieboerderypraktyke.
Beslis ook vir die veebedryf?
Daar is vandag beswaarlik ‘n saaiprodusent wat ‘n redelike bestaan maak wat nie presies weet wat sy grondsamestelling is en wat presies hy moet aanvul vir ‘n spesifieke opbrengs met ‘n spesifieke saadkultivar nie. Verder bepaal hy presies hoeveel kunsmis per hektaar hy moet toedien, presies hoeveel saad per hektaar geplant moet word, hoe diep geplant moet word in die spesifieke grondtipe en les bes, monitor hy dit presies, want hy kan eenvoudig nie bekostig om een sak kunsmis of een kilogram saad te veel of te min neer te sit nie.
Daarvoor is die risiko’s wat hy nie kan beheer nie, te groot en die marges te klein. Daarom moet hy die beheerbare risiko’s met al die hulpmiddels tot sy beskikking, optimaal bestuur. As prysnemers, is die Suid-Afrikaanse produsent in ‘n baie moeilike posisie en moet hy alles moontlik doen om die risiko’s waaraan hy niks of weinig kan doen nie, sover as moontlik te verskans deur dié wat hy wel kan, te beheer.
Dit geld beslis ook vir die veeprodusent – stoet sowel as kommersieel. Dit blyk egter dat hierdie beginsel nog nie deurgedring het tot die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaanse veeprodusente nie, as in ag geneem word dat slegs ongeveer 15% van alle suiwelbeeste in melkaantekening is, slegs ongeveer 5% van alle vleis beeste vir produksie aangeteken word en die kleinveeproduksie-aantekening amper nie noembaar is in verhouding tot die totale kleinveebedryf nie.
Die toekomstige suksesvolle veeprodusent, stoet sowel as kommersiële produsent, sal minstens die volgende moet doen:
Hierdie programme en dienste verwerk alle gemete inligting tot bruikbare gegewens, verslae en selfs BLUP-teelwaardes (stoettelers) vir die identifikasie van die mees produktiewe en winsgewende diere vir seleksiedoeleindes. Dit is verder belangrik dat die progressiewe veeprodusent toegang het tot diensverskaffers wat op hoogte is van die nuutste tegnologie en veekundige teelhulpmiddels, soos byvoorbeeld genomiese ontledings wat reeds besig is om ‘n omwenteling in teling en seleksie in die praktyk, teweeg te bring.
Genoemde dienste is beskikbaar vir alle stoet en kommersiële produsente, waar van toepassing, en daar is genoeg bewyse dat dit die enigste wyse is waarop presisieboerdery betekenisvol bedryf kan word, risiko’s beperk kan word en die beste kans dus gebied word tot langtermynwinsgewendheid in veeboerdery. In Grafiek 2 word aangetoon hoe ‘n ras wat verpligte produksie-aantekening doen, oor jare (1975 - 2013), met behulp van die sinvolle toepassing van produksiemeting as hulpmiddel, daarin geslaag het om die genetiese tendense vir speengewig, na-speengroei en melkproduksie, betekenisvol te verbeter, terwyl geboortemassa konstant gehou is. In dieselfde tyd het volwasse gewig wel ook verhoog, maar nie tot nadeel van die ander eienskappe nie.
Wat verder van groot ekonomiese waarde is, is dat die ouderdom van die eerste kalwing en tussenkalf-periode (vroulike vrugbaarheid), oor dieselfde periode in dieselfde ras, ook betekenisvol verbeter het (Grafiek 3), terwyl daar terselfdertyd vir die ander groei- en produksie-eienskappe geselekteer is. Presisieboerdery in die veebedryf – meet, teken aan en gebruik dit, dit werk!
Publication: October 2014
Section: Focus on