• Login
  • Search Icon

Wag-'n-bietjie!

March 2014

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die ander dag het Braam Olivier ‘n mooi konsep van die blinkblaar wag-‘n-bietjie met ons by die graanwaardeketting se jaarlikse beplanning gedeel. Hy het vertel dat ‘n mens soms in dié bos loop en so lekker stap dat jy nie meer so mooi oplet wat rondom jou aangaan nie. Dan skielik “gryp” ‘n wag-‘n-bietjie jou om jou net weer tot jou sinne te bring.

Jy moet dan stop, weer oplet en tyd neem om die dorings uit te trek, op te kyk en weer koers te kry. Dit het my laat dink aan hoe ons as graanbedryf die afgelope 17 jaar aan gestap het in die vrye mark se “bos”. Ons het aanvanklik aangepas, nuwe planne gemaak en strukture in plek gekry om ons deur hierdie bos te help.

Die wag-‘n-bietjie-oomblik vir die graanbedryf het egter einde verlede jaar aangebreek toe die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye voorgestelde wysigings aan die Bemarkingswet aangekondig het. Sy het beslis die bosbouding ernstig opgeneem en is besig om die “vryemarkbos” van landbou met wortel en tak uit te kap.

Daar is nog min aanduidings van waarmee sy beplan om dit te vervang, behalwe dat sy die een sal wees wat die besluite in die toekoms sal neem. Dié van ons wat bekend was met die ou beheerde stelsel, sal beslis so ‘n rilling of twee kry as ons terugdink aan ‘n sisteem waar die minister al die besluite geneem het.

As jy ‘n minister het wat landbou goedgesind is, kan dit dalk nog werk, maar ai, soos dit tans lyk, gaan die produsente beslis tweede kom. Graan SA sal werklik ernstig moet besin oor wat hierdie wag-‘n-bietjie-moment vir ons as produsente inhou. Elke doring sal baie versigtig uitgetrek en die wonde verbind moet word, (dalk nog klere lap ook), en dan opkyk en pad soek vorentoe.

Daar is twee ernstige dorings wat ek vandag wil uitwys: Eerstens die aanslag om die vrye mark met ‘n beheerstelsel te vervang en tweedens, die poging van die minister om die graantrusts se fondse te bekom.

Die vrye mark het die afgelope 17 jaar sy staal gewys. Daar was nog elke jaar genoeg kos in die land. Met tye was dit duur weens wêreldtoestande, maar daar was ook tye wat dit vir dieselfde redes goedkoop was. Nooit ‘n tekort nie!

Die trusts het aanvanklik met die droom begin om addisionele fondse beskikbaar te stel vir dinge soos navorsing en om te help met die ontwikkeling van ons nuwe toetreders. Baie gou het ons agtergekom dat die fondse eerder aangewend moet word waar die kapasiteitstekorte van die staat aangevul moes word.

Fondse vir markinliging was daar nie, navorsing se staatsfondse het bykans opgedroog en geen bydraes is gemaak ten opsigte van die ontwikkeling van nuwe toetreders tot die graanbedryf nie. Ek kan my bykans nie voorstel hoe die bedryf daar gaan uitsien sonder die ondersteuning van die trusts nie. Geen SAGIS, SAGL, Landbou-ontwikkelingsprogram, navorsing en koringteling nie, om nie eers te praat van die miljoene rande wat ons tot kapasiteitsbou in die LNR belê het nie.

Ingevoerde graan word net so lukraak deur die staat getoets en die resultate word nie gepubliseer sodat dit deursigtig is nie. As die SAGL dit nie met behulp van die trustfondse doen nie, sal ons nie weet wat ons eet nie.

Verlede jaar het ons met groot opwinding ‘n verandering beleef toe die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming groot bedrae beskikbaar gestel het om ons opkomende boere te kapitaliseer. Die ouditeur-generaal het Graan SA se boeke kom nagaan en was net vol lof vir die deeglikheid en akkuraatheid waarmee ons dit hanteer het.

Produsente is toegerus met trekkers, planters, ploeë en spuittoerusting. Groot was ons verwagting toe ons in Julie 2013 ‘n nuwe aansoek ingestuur het om die manne en vroue ‘n verdere jaar te kan help om van hulle kommersiële boere te maak.

In Desember 2013 kry ons uiteindelik die antwoord dat dit nou te laat is en ons maar eerder vir volgende jaar moet begin beplan. Ek wonder of die fondse skielik eerder ander prioriteite moes dek (lees verkiesing) as om kos te produseer. ‘n Mens kan net dink hoe die produsente moes voel wat implemente het, maar nie toegang tot fondse om insette te koop nie. Wat ‘n teleurstelling!

Publication: March 2014

Section: Editorial

Search