• Login
  • Search Icon

Waar’s jou vlaggie?

July 2010

Beste Grootneef

Die sokkerkoors loop soos ‘n Listerenjin – sonder ophou. Van Kaapstad tot in Orlando, dwarsdeur die land tot in ons eie dorpie waai die landsvlaggies aan al wat ‘n kar is. Party is soos ‘n lemoen bo-op die lugdraad, ander word soos ‘n handskoen om die kantspieël getrek. Alles as gevolg van die koors... Dis seker laas met Republiekwording dat soveel landsvlae in ons land gewapper het! Feit is, die ronde bal Wêreldbeker in Suid-Afrika is ‘n eenmaal-in-‘nleeftyd-ervaring. Wat is die kanse dat dit in die volgende honderd jaar weer in Afrika sal plaasvind? Sal dit nie ‘n aangename verrassing wees as ons span kan deurdring tot in die finale rondtes nie! Die vet weet, ons het goeie nuus nodig. Want as die klomp na die tyd terug huis toe gaan, sit ons met ‘n hengse lot duur pawiljoene...

Siende dat dit so half swaar met die mielieboerdery gaan, slaan baie produsente hul hand ook aan ‘n wildsboerderytjie. Hoef ook nie duur goed te wees wat in ‘n wildskamp aangehou word nie. Baie stedelinge is doodtevrede om teen ‘n billike fooi ‘n paar blesbokke of springbokkies vir biltong te klits. Die Bosvelders het hul hoeka heel uit die biltongmark geprys. Dit raak letterlik te dik vir ‘n biltongdaalder as ‘n rooibokram jou R1 000 uit die sak jaag – trofee of te not. Wie het in elk geval vooraf ‘n maatband om te meet of die ram waarop jy aanlê se horings ‘n halfduim in die trofeeklas in is? Die afstand Bosveld toe raak ook ‘n faktor met vandag se dieselpryse. As al die koste van passaat, dagfooie en trofeebokke bymekaar getel word, moet jy die biltong in dun skyfies begin sny en lank daaraan kou... Meer later hieroor.

Die Bosveld het egter sy eie bekoring vir ‘n jagter. Om dáár in die ruie bos op ‘n mooi koedoebul af te kom! ‘n Mens verduidelik maar na die tyd aan Ma dat die ding jou wou byt en dat dit selfverdediging was om hom neer te trek.

Vergeet egter ‘n oomblik van die Bosveld se duur bokke. Hier is iets in ‘n heel ander klas. Lees onlangs van ‘n buffelbul wat vir R6 miljoen verkoop is. Eita! Los die woonstel by die see man, koop buffels vir die oudag se aftrede. So ‘n befoeterde boosbees sal ook nie herverdeel word nie – wie sal nou oor ‘n buffelkamp se draad klim?

Terug by jag. ‘n Paar jaar gelede is ek deel van ‘n span wat gaan blesbokke skiet in die Koppies-distrik. Na die welkom sê en nesskrop is die gewere vir oulaas die laatmiddag ingeskiet. Terug in die kamp bevestig die eienaar dat ons na al die blesblokke kan skiet, behalwe ‘n nuwe teelram wat met ‘n geel plaatjie “getag” is. By voorbaat word ook gesê dat as die ram sou sneuwel, sy prys dubbeld is as die van die ander bokke. “Ka-ka”, lag almal. Wie sal nou ‘n “tag”-bok skiet?

Vroeg die volgende oggend vat elke man sy posisie. Ekself aan die voet van ‘n randjie, terwyl twee manne met ‘n bakkie die bokke roer. Nie lank nie en ‘n eerste skoot val in die vlakte voor my. Ek sien die bakkie kruie vorentoe om die skut en die bok op te laai. Ek hou die manne deur die verkyker dop en sien dat die driemanskap ‘n paar keer al om die bok loop. En oplaas ‘n bedeesde kringetjie vorm. En beduie, die kant toe en daai kant toe. En die bok omrol om sy ander kant ook te sien. Toe ek uiteindelik naderstap om uit te vind wat nou, is die eerste ding wat ek in die oggendson sien blink, ‘n helder geel “tag” met ‘n koeëlgat deur! ‘n Perfekte kopskoot... Die moeilikheid was dat daar net in die een oor ‘n “tag” was. Hoe dit ook al sy, ‘n heel geslaagde jagtog was dit beslis, “tag”-bok en al!

Drie weke na die jag stap ek by my vrind se kamers in (hy is ‘n mediese dokter), en haal hy met veel seremonie eers sy Joseph Rodgers uit sy sak en toe ‘n lekker rugbiltongetjie uit die laai. Hy sny so ‘n dun pienk skyfie af wat ek dwarsdeur kan sien en gee dit aan met groot omhaal en ‘n opdrag “kou stadig...”.

Dit was ook al wat ek van die “tag”-bok gekry het. Van toe af, as iemand ‘n “tag”-bok of ‘n trofee klits word dun skyfies gesny en stadig aan die biltong gekou!

Geniet die winter, geniet die jag en skiet liewer amper mis as amper raak.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: July 2010

Section: E-mails

Search