• Login
  • Search Icon

Waarom die fokus op bewaringslandbou?

March 2013

DR HENDRIK SMITH, BEWARINGSLANDBOUFASILITEERDER, GRAAN SA

Tans produseer graanprodusente baie goed onder uiters uitdagende en moeilike omstandighede, maar teen die geweldige verlies van gemiddeld 12 ton grond per hektaar per jaar.

Dit is duidelik nie volhoubaar nie en dit gebeur omdat grond as lewende organisme net nie genoeg gerespekteer en bestuur word nie; ons het dit lankal “doodgemaak” en grond is sterwend nog voordat die fisieke tekens daarvan, soos gronderosie, kop uitsteek.

Ons maak onder andere die grond dood met die aanhoudende en aggressiewe versteuring van ploeg met tand- en skottelimplemente en boonop bevorder ons hierdeur ook aardverwarming deur die oormatige uitlaat van kweekhuisgasse.

Graan SA wil die voortou neem in die bevordering van meer volhoubare gewasproduksie en ons glo bewaringslandbou is die antwoord. Trouens, dit is volgens ons die enigste volhoubare gewasproduksiestelsel wat die stelselmatige aftakeling van grondgehalte kan verhoed.

Bewaringslandbou het verskeie ander voordele, waarvan die belangrikste seker goedkoper en meer winsgewende gewasproduksie is. Om egter al die voordele van bewaringslandbou te ontgin, moet ’n produsent drie beginsels gelyktydig toepas: minimum grondversteuring, permanente organiese grondbedekking en gewasdiversifikasie.

Wat behels dit?

Daar word nou ‘n nuwe program ontwikkel waardeur Graan SA hierdie visie wil verwesenlik. Wat ons deur die program wil bereik, is om ‘n omgewing te skep wat dit maklik, gerieflik en aantreklik maak vir ‘n produsent om na bewaringslandbou om te skakel.

Hy sal egter net hierdie “regte ding” doen as hy ten volle oortuig en ingelig is. Die manier waarop ons dit wil doen, is deur die konsep van “innoveringstelsels” te gebruik. Dit is ‘n stelsel waarin ons die leisels van die proses oorhandig aan dié mense (die produsente en hul netwerke) wat alreeds innoverend is.

Graan SA wil verder net ‘n katalisator en fasiliteerder wees wat hierdie proses voortstu en ook die regte mense bymekaarbring en kennis en ervaring deel om ‘n wyer impak te maak in die groter boeregemeenskap. Daar is dwarsoor die wêreld baie bewyse van hoe innoverend produsente kan wees, veral in die uitbreiding van bewaringslandbou in Suid- en Noord-Amerika en Australië – dit is hoofsaaklik deur produsente self onderneem.

Hierdie idee dat ons eie produsente (kleinskaal, opkomend en kommersieel) die innovering en dryfkrag agter die ontwikkeling en bevordering van bewaringslandbou gaan wees, is die kern van die nuwe bewaringslandbouprogram van Graan SA.

Graan SA se produsente-innoveringsprogram vir bewaringslandbou gaan dus daarna streef om innoverende idees en projekte te ondersteun wat inpas by ons filosofie en beginsels. Ons kyk ook na praktiese finansieringsmeganismes wat sal help om die beskikbare fondse vinnig en maklik te kanaliseer.

My eerste persoonlike doelwit sal wees om ‘n goeie kennis van en verhouding met sleutelrolspelers, veral produsente, in bewaringslandbou te ontwikkel en ook ‘n beter begrip te kry oor wat presies die stand van sake is betreffende bewaringslandboupraktyke (tegnies en institusioneel/sosiaal) onder produsente in die verskillende streke van die land.

‘n Goeie beskrywing van bewaringslandboupraktyke in verskillende agro-ekologiese streke behoort baie waardevol te wees vir bestaande en voornemende bewaringslandbouprodusente en kan die basis vorm van toekomstige tegniese riglyne vir bewaringslandbou. Terselfdertyd ondersoek ons ‘n aantal strategiese oogmerke wat ‘n groot impak op die bevordering van bewaringslandbou kan maak, naamlik ‘n algemene bewusmaking van en die bied van toegang tot inligting, innovering en navorsing wat deur produsente onderneem word, aansporingsmaatreëls, -meganismes en wetgewing, produsentenetwerke en organisasies (soos studiegroepe) asook relevante opleiding vir leerlinge, studente, produsente en voorligters.

Wat wil Graan SA daarmee bereik?

Natuurlik is die organisasie se primêre doel die volhoubare intensivering van gewasproduksie. Ons wil egter ook help om ons natuurlike hulpbronne te beskerm, want ons leen dit eintlik net van ons nageslagte. Terselfdertyd moet ons graanproduksie verhoog vir huishoudelike en nasionale voedselsekerheid. Ons wil help dat produsente goedkoper en meer volhoubaar kan boer én meer tonne kan produseer.

Om hierdie doel te bereik, wil ons eerstens die innoveringsvermoë van produsente gebruik: Dit is die sleutel tot sukses in bewaringslandbou. Die benadering waardeur ons hierdie bron sal ontgin, berus hoofsaaklik op erkenning en respek vir en die beloning van produsente se ervaring, kennis en vaardighede. Die impak wat hierdie benadering op die bevordering van bewaringslandbou kan hê, sal deur slag gewend wees.

Dit kom kortliks daarop neer dat produsente se bestaande kapasiteit en selfvertroue as navorsers en fasiliteerders van broodnodige innoveringsprosesse en -netwerke uitgebou word.

Watter waarde hou Graan SA se bewaringsland bou-inisiatief vir produsente in?

Produsente kan verwag om beter toegang tot hulpbronne (kennis, inligting, ondersteuning en fondse) te kry, wat hulle sal help om die beginsels van bewaringslandbou vinniger en beter in sy of haar unieke plaastoestande toe te pas.

Produsente sal baie baat vind by inskakeling by die naaste bewaringslandboustudiegroep, of sommer self een te skep as daar nie een is nie. Deur net te begin doen en praat oor hulle ervarings rakende bewaringslandbou, is die stryd halfpad gewonne.

Agtergrond

image Dr Hendrik Smith is in 1993 by die LNR se Instituut vir Grond, Klimaat en Water (IGKW) as grondkundige aangestel en was aanvanklik hoofsaaklik verantwoordelik vir grondopnames asook navorsing in gronderosie en landevaluering.

Vanaf 1997 het hy betrokke geraak by verskeie groot projekte wat gepoog het om landswyd bewaringslandbou onder kleinboere te vestig. In dié periode het hy ook sy PhD oor hierdie onderwerp gedoen en hy is in 2005 aangestel as programbestuurder by die LNR-IGKW.

Behalwe vir bewaringslandbou, was hy ook verantwoordelik vir navorsing oor gronddegradasie en vleilande. Hy het ook die bewaringslandbounavorsingsprogram tussen die verskillende LNR-institute gekoördineer en het saam met navorsers van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aan die spits gestaan van die nasionale taakspan vir bewaringslandbou.

Publication: March 2013

Section: Other Articles

Search