• Login
  • Search Icon

Voorkom en beheer hittestres só

October 2015

JAN DU PREEZ, spesialis in Veterinêre Volksgesondheid

Voorkom en beheer hittestresAl die aktiwiteite of maatreëls wat gebruik word om hittestres te beheer en help voorkom, is daarop gefokus om te voorkom dat die melkkoei se normale liggaamstemperatuur (37,5°C tot ongeveer 38,5°C) verhoog met ongeveer 1°C tot 1,5°C of hoër.

Alhoewel die melkbees ‘n homeostatiese dier is (probeer die normale liggaamstemperatuur konstant hou) ervaar hulle hittestres as die omgewingsfaktore sekere limiete oorskry. Deur die melkkoei se omgewingstemperatuur te verlaag, verdampingsverkoeling te verhoog asook die melkkoei se natuurlike meganismes van hitteverlies te bevorder, kan bydra daartoe om hittestres te beheer en te voorkom.

Ten spyte van die koei se baie doeltreffende termoregulerende meganisme om van haar hitte ontslae te raak, oorweldig baie hoë omgewingstemperature hierdie meganisme wat lei tot hoë liggaamstemperatuur (hipertermie) wat die koei se prestasie benadeel.

Die stort van koeie en lugbeweging (deur waaiers) ná sy gestort is, is baie doeltreffend om hittestres te help voorkom en te beheer. Aksies en aktiwiteite wat geneem kan word om hittestres by melkbeeste te help voorkom en beheer is:

  • Skaduvoorsiening: Kunsmatige of natuurlike skaduvoorsiening is van die belangrikste maatreëls wat getref moet word teen hittestres.
  • Lugbeweging: Voorsien waaiers om die lug te beweeg in die opvangskraal, voor die stal of by die voerbakke. Verseker dat natuurlike ventilasie optimaal is.
  • Benatting (stort): Spuit die melkkoeie minstens een keer per dag (om 14:00) nat en waai hulle dan koel met waaiers.
  • Aktiwiteite: Beperk hantering en aktiwiteite van melkkoeie gedurende die warmste tyd (11:00 tot 15:00) van die dag.
  • Voeding: Verhoog die kragvoer in die rantsoen gedurende hittestres. Die hitte-inkrement van die voer moet so laag as moontlik wees. Voerbakke moet onder skadu wees.
  • Seleksie en teling: Selekteer en teel waar prakties moontlik melkkoeie wat meer aanpasbaar en tolerant is teen hittestres.
  • Area van melkboerdery: Ooreenkomstig die hittestreskaarte en hittestreswaardes moet besluit word in watter deel van die land ‘n melkery bedryf moet word.
  • Watervoorsiening: Voldoende skoon, vars water (ad libitum) waarvan die temperatuur nie hoër as 21°C is nie. Waterbakke moet onder skadu wees.
  • Melkras: Jersey-koeie kan hittestres bietjie beter hanteer as Holsteins of Ayrshires.

Natuurlike skaduvoorsiening as afkoelmetode

Bome is seker die goedkoopste asook mees doeltreffende manier om beeste van skadu te voorsien. Die koei se keuse van skadu sal eerder bome wees as mensgemaakte strukture. Bome beskerm beeste baie doeltreffend teen straling en die vogverdamping vanaf die blare verkoel die omgewing.

Die probleem met bogenoemde is egter bekend. Meeste bome vrek as gevolg van kompaktering en akkumulasie van mis en urine asook dat die bas gestroop word deur die beeste. Indien die bome beskerm moet word, behoort dit op hulle skadurand omhein te word, wat natuurlik ondoeltreffend is vir benutting van die skaduwee deur die diere. Indien die water en voer nie naby skaduvoorsiening is nie, vreet en suip hulle nie genoegsaam nie. Waterbakke moet verkieslik nie onder bome geplaas word nie, want besoedeling deur blare van die bome is soms ‘n probleem.

Straling speel ‘n baie belangrike rol in hittestres en verhoog hittetoename direk en indirek by melkbeeste. Blokkering van die uitwerking van straling deur doeltreffende skadustrukture verhoog melkproduksie tot 10% of meer.

Voorkom en beheer hittestres

Permanente (behuising of afdakke) of verskuifbare skadustruktuur as afkoelmetode

Met die ontwerp van permanente skadustrukture is die volgende aspekte van groot belang: Ligging, oriëntasie, vloerspasie, ventilasie, muurkonstruksie, voer- en waterbakke asook die afvalbestuurstelsel. Die plasing van die skadustruktuur (lang-as) in ‘n oos-wes-rigting voorsien die meeste skadu onder die struktuur.

Waar koeie vry kan beweeg met die skadu van die struktuur, is ‘n noord-suid-oriëntasie meestal beter. Met hierdie oriëntasie kan die sonlig tot 50% van die skadugedeelte onder die struktuur gedurende die oggend en agtermiddag uitdroog.

Dit is wenslik om ‘n sementblad wat nie glad is nie en groter is as die struktuur se skaduvoorsiening, daar te stel. Die afvalverwyderingstelsel moet doeltreffend funksioneer.

Voorkom en beheer hittestres

In kort

Wetenskaplike, etnologiese studies het bewys dat melkbeeste met al hulle behoeftes, gedurende hittestrestye nie in balans met hulle omgewing is nie. Hierdie wanbalans veroorsaak dat die melkkoei dan nie presteer ooreenkomstig haar genetiese potensiaal nie.

Meer as 90% van Suid-Afrika se kommersiële melkbeeste (550 000) gaan elke jaar gebuk onder hittestres gedurende die laaste helfte van Oktobermaand tot die eerste helfte van April. Hittestres het ‘n nadelige uitwerking op die algemene prestasie van die melkkoei, gedrag, gesondheidstatus, uiergesondheid, melkproduksie, melkkwaliteit en melksamestelling, reproduksie, voeding en groei.

Hierdie nadelige uitwerking van hittestres by melkbeeste kan met soötegnologiese tegnieke en optimale diereversorging beperk en voorkom word. Doeltreffende voorkoming en beheer van hittestres by melkbeeste sal hulle algemene gesondheid en prestasie tot voordeel wees asook verbeter.

Omgewingsfaktore wat meewerk om hittestres by melkbeeste te veroorsaak is hoë lugtemperatuur, hoë relatiewe humiditeit, swak lugbeweging en hoë stralingshitte van die son, ‘n sinkdak of baksteengebou. Die belangrikste bydrae van bogenoemde faktore om hittestres te veroorsaak is hoë lugtemperatuur. Verbeter of optimaliseer bogenoemde
omgewingsfaktore, want dit sal hittestres help verlig of voorkom.

Die volgende ontwerpoorwegings moet in gedagte gehou word:

  • Die area wat per koei benodig word, is 5 m².
  • Gebruik 85% - 95% groen skadunet as bedekking. Indien dakbedekking soos sinkplate of asbesplate gebruik word, word dit sterk aanbeveel om dit met wit dakverf te verf wat die stralingshitte drasties verlaag.
  • Die hoogte van die struktuur moet 3 m en hoër wees.
  • Indien die struktuur permanent bevestig word, oriënteer dit liewers noord-suid in lengte. Dit sal verseker dat die skaduwee saam met die sonbeweging skuif en onnodige nat kolle verminder.
  • Verskuifbare strukture moet geanker wees teen sterk winde.

Vooropvangskraalafkoeling met sproeiers en waaiers (stort)

Hierdie afkoelmetode is ‘n baie bestuursvriendelike metode vir toestande in Suid-Afrika veral as daar drie keer per dag gemelk word. Dis gewens dat die koeie tussen 12:00 en 14:00, vóór melking, in die vooropvangkraal gestort word.
Die volgende ontwerpoorwegings is van praktiese belang:

  • Indien die lugtemperatuur bo 23°C styg, moet die koeie gestort word. Dit is verkieslik dat ‘n outomatiese stelsel wat deur ‘n termostaat beheer word, geïnstalleer word.
  • Koeie kan vir 30 sekondes tot 2 minute eenmalig gestort word, op die warmste tyd van die dag of met tussenposes van 15 minute vir nog ‘n paar keer as dit prakties uitvoerbaar is. Nadat die koeie gestort is, moet die waaiers aanhoudend waai.
  • Die mees algemene fout wat gemaak word met die stort van die koeie, is dat te veel water per koei gebruik word. Afkoeling van die koei deur verdamping is dan minder doeltreffend. Daar moet verseker word dat die vors agter die waterdruppel (moenie te klein wees en ‘n mis veroorsaak nie) genoegsaam is dat die koei se haarkleed benat word tot op die vel. Verdamping van die water vanaf die hare en die vel koel die koei dan doeltreffend af.
  • Die vooropvangsarea (afkoel-area) moet met glyvaste beton beklee wees met ‘n helling van ongeveer 3% vir doeltreffende dreinering.
  • Sowat 1,5 m²-area moet per koei toegelaat word.
  • Skadunetbedekking van 3 m - 4 m hoog word aanbeveel (85% - 95% groen skadunet). Die struktuur van die skadunet moet stewig wees.
  • Aksiale waaiers vir die opvangskraal kan gebruik word. Vier waaiers per 100 koei-eenheid.
  • Spasieer waaiers sowat 8 m uitmekaar.
  • Waaiers waai op koeie teen 30° met betrekking tot die vertikaal.
  • Monteer waaiers minstens 2 m bo vloeroppervlakte (met beskerming).
  • Gebruik sproeiers wat 180° spuit. Die water wat gebruik word vir die stort van die koeie is ongeveer 5 liter per koei. Dit is raadsaam om ‘n ingenieur hieromtrent te raadpleeg.
  • Melkkoeie wat doeltreffend gestort word, se afkoeling is genoegsaam om die melkproduksie met 5% tot 10% te verhoog.

Voorkom en beheer hittestres

Afkoeling by melkportaaluitgang

Hierdie tipe afkoeling kan toegepas word waar koeie direk na melking na aangeplante weidings stap om te vreet. Die beginsel bestaan dat ‘n hekkie wat oopgemaak word as die koei uit die portaal loop wat ‘n klep aktiveer en hoë-drukspuite benat die koei vir twee of meer sekondes. Die sproeiers word só geplaas dat die naspeendoopont smettingsmiddel nie afgespuit word nie.

Verdampingverkoelingsisteme

Hierdie sisteme het dit ten doel om die omgewing en nie soseer die koeie af te koel nie. Die koeie betree eenvoudig die dam as hulle hittestres ervaar. Die somatiese seltelling van koeie wat ‘n afkoeldam gebruik, teenoor geen afkoeling, is gewoonlik minder. Hierdie afkoelpraktyk word nie aanbeveel nie. Die afkoel van melkbeeste wat op weidings loop verg meer bestuursinsette om hulle af te koel en te beskerm teen hittestres.

Voedingsbestuur by melkbeeste tydens hittestres

Die eerste en primêre voedingsbestuurstrategie is om die melkbeeste teen ‘n hittestresomgewing te beskerm (natuurlike of kunsmatige skaduvoorsiening) en om afkoelgeleenthede vir die koei deur direkte verdampingsafkoeling en verlaging van die omgewingstemperatuur te bewerkstellig.

Vir ‘n suksesvolle voedingsbestuurstrategie moet die aantal voedings per dag vermeerder word, gee vars voer gedurende die nag wanneer dit koeler is asook die verkoeling van die omgewing en/ of koei naby hulle vreetplek. Verhoog die energie asook die voedingstowwe se digtheid van die rantsoen. Die energiedigtheid van die rantsoen word verhoog deur die ruvoer-tot-konsentraatverhouding te verlaag. Verseker dat genoegsame verteerbare vesel voorsien word dat normale rumenvertering plaasvind asook die oordeelkundige byvoeging van vet.

Oorvoeding van hoogs verteerbare proteïene (byvoorbeeld lusern of soja) gedurende hittestres verlaag voerinname en melkproduksie.

Skoon en genoegsame drinkwater (16°C tot ongeveer 5°C is ideaal) is die belangrikste voedingstof vir melkbeeste gedurende hittestres. Om water af te koel tot ongeveer 12°C is nie kostedoeltreffend nie. Die dieetkonsentrasies van minerale (veral kalium, sout en magnesium) en vitamiene (vitamien A, D en E) moet verhoog om te kompenseer vir die verlaagde vrye (ad libitum) voer inname.

Voorkom en beheer hittestresSeleksie en teling vir melkrasse wat meer tolerant is teen hittestres

Seleksie en teling van melkbeeste (Holsteins en Ayrshires) met ‘n laer metaboliese tempo, kort hare, glansende dun vel, eweredige vetverspreiding in die spiere, goed gepigmenteerde vel, goeie bloedvoorsiening en beweeglikheid van die vel, vroeë haarkleedwisseling in die lente, ligter velkleur, relatiewe hoë voerinname vir hoë vlakke van produktiwiteit met relatiewe lae vlakke van metaboliese hitteproduksie, sal die koeie meer aanpasbaar maak vir warm en vogtige omgewingstoestande. Jerseys kan hoër omgewingstemperature beter hanteer as Holsteins.

Diereversorging

Enige aktiwiteite of hantering van melkbeeste gedurende die warmste tyd van die dag (12:00 tot 14:00) moet liefs vermy of so ver moontlik beperk word. ‘n Goed beplande tyd om melkbeeste te dip, doseer, in te ent en melk moet eerder in koeler tye van die dag of gedurende die nag plaasvind om stres te beperk of te voorkom.

Besprekings

Die grootste ontwikkelings en vooruitgang in die suiwelbedryf is gedoen in meer gematigde klimaatstoestande in die Westerse wêreld, waar buitengewone klimaatstoestande nie geredelik voorkom nie.

Veranderde gedragspatrone wat by melkbeeste gedurende hittestres voorkom, is ‘n teken dat voorkoming teen hittestres gedoen moet word ter verhindering van die nadelige uitwerking daarvan. Die bepaling van liggaamstemperatuur en asemhalingstempo is prakties, maklik uitvoerbaar en geloofwaardige fisiologiese parameters om hittestres by melkbeeste te bepaal.

Vir praktiese redes kan plasmakortisolvakke en melksamestelling nie as die enigste maatstaf gebruik word vir die bepaling van hittestres by melkbeeste nie, alhoewel dit aanduidings van akute of kroniese hittestres gee. Daar is baie ander redes ook waarom ‘n melkkoei se melksamestelling kan verander behalwe hittestres.

Vir meer inligting, kontak die outeur by chantel.sm888@gmail.com.

Publication: October 2015

Section: Focus on

Search