April 2016
Johan Smit, besturende redakteur: SA Graan/Grain
Wat in 1967 begin is as ‘n geleentheid vir mielieprodusente om meganisasietoerusting op ‘n nie-mededingende basis op een plek teen mekaar op te weeg, het gegroei tot ‘n gediversifiseerde landbouhandelskou van internasionale formaat. Na 50 jaar word Graan SA se NAMPO Oesdag vandag steeds gereken as die toonaangewende vertoonvenster van landbou in Suider-Afrika.
Die Oesdag het sy ontstaan te danke aan die inisiatief van drie produsente uit die Bloemfontein-distrik, naamlik mnre Moos Haddad, Hannes van Wyk en George Stegmann – destyds al drie lede van die Suid-Afrikaanse Mielieprodusenteinstituut (SAMPI). Hul drome is in dade omgesit en op 7 en 8 Junie 1967 is die eerste SAMPI Oesdag op Donkerhoek – die plaas van Hannes van Wyk – naby Bloemfontein gehou.
“Ons het die Oesdag begin omdat ons boere en masjinerievervaardigers by mekaar wou uitbring. Die sestigerjare was die oorgangstyd na grootskaalse meganisasie en dit was van die allergrootste belang vir die mieliebedryf om insetverskaffers en landbouers by mekaar te bring. Daar was ‘n wesenlike behoefte om trekkers en implemente op ‘n groter skaal te sien as wanneer slegs een maatskappy sy produkte op jou plaas demonstreer,” het Van Wyk aan Mielies/Maize (voorganger van SA Graan/Grain) in die April 1989-uitgawe gesê.
Die aanvanklike fokus was uitsluitlik op mielieproduksie; veral die meganisasie-aspek daarvan. Aangesien Suid- Afrikaanse kommersiële boerderye ter wille van volhoubare winsgewendheid toenemend ‘n geïntegreerde sakemodel begin aanneem het, het die Oesdagkomitee se keuse van uitstallers en die fasiliteite van die Oesdagterrein oor die afgelope 50 jaar dinamies in pas gebly met nuwe ontwikkelings en die nuutste boerderytegnologie.
“Ons uitgangspunt is dat as daar primêr op landbou gefokus word; dit tuis hoort by die NAMPO Oesdag. Deurlopende fokus op die behoeftes van landbouprodusente en op landbou- en landbouverwante uitstallers van gehalte, is ‘n beproefde resep,” het mnr Vic Mouton, Oesdagvoorsitter, in 2004 gesê.
Selfs nie die winde van verandering in georganiseerde landbou oor die jare het die karakter van die handelstentoonstelling verander nie. SAMPI is in 1966 gestig deur mielieprodusente wat ontevrede was met die feit dat diegene wat die mieliebedryf hanteer het, nie bona fidemielieboere was nie én hulle verkeerde hantering van die ekonomiese sake van die bedryf. Dit was, om die minste te sê, ‘n opdraande stryd om as wegbreekfaksie die sogenaamde groot mieliestryd teen die regeringsgesteunde mielie-spesialiteitsorganisasie (SAMSO) te stry en om genoegsame steun van uitstallers en die landboupubliek te wen om die SAMPI Oesdag te laat beslag kry.
Na intervensie deur die destydse Minister van Landbou, mnr Hendrik Schoeman, is eenheid in die mieliebedryf uiteindelik bewerkstellig. SAMPI en SAMSO is ontbind en het op 3 Oktober 1980 plek gemaak vir die Nasionale Mielieprodusente Organisasie (NAMPO) se totstandkoming. Die Oesdag – as ‘n prominente deel van SAMPI se bruid - skat – is gevolglik tot die NAMPO Oesdag herdoop.
Gedurende die bykans 20 jaar wat gevolg het, het die NAMPO Oesdag in elke opsig van krag tot krag gegaan. Wat aanvanklik ‘n mieliegefokusde handelskou was, is gediversifiseer en uitgebrei om die Suid-Afrikaanse landboubedryf in geheel te akkommodeer. Dit het ontwikkel tot een van die bekendste plaaslike landbouhandelsmerke en spog selfs met ‘n sterk bewustheid in die internasionale landbou-arena.
Eenwording in die graan- en oliesadebedryf het bykans twee dekades later in 1999 gevolg ná die deregulering van landboubemarking in 1997. Spesialiteitsorganisasies wat produsente uit die mielie-, wintergraan-, sorghum- asook olie- en proteïensade-bedrywe verteenwoordig het, het gesamentlik die grootste landbouprodusente-organisasie in die land gestig. Die Oesdag was weer eens deel van die bruidskat wat NAMPO na die nuutgestigte spesialiteitsorganisasie gebring het.
Die organisasie se aanvanklike benaming, die Graanprodusente- organisasie (GPO), het op 8 Maart 2000 plek gemaak vir ‘n splinternuwe korporatiewe identiteit, toe “Graan SA” eenparig deur die jaarkongres goedgekeur is. As ‘n mens oor 50 jaar terugkyk, het Graan SA se NAMPO Oesdag ontwikkel tot ‘n integrerende deel van landbou in Suid-Afrika in geheel. Dit is ‘n wenresep wat bestaan uit:
Hoewel die beheerde meganisasie-demonstrasies vir sowat 40 jaar ‘n belangrike komponent van die Oesdag was, het die Oesdagkomitee, na goedkeuring deur die Hoofbestuur van Graan SA, ingestem dat daar vanaf 2009 nie meer praktiese demonstrasies aangebied word nie. Die besluit is geneem om uitstallers van werktuie tegemoet te kom in hul poging om kostes – en meer spesifiek die vervoer van die werktuie – te beperk en om hul voortgesette deelname aan die Oesdag te verseker. Enkele vervaardigers doen steeds demonstrasies in die lande op versoek, maar die meeste uitstallers wend sedertdien rekenaartegnologie, elektroniese tentoonstellings en selfs gesimuleerde ervarings op hul standplase aan om hul statiese uitstallings te ondersteun.
Met ‘n trotse geskiedenis wat oor vyf dekades strek, is die Oesdag vandag ‘n kombinasie van die nuutste landboutegnologie, produkverskeidenheid, innovasie, gesprekvoering, ‘n mekka van netwerkgeleenthede en landbou-gasvryheid, wat sy reputasie gestand doen as Suider-Afrika se vertoonvenster van landbou.
Oesdag – só het dit ontwikkel
1967
1. Plaas Donkerhoek naby Bloemfontein
1968
2. Plaas Hopefield naby Bloemfontein
1968 - 1972
3. Buiten die Oesdag op Hopefield, is bykomende oesdae in die distrikte van Hendrina en Ottosdal gehou (1969 - 1972)
1973
4. Eerste nasionale Oesdag tydelik gehou op Oesdagterrein te Ottosdal
1974
5. Sedert 1974 gehou op die nuwe Oesdagplaas, Marthaville, geleë naby Bothaville in die Vrystaat
6. Internasionale deelname goed gevestig oor jare
7. Insetverskaffers bewys steun en vertroue
8. Oesdagterrein se fasiliteite is deurlopend ontwikkel om tred te hou
9. NAMPO Park ‘n gewilde venue
Die tuiste van Graan SA se NAMPO Oesdag, sedert 2003 bekend as NAMPO Park, is ‘n gewilde bestemming reg deur die jaar vir konferensies, kongresse, bekendstellings en ander geleenthede. Graan SA se kongres word jaarliks hier gehou. Akkommodasie is ook op die terrein beskikbaar.
In hulle eie woorde
“Om die eerste Oesdag te organiseer het bloedsweet gekos. Trekker- en implementvervaardigers moes oorreed word om tog deel te neem. Uiteindelik het ses of sewe trekkermaatskappye ingestem, asook nog twee of drie ander uitstallers waarvan Lister een was. Eindelik het Lister die kragopwekker vir krag op die Oesdag voorsien.” – Hannes van Wyk, een van die Oesdag-pioniers.
“Ek vertrou dat die Oesdag nog eendag wêreldberoemd sal raak soos die blommefees van Holland, die Rynfeeste van Duitsland en Windhoek se karnaval.” – Die eertydse direkteur van SAMPI, dr Willie Kotze, in 1967 na afloop van die heel eerste Oesdag.
“Wanneer jy aan mense terugdink, is dit altyd moeilik om iemand spesifiek uit te sonder. Dit is egter onmoontlik om nie die drie musketiers van Bloemfontein, Moos Haddad, Hannes van Wyk, George Stegmann en hul gades, te vermeld nie. Hulle was dié met die groot idee (van ‘n Oesdag) in 1966.“ – Dennis von Abo, Oesdagdirekteur; 1983.
“Verskeie aansoeke van uitstallers vir die oprigting van permanente geboue is ontvang. Dit beklemtoon die neiging van ‘n meer permanente aard van uitstallings op die terrein.” – Callie van Wyk, Oesdagvoorsitter; 1983.
“Die Oesdag is een van daardie gebeurtenisse wat ‘n mens nie durf misloop nie, want oor drie dae is dit waar alles op die gebied van die landbou gebeur.” – Japie Grobler, voorsitter van NAMPO; 1996.
“Dit is veral vir ons insetverskaffers en vertoners waarvoor ek baie dankie wil sê. Hulle is jaar na jaar die lewensbloed van die Oesdag. Groot uitgawes word deur hulle aangegaan om miljoene rande se landboutoerusting en diere na die Oesdag te bring.” – Bully Botma, Oesdagvoorsitter; 1996.
“Ons sal daarteen moet waak om nie toe te laat dat die Oesdag in ‘n vlooimark ontaard nie. Die doel van die Oesdag is om aan insetverskaffers die geleentheid te gee om op ‘n persoonlike basis met ons boere kontak te maak en sodoende die jongste tegnologie op die gebied van landbou aan hulle oor te dra.” – Giel van Zyl, hoofbestuurder van NAMPO; 1996.
“Vanjaar – en in die toekoms – sal die klem egter steeds val op landbou- en landbouverwante uitstallers. U is ook reeds bewus van ons uitgangspunt dat ons nie getalle, hetsy besoekers of uitstallers, najaag nie. Die NAMPO Oesdag is en bly ‘n besigheidsgeleentheid, waar ‘n platform geskep word vir insetverskaffers en produsente ten einde ingeligte produksie- en aankoopbesluite te neem.“ – Vic Mouton, Oesdagvoorsitter, tydens ‘n perskonferensie in 2002.
“Die algemene terugvoer van uitstallers is dat die volume besigheid gedoen bo verwagting is en in baie gevalle selfs die vorige jare se syfers oortref. Eweneens is die terugvoer van besoekers spontaan positief oor die hoë standaard van uitstallings en van die terrein.” – Jub Jubelius, Oesdagvoorsitter; 2006.
“Graan SA se NAMPO Oesdag maak ‘n ander wêreld vir ‘n mens oop. ‘n Produsent se behoefte en fokus op sy plaas is elke jaar anders en onder hierdie groot Oesdag-sambreel is daar iets om elke produsent se spesifieke behoefte jaarliks te bevredig.” – Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter; 2012.
“Graan SA skep deur die Oesdag ‘n baie goeie netwerkgeleentheid vir alle rolspelers in landbou. Dit bied ook die ideale kans om landbou se storie aan die publiek en nielandboukenners te vertel. Die innovasie en nuwe tegnologie wat in samewerking met insetverskaffers op een terrein ten toon gestel word, is ‘n pluspunt. As jy dus tegnologies wil bybly, is Graan SA se NAMPO Oesdag die plek om te wees.” – Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA; 2012.
“NAMPO is ‘n voorloper in die transformasie van landbou in ons land. Ek het nog nooit so baie swart boere gesien wat ‘n verhaal van verandering vertel nie.” – ‘n Twiet deur Prof Jonathan Jansen, rektor van die Vrystaatse Universiteit, na sy eerste besoek aan die Oesdag; 2012.
“Die tafel is nou gedek vir aktiewe dialoogvoering by die NAMPO Oesdag. Ek vertrou dat die Nasie in Gesprek-forum, soos wat Senwes, Graan SA en vennote tydens NAMPO 2013 aangebied het asook ander gesprekvoering oor tegniese aspekte, vorentoe selfs meer waarde tot die landbou gaan toevoeg.” – Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA; 2013.
“Die infrastruktuur op NAMPO Park is oor jare geskep en uitgebrei om ‘n groot getal besoekers met gemak te hanteer en om uitstalgeriewe van ‘n hoë standaard aan uitstallers te kan bied. Selfs die aanloopbaan kon vanjaar ‘n totaal van 365 vliegtuie en helikopters oor die vier dae gemaklik hanteer. Graan SA is gerat om aanstaande jaar die 50ste NAMPO Oesdag met trots aan te bied.” – Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter; 2015.
“Buiten dat die NAMPO Oesdag wêreldwyd vir Suid- Afrika ongelooflike goeie reklame meebring, is dit ‘n absolute noodsaaklike gebeurtenis vir enige kommersiële boer. Dit is die plek waar jy alles bymekaar op een plek sien en aankoops besluite kan neem. Hier is ook ongelooflike netwerk geleenthede. Dit is die plek om te wees as jy in landbou is.” – Johan Loxton, bestuurder: Kommersiële Dienste van Graan SA; 2015.
“Minister Zokwana se teenwoordigheid was ‘n pluimpie vir Graan SA en vir landbou in die breë. Hy is waarskynlik die eerste landbouminister sedert 1994 om die Oesdag te besoek. Dit beklemtoon die NAMPO Oesdag as ‘n gesaghebbende platform vir dialoog, gesprekvoering en netwerking.” – Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA, na die besoek van Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, aan die Oesdag in 2015.
Publication: April 2016
Section: NAMPO