August 2013
PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER
Indien boerderybesighede in dieselfde omgewing finansieel ontleed word, is dit opmerklik dat winsgewendheid dramaties verskil. Een van die redes hoekom dit so verskil, is die hoeveelheid geld wat aan masjinerie en implemente bestee word.
Daar is nie noodwendig ‘n positiewe verband tussen hoë investering in masjinerie en toerusting en hoë winste nie – inteendeel, in baie ontledings is dit die teenoorgestelde. Oor dié rede moet produsente seker maak dat hul investering in terme van masjinerie en toerusting sinvol gedoen word.
Baie goeie redes bestaan hoekom produsente masjinerie en toerusting wil vervang. Sommige redes maak ekonomies sin, terwyl ander redes nie geregverdig kan word nie.
Van die redes wat soms voorgehou word, is die volgende:
Masjineriekoste
Masjinerie se koste verander oor tyd, hoe meer die masjiene werk hoe vinniger moet dit reg gemaak word.
Hierdie herstelkoste is nie die enigste masjineriekoste waaraan besighede blootgestel word nie. Sommige ander koste verander ook en baie van hierdie koste is nie-kontant koste en daarom word dit in baie gevalle oor die hoof gesien.
Rente op die kapitaalbelegging en waardevermindering is voorbeelde van hierdie nie-kontant koste. Tog is dit een van die groot uitgawes.
Dit is algemene kennis dat herstelwerk namate die toerusting ouer word, styg. Aanvanklik is daar nie baie koste nie en dan kom die groot herstelwerk. Hierdie herstelkoste styg nie reglynig nie, maar trapsgewys en dit is baie moeilik om presies te kan voorspel wanneer herstelwerk aangegaan moet word.
Omrede die masjinerie oor tyd waarde verloor, daal die waarde van die belegging en so dan ook die depresiasie en rente wat jaarliks afgeskryf word. Aanvanklik is hierdie ‘n groot koste, maar dit daal vinnig oor tyd.
Nuwe tegnologie en ontwikkeling in veral enjin- en ratkas-ontwerp het daartoe bygedra dat die brandstofverbruik van die nuwe masjiene heelwat beter is as in die verlede. Hierdie aspekte moet ook in ag geneem word as daar gedink word oor die vervanging van masjiene. Soms kan hierdie besparing in dieselgebruik ‘n groot gedeelte van die trekker se paaiement diens.
Staantyd of onbetroubaarheid kan ook ‘n baie groot koste raak. As die plantertrekker byvoorbeeld in planttyd die gees gee en daar is nie een om sy werk te doen nie, kan dit aanleiding gee tot ‘n lae oes en groot verliese. Om hierdie voorbeeld die hoof te bied, sal ‘n produsente moet seker maak daar is genoeg ander kapasiteit beskikbaar, oortyd sal gewerk moet werk, of ‘n ander trekker sal gewoonlik ten duurste dringend in die hande gekry moet word.
Hierdie koste gesommeer is een van die maatstawwe wat gebruik kan word om te help besluit wanneer om implemente te vervang. In Grafiek 1 word ‘n voorstelling van die verband tussen jaarlikse koste en ouderdom van toerusting aangetoon.
Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat die totale koste aanvanklik eers daal en dan begin styg.
Strategieë wat oorweeg kan word
Daar is heelwat strategieë wat ‘n produsent kan navolg as dit by vervanging kom. Sommige produsente besluit om toerusting te koop en dit dan nooit weer te vervang nie. Ander sal weer baie gereeld hul toerusting vervang.
Nog ‘n manier is om iets elke jaar te vervang, terwyl die laaste strategie kan wees om te vervang as daar geld beskikbaar is. Vir elke strategie is daar iets positiefs asook negatiefs oor te sê. Dit is ook so dat daar vir elke strategie ‘n afsonderlike finansiële plan moet wees om dit ten beste te ondersteun.
As daar besluit word om implemente op ‘n gereelde basis te vervang, kan aandag gegee word aan metodes om die kontant-uitvloei te minimeer.
‘n Bruikhuur-ooreenkoms met ‘n groot lompsom-betaling aan die einde van die tyd is ‘n voorbeeld wat in hierdie strategie goed sal vaar. Verder sal dit relatief maklik wees om krediet te verkry as jy reeds in die sisteem is.
As jy dalk die strategie volg van om nooit te vervang nie, sal jy oor genoeg spaarkapasiteit moet beskik om ‘n trekker wat in kritieke tye breek, se impak te minimeer. Praat gerus met ‘n finansiële instansie om jou strategie te bespreek en die beste pakket vir jou te beding.
Besluitneming rondom vervanging
Ten einde te besluit of toerusting vervang moet word of nie, is daar ‘n paar basiese vrae wat gevra moet word.
Die werksvenster sal die belangrikheid van toerusting in ‘n groot mate bepaal. As daar byvoorbeeld net 20 optimale plantdae is, sal alles moontlik gedoen moet word om seker te maak dat die oes in hierdie dae geplant word.
As daar net een trekker is wat die planter kan sleep, moet seker gemaak word dat die trekker nie in planttyd probleme sal gee nie. Hierdie trekker is met ander woorde ‘n baie belangrike trekker en moet dus op ‘n gereelde basis vervang word.
‘n Trekker wat maklik deur ‘n ander vervang kan word om sy werk te doen, sal nie noodwendig so ‘n belangrike trekker wees nie. ‘n Trekker wat byvoorbeeld net die wenakkers met ‘n swaailem skoon sny, sal moeilik met ‘n nuwe vervang word, maar sal dalk deur ‘n ander trekker in die besigheid vervang kan word.
As bepaal is dat die toerusting belangrik is, moet die produsent homself afvra of die toerusting beskikbaar is en betroubaar is om die werk te doen. As daar byvoorbeeld besluit word om van mielieverbouing na sojaboonverbouing oor te skakel en die huidige mieliestroper kan nie die sojabone stroop nie, sal dit oorweeg moet word om die stroper te vervang. As daar byvoorbeeld een trekker is wat die planter kan trek en dié trekker het nog baie min ure op en is baie betroubaar, sal dit nie sin maak om die trekker te vervang nie en kan ‘n ander trekker eerder vervang word.
Soos reeds genoem, verander die trekkers en toerusting se koste oor tyd. Dit is dus belangrik om te weet waar hierdie toerusting se draaipunte is.
Dit is so dat sekere herstelwerk ná ‘n sekere hoeveelheid ure verwag word. As ‘n trekker of toerusting dus naby die tyd is wat groot herstelwerk gedoen moet word, oorweeg of dit nie eerder vervang moet word nie.
Deur net na historiese herstelkoste te kyk, kan maklik ‘n fout gemaak word. Indien die trekker baie herstelwerk verg, kan dit ‘n aanduiding wees dat die trekker dalk verkeerd aangewend word. Moontlik is die trekker pas volledig herstel en nou word dit vervang, terwyl die trekker eintlik nou baie betroubaar behoort te wees.
Dit is ook belangrik om ‘n gedeeltelike begroting van die ou tegnologie en nuwe tegnologie toerusting op te stel. In hierdie vergelyking moet die effektiwiteit en doeltreffendheid van die toerusting vergelyk word.
Daar word beweer dat die nuwe generasie toerusting heelwat ligter op dieselgebruik per hektaar is, maar dit is nie altyd die geval nie. Dit vereis dat nuwe trekkers en toerusting deeglik geëvalueer moet word om seker te maak dat dit wel die geval is voor toerusting vervang word. Die evaluasie moet aspekte soos werkstempometing, wielglip, brandstofgebruik, implement/trekker-aanpassing, ekonomiese oorwegings en handelaarbeskikbaarheid insluit. Koste word ook oorweeg en faktore, soos totale lewenssikluskoste, dienspakketkoste, onderdeelmandjievergelykings en waarborg-afdekking moet vergelyk en oorweeg word. Hierdie verandering in loopkoste sal dit baie interessant maak om te besluit om te vervang al dan nie. Daar is ‘n neiging om die boerderystelsels van tyd tot tyd te verander. As daar besluit word om van ‘n konvensionele stelsel na ‘n direkte plant of no-till-sisteem oor te skakel, moet produsente hulself afvra of die huidige implemente nog voldoende is om die taak te doen. As dit is, sal dit nie nodig wees om te vervang nie, maar anders sal dit nie wys wees om te verander en die toerusting nie te verander nie.
Publication: August 2013
Section: Input Overview