October 2014
HENNIE DU TOIT, hoofveekundige, NWK Landboubestuursdienste
Aangesien die landbouklimaat baie vinnig weens veral droogtes, hoër insetkoste en laer winste kan verander, noop dit die veeprodusent om dringend sy veevertakking te evalueer om winsgewendheid te bepaal.
Die veeprodusent word nou gedwing om meer en goedkoper te produseer as in die verlede. Die weiding is vir die beesboer een van sy belangrikste fasette wat die winsgewendheid van sy vleisbeesvertakking beïnvloed.
Veeprodusente “boer” eintlik met gras en moet die grasplant en sy chemiese reaksies goed verstaan ten einde ‘n suksesvolle grasboer te wees. Hierdie suksesvolle grasboer het teen die einde van Oktobermaand nog heelwat kampe wat soos Foto 1 daar uitsien, in vergeleke met ‘n veeprodusent wie se plaas alreeds in Augustus soos in Foto 2 lyk.
Nou hoe is dit moontlik om die veld sodanig te verbeter om in Oktobermaand nog soveel weiding beskikbaar te hê? Dít terwyl die plaas met die normale hoeveelheid beeste belaai word? In hierdie reeks oor weidingsbestuur sal die beste metode stap vir stap verduidelik word.
Verskeie faktore speel ‘n belangrike rol om die veeprodusent te laat besluit watter weidingsbestuurstelsel hy wil volg. Daar is slegs een weidingsbestuurstelsel waar die veld oor tyd verbeter word, terwyl die drakrag van die plaas verbeter. Hierdie twee faktore dra beide by tot die feit dat die veeprodusent meer winsgewend sal wees. Dié weidingsbestuurstelsel staan as hoëdrukbeweiding, of ultrahoëdrukbeweiding bekend.
Ultrahoëdruk- en hoëdrukbeweiding
Hoëdrukbeweiding of ultrahoëdrukbeweiding vind plaas wanneer herkouers (beeste en ook skape en bokke) ‘n sekere afgemete stuk weiding, byvoorbeeld ‘n kamp of ‘n strook weiding, teen ‘n baie hoë digtheid in ‘n baie kort tyd afwei.
Die digtheid wissel van hoog tot baie hoog, vandaar die variasie van hoëdrukbeweiding tot ultrahoëdrukbeweiding. Die doelwitte wat behaal wil word, is die volgende:
Maksimum produksie/dier is die meeste beesboere se doelwit. Dit word gewoonlik verkry deur selektiewe beweiding teen ‘n lae veelading, seleksie vir absolute groei in plaas van funksionele groei, en hoë melkproduksie.
Die wins/ha en opbrengs op kapitaal is meestal laag en nie volhoubaar nie. Maksimum volhoubare wins/ha daarenteen is ‘n doelwit wat die beginpunt van paslike teling en veldbestuur is, wat sal lei tot ekonomiese en ekologiese volhoubaarheid.
Beginsels van hoëdrukbeweiding
Sodra ‘n weidingsplant afgewei word, word wortelreserwes uit die wortels onttrek om blaargroei te stimuleer. Wanneer die blare begin groei en dit word vinnig weer afgewei, word nog reserwes onttrek om blaargroei te stimuleer.
Die reserwes is nog nie teruggeplaas in die wortels nie en sodoende word die reserwes uitgeput. Die resultaat hiervan is dat die groeikragtigheid van die plant begin afneem en die pol word al hoe kleiner. Sodra die reserwes gebruik is om blaargroei te stimuleer en die plant word nie weer afgewei voordat dit uitgegroei het nie, word reserwes weer in die wortels teruggeplaas. Word die plant steeds nie afgewei nie, sal die wortelstelsel vergroot en meer reserwes begin stoor. Nou neem die groeikragtigheid van die pol toe en die pol word groter met ‘n hoër grasproduksie (Figuur 1).
In die praktyk sal beeste in ‘n nuwe kamp binne sowat 12 tot 14 dae alle weiding benut het wat hulle wou. Hierna begin hulle die hergroei vreet. Indien die beeste nog langer in ‘n kamp bly, sal alle smaaklikste en gewenste grasspesies telkens afgewei word en hulle wortelreserwes sal verlaag oor tyd met die gepaardgaande laer groeikragtigheid. Om diere dus langer as 14 dae in dieselfde kamp te laat wei, sal die grasproduksie oor tyd laat afneem.
Die teenoorgestelde is egter ook waar. Waar diere die beskikbare plante vinnig afwei, en dan vir 60 dae of langer nooit in dieselfde kamp kom nie, sal die groeikragtigheid toeneem, die polle sal groter word en die grasproduksie sal ook toeneem.
‘n Verdere voordeel van hierdie bestuurstelsel is dat onsmaakliker spesies, soos dekgras, oor tyd meer al meer deur die diere benut word, waar dit aanvanklik nooit benut is nie. Die hele kamp asook die hele plaas se weiding word dus nou totaal benut, waar dit in die verlede verlore sou gaan.
Daarom is dit die beginsel om die kampe klein genoeg te maak sodat die beeste korter as 14 dae wei terwyl hulle alle materiaal afwei. Hoëdrukbeweiding begin waar beeste binne 10 tot 12 dae skuif na die volgende kamp toe, en ultrahoëdrukbeweiding eindig waar die diere in 'n strook weiding staan en elke sowat een uur na die volgende strook toe aanskuif.
Die duimreël is dat die kampgrootte hoogstens 25% van die tropgrootte moet wees, met ander woorde vir ‘n trop van 200 koeie, moet die kampe nie groter as 50 ha wees nie. Hierdie riglyn is vir die begin by hoëdrukbeweiding, en die kampies sal al hoe kleiner word hoe nader aan ultrahoëdrukbeweiding beweeg word. Die eindresultaat van ultrahoëdrukbeweiding is wanneer die veelading (in die weistroke) gelykstaande aan sowat 5 000 diere/ha sal wees.
Sodra die stelsel geïmplementeer is, sal die realiteit wees dat ongeveer 33% van die totale hoeveelheid kampe jaarliks vir ‘n volle jaar gerus sal kan word. Die resultaat hiervan is dat die wortelstelsel se reserwes geweldig baie toeneem in die groeiseisoen en dat die smaaklike spesies, byvoorbeeld rooigras, kwantitatief én kwalitatief toeneem.
Daar behoort dus ‘n driejaar-plan vir beweiding en rus van alle kampe te bestaan. ‘n Verdere bestuursaksie is dat die kampe wat vir die laaste keer bewei word voordat hulle ‘n volle jaar sal rus, regtig skoongewei moet word sodat alle beskikbare plantmateriaal benut kan word.
Indien die beeste in die stelsel aangepas is, behoort hulle relatiewe voerinname te verhoog aangesien hulle kompeterend begin vreet. Die resultaat hiervan is dat die diere se kondisie tot 20% beter kan wees as wanneer die diere aan ‘n konvensionele beweidingstelsel onderwerp word. Dit oefen uiteindelik ook ‘n positiewe invloed op reproduksieprestasie uit.
Meer en goedkoper
Indien ‘n stelsel geïmplementeer word wat tegelykertyd die drakrag verhoog asook die kwaliteit van die weiding verbeter, sal die veeprodusent in staat wees om meer en goedkoper op dieselfde plaas te kan produseer.
Dit beteken dat die winsgewendheid verhoog sal word. Dit is so dat hierdie stelsel meer bestuur van die eienaar vereis, maar ‘n mens kan tog nie meer vir minder insette verwag nie? In die volgende uitgawe sal die invloed van hoëdrukbeweiding en ultrahoëdrukbeweiding op die grond asook die implementering van die stelsel bespreek word.
Vir enige navrae in hierdie of enige ander verband wat hierby aansluit, kontak Hennie du Toit by 084 515 6817 of hennie@nwk.co.za.
Bronnelys
Gekoördineerde voorligtingsaksie, 1987. Beplanningsriglyne vir die veeboer.
Harvey, K. 2014. Persoonlike mededelings.
Jooste, Chris. 2003. Voorkom “droogtes” met veldbestuurstelsel. Landbou.com.
Tainton, N.M. 1981. Veld and pasture management in South Africa.
Zietsman, J. 2011. Drukbeweiding.
Publication: October 2014
Section: Focus on