January 2015
JASON SPARROW, landboukundige, Sidi Parani
Droëlandboerdery is oor die alge meen nie maklik nie en word gekenmerk deur vele uitdagings. Verhoogde insetkoste, soos diesel, saad, kunsmis, plaagbeheermiddels en arbeid, gepaardgaande met ‘n ongunstige mielieprys, motiveer produsente om meer effektief te dink.
Die grootste vraag is: Hoe bestuur ‘n produsent die onbeheerbare faktore, soos die hoeveelheid reën en nog belangriker, die verspreiding van reën? Die maklikste antwoord is dat ‘n produsent moet doen wat hy kan, met wat hy het, maar dit beteken ook dat die besluite wat geneem moet word, al hoe meer en moeiliker raak.
Besluite rakende plantestand kan dalk maklik oorgesien word, maar kan wel ‘n groter rol speel in die optimalisering van ‘n droëlandboerderysisteem.
Presisieboerdery en plantestand
Die presisieboerderykonsep is lank nie meer net ‘n idee wat in ander lande toegepas word nie. Dit is uit en uit deel van ons landbou en word nie alleenlik net toegepas nie, maar Suid-Afrika word gesien as een van die leiers op die gebied.
Die tendense wat die droëlandlandboubedryf tans ervaar, soos nouer rywydtes, wyer bewerking en veral groter planters met die hoogste tegnologie en akkuraatheid, maak variërende plantestand meer toeganklik. Die vraag is egter hoekom moet die produsent begin om plantestand te varieer en op watter gegewens of faktore gaan plantestand gevarieer word?
Hoekom variërende plantestand?
Droëlandgewasproduksie word gedryf deur reënval, maar meer spesifiek deur grondbeskikbare vog. Daarom is die grootste rede vir die veranderlike toediening van plantdigtheid om die effektiewe benutting van grondvog te kan optimaliseer deur die verhoging van die watergebruiksdoeltreffendheid.
Elke droëlandprodusent moet daarna streef dat ‘n plaas of ‘n land meer graan moet produseer met minder gebruik van grondvog in millimeters per hektaar.
‘n Voorbeeld wat gebruik kan word om die konsep te illustreer, is ‘n land wat op een gedeelte hoogliggend is met ‘n diep, goed gedreineerde grond wat ‘n droër tipe keerlaag het waar water lateraal beweeg na die laagliggende dele van die land.
Die laagliggende deel versuip maklik, want die keerlaag is vlak en die klei-inhoud is baie hoog en dus kan baie water gestoor word. Om 'n homogene plantestand op dié land te plant sal nie winsgewend wees nie ongeag van die tipe seisoen.
Plantestand moet verhoog op die dele wat versuip om die natuurlike vog te kan benut asook om suurstofstres te verlaag. Terselfdertyd moet die stand verminder tot op ‘n sekere minimumvlak op die hoogliggende gebied om droogtestres te bestuur. Vanuit hierdie perspektief maak dit sin om plantestand te varieer.
Faktore wat variërende plantestand beïnvloed
Grondvog speel die grootste rol om die optimale plantestand te bepaal. Grondfisiese eienskappe, soos grondvorm, effektiewe worteldiepte, klei-inhoud en struktuur per horison asook die tipe keerlaag is die belangrikste faktore om in ag te neem.
Die bogenoemde eienskappe beïnvloed die hidroliese dinamika in die grondsisteem en daarvoor moet die grond se fisiese eienskappe bepaal word en die grondvoginhoud gemeet word. Die profielvoorsieningstempo moet ook bereken word, want dit kan ‘n beperkende faktor raak, veral in seisoene waar swak reënvalverspreiding voorkom.
Rywydtes speel ook ‘n groot rol, want plantestand moenie as ‘n eenheid bestuur word nie, maar as ‘n kombinasie met die agronomiese sisteem. ‘n Wyer rywydte met ‘n hoë plantpopulasie kan skade veroorsaak en opbrengs verlaag.
Die binnery-spasiëring is noodsaaklik en in hierdie geval is die populasie op die ry te hoog en dus word die grondvog te vinnig uitgeput. Die vog tussen die rye beweeg te stadig na die wortels toe, veral ‘n grond wat ‘n baie lae profielvoorsieningstempo het.
Die grond tussen die rye op ‘n wyer rystelsel is blootgestel. Sonlig kan die temperatuur op die grondoppervlakte verhoog en dus grondvogverliese bespoedig deur middel van verdamping. Die nuutste tendens is om nouer rywydtes te plant en met dié word die hele grondprofiel op ‘n driedimensionele vlak meer effektief benut.
Daar is verminderde binneryvogstremming en beter grondbedekking. ‘n Mikroklimaat word gevorm wat meer gunstig is vir vogbewaring. Nouer rywydtes stimuleer die groei en verspreiding van fyn haarwortels in die boonste 10 cm van die grond wat reënvaleffektiwiteit verhoog. Nouer rywydtesisteme is gunstiger vir variërende plantestandtoediening.
Dit sal wys wees om topografie ook as ‘n faktor te oorweeg met die variërende plantestandproses. Topografie speel ‘n belangrike rol in die beweging van oppervlakwater asook grondwater. Hoogliggende dele is geneig om droër te wees en beter te kan dreineer waar water in die leegtes akkumuleer. Die formasie van gronde word ook ondermeer gedryf deur topografie.
Voordat daar besluite geneem word rakende plantdigtheid, moet 'n produsent eers verseker dat daar geen beperkings op ‘n chemiese vlak is nie. Dit wil sê die grondchemiese status moet eers reggestel word. Belangrike aspekte soos pH, suurversadiging, fosfaat (P), kalium (K), kalsium (Ca) en magnesium (Mg) -vlakke moet in lyn wees. Die variërende toediening van bemesting moet in plek wees om die volle potensiaal te kan benut uit die veranderlike toediening van plantestand.
Bespreking van proefresultate en data
Terratek het proewe gedoen in samewerking met Monsanto en Omnia om die optimale plantestand van mielies op verskillende gronde te bepaal. Die proefuitleg was om vier verskillende plantdigthede te toets, naamlik 20 000, 24 000, 28 000 en 32 000 plante per hektaar. Die kunsmis is aangepas volgens die behoefte van elke stand en vogmetings is gedurende die seisoen op twee verskillende maniere geneem.
Die een is geneem met die Neutron-vogmeter, wat gekalibreer is en die metings is geneem op elke 300 mm-interval tot op ‘n diepte van 2 100 mm. Die tweede manier was om die kapasitansie probes van Aquacheck te gebruik om sekere tendense te bepaal tot op 'n diepte van 1 500 mm.
Die gemiddelde rywydtes van die gekombineerde proef was 1,05 m. Al die resultate is uitgedruk as watergebruiksdoeltreffendheid in kg/mm/ha. Die water gebruiksdoeltreffendheid is 'n omvattende indeks wat die algehele doeltreffendheid van plantwater gebruik, kan evalueer (Turner, 1987).
Grafiek 1 verteenwoordig die data van ‘n Avalon grondvorm wat ongeveer 30 km suidwes van Bothaville is. Dié diep, hoëpotensiaal grond het ‘n watertafel op 1 400 mm vanaf die oppervlakte. Die diagnostiese horisonne van die grond is ‘n Ortiese A (klei = 5%) op 'n geelbruin Apedaal B (klei = 10%) op ‘n sagte plintiet B (klei = 15% tot 25%).
Volgens Grafiek 1 kan ons sien dat die 28 000 plantestand die beste gevaar het in terme van watergebruiksdoeltreffendheid en ook die hoogste opbrengs van 6,2 ton/ha het. Interessant is dat die 32 000 proef die tweede beste opbrengs het, maar het ook die meeste water gebruik as die ander wat ondoeltreffend is.
Grafiek 2 toon die data aan van ‘n tweede proef wat ongeveer in dieselfde gebied is as die eerste een, maar die vogstatus is wel baie hoër. Op dié plaas is versuipskade ‘n baie groot realiteit as gevolg van die uiterste hoë watertafel van 600 mm diep.
Die grondvorm is ‘n Pinedene wat nie die sagte plintiet keerlaag het nie, maar wel 'n keerlaag wat baie hoog is in klei (40%) en met lang tye versadig is met water. Die land lê ook laer in die landskap.
Suurstofstres en dus swak wortelontwikkeling is ‘n groot opbrengsbeperking en met die regte plantestand kan die omstandighede bestuur word. In dié geval wil die produsent die meeste water gebruik met die hoogste opbrengs moontlik.
Ons kan sien dat die 32 500 plantestand die beste gedoen het in terme van watergebruiksdoeltreffendheid asook opbrengs. Die laagste stand van 20 000 het die swakste gedoen as gevolg van versuiptoestande.
Grafiek 3 verklaar baie goed wat gebeur met opbrengs asook grondvog wanneer die verkeerde plantdigtheid geplant word. Die proef was naby Makwassie gewees op 'n hoogliggende deel van die plaas waar ‘n diep, goed gedreineerde Hutton grondvorm voorkom.
Die grond is rooi in kleur en het ‘n klei-inhoud van nie meer as 10% deur die profiel nie. Daar is geen watertafel nie en die tipe keerlaag is droër van aard. Die keerlaag bestaan uit saproliet wat verweerde rots is wat baie bros en brokkelrig is. Die tipe keerlaag kan nie water keer nie en die water beweeg lateraal weg saam met die helling.
Die proef het effens verskil van die ander, want die plantestandopsies gekies vir die gebied was 18 000, 22 000, 26 000 en 30 000 plante per hektaar. Die ideale plantestand op die grond was 22 000 en die 26 000 het ‘n goeie opbrengs, maar het meer water gebruik as die 18 000.
Die 30 000 het heeltemal verdroog en het 1,8 ton/ha minder opbrengs as die 22 000 plantestand. Die ekonomiese verlies op die opsie is baie hoog veral met die saadkoste asook die addisionele bemesting in ag geneem.
‘n Moontlike rede vir die feit dat die 18 000 plantestandopsie nie beter gepresteer het as die 22 000 nie, is dalk dat die vogverliese deur middel van verdamping hoër was, gekoppel met minder mieliekoppe per hektaar.
Samevatting
Die resultate van die proewe bewys dat plantestand direk korreleer met die profiel beskikbare water, grondfisiese eienskappe en topografie. ‘n Variërende plantestand benadering kan die antwoord wees om die beduidende verskille in grondvog te kan bestuur en ‘n stap nader te tree om grondvogbewaring te kan optimaliseer. Alles begin by die kartering van die fisiese eienskappe van die grond en om die seisoenale grondvog te bepaal.
Variërende toediening van plantestand is die volgende stap in die presisieboerderyketting. Die konsep verg egter nog in situ navorsing veral in kombinasie met rywydtes en kultivars. In die toekoms sal 'n produsent ook verskillende kultivars oor ‘n land kan variëer saam met 'n veranderlike plantdigtheid. Om volhoubaar te wees, moet daar egter ‘n balans wees tussen die vogbalans en die bankbalans.
Vir meer inligting rakende grondfisiese en chemiese analise, grondvogbepaling en variërende plantestand, kontak die presisieboerderyspesialiste by Sidi Parani by 082 805 5177 of jasons@sidip.co.za.
Publication: January 2015
Section: On farm level