• Login
  • Search Icon

Van ekstensief tot intensief: Watter stelsel is die mees winsgewende?

February 2013

– Deel 1: Verskillende stelsels

 

image

HENNIE DU TOIT, VEEKUNDIGE, NWK LANDBOU BE STUURSDIENSTE

Daar is altyd heelwat oor die winsgewendheid van die verskillende skaapboerderystelsels te sê. Veral die intensiewe en ekstensiewe stelsels is gereeld onder bespreking.

Aangesien die skaapvertakking in die Noordwes Provinsie asook Vrystaat besig is om geleidelik weer uit te brei, is dit gepas om die verskillende stelsels te bespreek.

Die eerste aflewering in die reeks oor skaapboerdery, handel dus oor die winsgewendheid van die verskillende stelsels. Die daaropvolgende aflewerings sal grootliks oor fasiliteite asook bestuurs- en voedingsaspekte handel.

Die verskillende stelsels is in Tabel 1 opgesom. Die basis is ‘n tropgrootte van 300 ooie wat vir elke stelsel dieselfde is. Die stelsels varieer van ekstensief, waar slegs van natuurlike weiding gebruik gemaak word, tot intensief, waar ‘n groot deel van die weiding uit besproeide weidings bestaan.

Hierdie stelsels sal die basis van al die af lewe rings in die reeks uitmaak.

image

Ekstensiewe skaapstelsels

Hier word slegs van natuurlike weiding gebruik gemaak. Daar vind van tyd tot tyd aanvullende voeropsies plaas, maar dit is op bestuursaktiwiteite geskoei. Voorbeelde hiervan is prikkelvoeding en kruipvoer. Let op dat by hierdie opsie die grootste plaas benodig word – 360 ha – om ‘n netto wins van R223 493 te maak. Die wins per hektaar is dus ook die kleinste van al die stelsels.

Semi-ekstensiewe stelsels

Hier word byvoorbeeld ‘n gedeelte van die winterweiding deur mielieoesreste verskaf. Die totale plaasgrootte is nog dieselfde, maar die netto wins is effens meer. Die rede hiervoor is dat minder kruipvoer deur die lammers benodig word aangesien hulle ook die oesreste benut en dus minder kruipvoer vreet.

Die wins van die mielie-opbrengs is nie hier in berekening gebring nie aangesien dit ‘n ander komponent van die boerdery is.

Semi-intensiewe stelsels

Hier word ook van weimielies en aangeplante weiding as voerbronne gebruik gemaak. Die plaas hoef dus ongeveer 152 ha kleiner te wees om dieselfde tropgrootte te handhaaf. Die wins per hektaar verhoog, maar die wins per ooi neem af aangesien die voerkoste nou duurder word.

Intensiewe stelsels

Hier word meestal van besproeiing gebruik gemaak as die hoofvoerbron. Dit is duur, maar kan ‘n baie hoë drakrag hanteer. Die plaasgrootte neem dus drasties af wat die wins per hektaar baie vergroot. Die wins per ooi is egter die laagste van die vier stelsels.

image

Opsomming

Die uitgangspunt is dat die kuddebestuur van elke stelsel optimaal is, maar dat die prestasie van die kudde (lampersentasie) dieselfde gaan wees. Dit word egter algemeen aanvaar dat produsente wat meer intensief boer, gewoonlik meer aandag aan die kuddebestuur gee as die produsent wat ekstensief boer. Die resultaat is dus 'n groter lampersentasie met meer wins.

Hoe meer intensief geboer word, hoe duurder word die voerkoste. Die drakrag verhoog egter ook met die groter wins per hektaar. Vir die beste resultate kan ‘n kombinasie van die stelsels geïmplementeer word. Om die
meeste uit die kudde te haal, moet kuddebestuur egter ook optimaal plaasvind.

Vir enige navrae in dié verband, kan jy vir Hennie du Toit kontak by (018) 633-1153 of 084 515 6817 asook by hennie@nwk.co.za.

Bronnelys

Jordaan, F.P. Veldtoestand, produksie en weidingskapasiteit. Department: Agriculture, Conservation, Environment andRural Development, North West Provincial Government,Potchefstroom.
Thorne, M.S. and Stevenson, M.H. Stocking rate: The most important tool in the toolbox. Pasture and RangeManagement, June 2007, Hawaii.

Publication: February 2013

Section: Input Overview

Search