• Login
  • Search Icon

Uit vergange se dae

March 2013

– Maart 2013

image

Beste Grootneef

Onlangs had ek die unieke geleentheid om familietyd te deel met ooms, tantes, niggies en neefs by 'n baie spesiale verjaarsdagfees. Dit is nie elke dag dat iemand 'n negentiger word nie! Tussen die gekuier het ek vir 'n oomblik sommer net stilweg sit en luister na die geruis van stemme en staaltjies uit vergange se dae. Een daarvan was 'n grootwordstorie tydens die depressie.

Oom Sarel het in 1925 besluit om te verskuif van die familieplaas "Zamenzuipen" (ja wragtig!), wes van Bloemfontein, na die plaas "Witpan" in die Brandfort-distrik. Dit was maar 'n harde wêreld om 'n bestaan te maak en daar moes geraap en geskraap word om te oorleef. Om die karige boerderyinkomste aan te vul, het oom Sarel 'n skoolbus aangeskaf om skoolkinders met 'n goewermentskontrak te karwy.

Maar soos Laurika Rauch sing van die son wat te warm was en die reën te skaars, het die boerderyplanne naderhand ook opgeraak. Die man van die bank het net sy kop geskud en al uitweg was om in 1933 'n heenkome in die Goudstad te gaan soek. Die gesin is toe sak en pak weg van Witpan na die Witwatersrand. Alles wat kon, is in of op die skoolbus vasgemaak – die mak bobbejaan met 'n ketting bo-op die bus...

Met kinders, honde en hoenders wat by die bus se vensters uitloer, is die lang pad gevat na die familie in Johannesburg. Die trektog is verby Winburg, Uncle Charlies, deur Booysens tot by die familie in Bezuidenhoudtsvallei. Die bobbejaan was naderhand so geleerd met die ryery, dat as die bus in die oggende start, hy self op die bus se dak gespring het om die wêreld van daar te bespied.

Ná 'n paar maande in Johannesburg, moes daar weer verskuif word na 'n ander blyplek. Wat van die bus en bobbejaan geword het, weet ek nie, maar soos ek verstaan is pa, ma en kinders met 'n dubbelkatel op wieletjies daar weg, met al hul aardse besittings op die kooi gestapel.

Alles het goed gegaan tot by 'n duikweg, waar swaartekrag die bed laat weghol het tot onder in die dippie. Dit het aanleiding gegee tot Johannesburg se eerste verkeersknoop!

Baie dekades later, hang daar doktorsgrade in drie van hierdie kinders se studeerkamers. Armoede het nie 'n ewige boei gebly nie en harde werk is beloon.

Vandag nog trek duisende mense uit bitter arm landelike gebiede stede toe – selfs so ver as van oor die Limpopo. Daar wag egter nie kits rykdom in Egoli se strate nie. Dikwels ontnugtering. Dikwels 'n lewe harder as die teerstrate. Dikwels 'n leë maag.

Ou Neef, met die stede vol arm en honger mense, is dit 'n seën dat die mielielande vanjaar met 'n belowende oes staan. En dat daar produsente is wat weet hoe om te boer, ten spyte van moeilike natuurs - omstandighede. Het iemand in die goewerment al die sommetjie gemaak van wat mieliemeel sou kos indien alles ingevoer sou word?

Met 'n koste-knyptang wat al wat verbruiker is blou druk, is mieliemeel steeds 'n voorkeurdis. Dalk moet ons 'n bufferplakker by tolhekke uitdeel met die boodskap "Koester boere, hulle sorg vir kos" oftewel "Farmers feed the nation"!

Ou Neef, ons sien mekaar weer die eerste week in Maart by die Graan SA Kongres. Ek lees dat die tema handel oor "meer met minder". Ek sien uit na die debatte. Die vet weet, boerdery is taai – sal graag wil weet hoe kan ek meer met minder op my plaas uitrig.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Publication: March 2013

Section: E-mails

Search