September 2011
Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder
Ek was gedurende die eerste week van Augustus in die VSA by ‘n leierskapsopleidingskursus wat deur die National Corn Growers Association vir hulle topprodusente aangebied is.
Dit is deur Syngenta geborg en die geleentheid was die resultaat van die samewerking wat gevolg het op hulle uitvoerende bestuurder se besoek aan Graan SA tydens ons Kongres in Maart 2011. Behalwe vir die uitstekende inhoud van die kursus, was dit tog opvallend hoeveel verskille daar tussen Suid-Afrika en die VSA is; en dan weer sommige sake wat bykans presies dieselfde is. As gevolg van die resessie en hul kredietafgradering, beleef die VSA ‘n groot selfvertrouekrisis.
Hulle vrees die Sjinese en in alle toekoms-scenario’s en beleid word daar oor die reaksie en optrede van Sjina bespiegel. Daar is baie voorbeelde aangehaal van the new normal wat veral die verlaging van die lewenstandaarde van hulle middelklas insluit. Die lewenstandaardverlaging gaan hul verbruikspatrone van voedsel beïnvloed en ook waarskynlik hoe hulle gaan stem tydens die volgende verkiesing.
Daar bestaan ‘n vrees by VSA graanprodusente dat die regering weens die groot begrotingstekorte die subsidies en regulatoriese hulp van die biobrandstofbedryf kan onttrek – wat katastrofiese gevolge vir graanpryse kan inhou. Die VSA verbruik tans tussen 30% en 40% van hulle mielies vir die vervaardiging van etanol.
‘n Ander verskil wat my opgeval het, is die felheid van die debat oor landbou en die omgewing. Hierdie debat is tussen die verbruikers en Groenes aan die een kant en die graanprodusente aan die ander kant. Die meeste van die debat vind via die media en veral die sosiale media (Facebook, Twitter en blogs) plaas.
Daar is dus sterk daarop gefokus om produsenteleiers (en hul vrouens) op te lei om die sosiale media te gebruik om hulself te verdedig en deel te neem aan die debat wat op ongewone “grond” plaasvind. Is dit waarheen ons debatte in Suid-Afrika op pad is? Hier is dit egter tussen die produsente en die regering en handel oor eiendomsreg, grondbesit en volhoubare produksie.
Honger Afrika lê maar laag op hulle sakelyste. Dit bly sommer net so ‘n generiese, onemosionele opmerking wat altyd in die debat ingesleep word wanneer dit hulle argumente om meer te produseer, pas. Hulle weet hoe honger Afrika lyk op die TV, maar het nog nie in die oë van die kinders gekyk wat hooploos geword het weens honger nie.
Dit is hier waar daar die groot verskil inkom; om hulle te laat verstaan dat subsidies tot oorproduksie lei en dit wêreldpryse só verlaag dat Afrika nie meer volhoubaar vir haarself kan produseer nie. Die opmerking “You deny us the right to produce” (Julle ontneem ons die reg om te produseer) gaan nie lekker af by hulle nie.
Die VSA het ‘n goeie geleentheid om van hulle landbousubsidies ontslae te raak gegewe waar pryse nou staan en sodoende nie net die ontwikkelende lande te help om meer winsgewend en volhoubaar te produseer nie, maar ook sommer ‘n bydrae te maak tot die reusebegrotingstekorte wat hulle beleef. Na die week tussen hulle leiers, beleef ek net weer dat ons nie vir hulle hoef terug te staan nie, maar dat ons slimmer moet werk om ons beleidsomgewing beter te kry, is beslis. Ons gaan ons landbouleiers beter moet toerus om met beleidmakers te skakel en self ook betrokke te raak en nie net iemand te betaal om dit te doen nie.
Graan SA het hierin ‘n rol te speel om die debatte oor volhoubare, winsgewende graanproduksie tot ‘n punt te bring waarby almal klaar gepraat het, almal klaar besluit het en almal net besig is met implementering.
Publication: September 2011
Section: Editorial