September 2013
MARYKE CRAVEN, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
Om jaarliks die leisels met elke produksie bymekaar te hou, bly ‘n kuns en om jou vinger stewig op die plante se gesondheid te hou, is nog moeiliker.
Daar word egter ‘n wetenskaplike siening gehuldig dat wanneer 80% energie in jou beplanning ingaan, net 20% energie nodig is vir die uitvoering daarvan. Daarbenewens geld die volgende ook: Wanneer jy oor genoegsame kennis beskik, word beplanning aansienlik makliker.
Noordelike mielieblaarskroei (veroorsakende organisme: Exserohilum turcicum) is tans een van die algemeenste en mees wydverspreidemielieblaarsiektes in Suid-Afrika. In die besproeiingsgebiede is diesiekte algemener en gevolglik ‘n groter probleem.
In die geval van droëlandproduksie, is die siekte meer algemeen in die KwaZulu-Natalse Middellande waar die omgewingstoestande baie gunstig is vir die ontwikkeling en verspreiding van die siekte. Droëlandproduksie in die Noordwes Provinsie, Vrystaat en Mpumalanga is onderhewig aan noordelike mielieblaarskroei wanneer gunstige, humiede toestande regdeur die seisoen voortduur.
Die waarneming is gemaak dat wanneer die siekte wel posvat in bogenoemde gevalle, die graad van siekte hewiger is as in die verlede en dus ‘n groter probleem veroorsaak. Hierdie verskynsel kan moontlik toegeskryf word aan meer vatbare basters wat in die mark beskikbaar is, of weens die feit dat die inokulumdruk onder droëlandproduksie besig is om te verhoog.
Produksie onder besproeiingsisteme is onderhewig aan noordelike mielieblaar skroei-epidemies weens die warm, humiede toestande wat binne sulke sisteme geskep word. Opbrengsverliese as gevolg van noordelike mielieblaarskroei is gevolglik ‘n jaarlikse probleem onder die besproeiingsisteme langs die Vaal-, Modder- en Oranjerivier. Internasionale literatuur dui op verwagte oesverliese van tot 50%, terwyl verdere literatuur verwys na ‘n verwagte 2% - 8% oesverlies vir elke 10% toename in siektegraad.
Die geskatte koste verbonde aan ‘n voorkomende spuitprogram wissel tussen R790/ha en R890/ha en behels ‘n gemiddeld van twee bespuitings per seisoen. Tydsberekening van die toedienings is kritiek, aangesien noordelike mielieblaarskroei baie moeilik onder beheer gebring kan word as dit eers in ‘n aanplanting posvat.
Dit is dus ‘n baie gevaarlike aanname om te maak dat chemiese beheer die oplossing is vir alle siekteverwante probleme. ‘n Geïntegreerde benadering, gebaseer op die insluiting van weerstandbiedende basters in ‘n produksie, tesame met spuitprogramme, sal uiteindelik daartoe bydra dat groter suksesse behaal word in terme van die optimale opbrengs wat verkry kan word.
Agtergrond rakende die swam
Noordelike mielieblaarskroei kan onderskei word van die ander blaarsiektes deur sy lang, ovaalvormige, grys-groen letsels wat later ver bruin (Foto 1). Die letsels kan tussen 2,5 cm en 15 cm in lengte wees en vorm gewoonlik eerste op die onderste blare, vanwaar dit teen die plant opbeweeg (Foto 2).
Die swam oorleef hoofsaaklik op plantreste gedurende die winter. Ontkiemende spore van E. turcicum het die vermoë om die opperhuid (die laag vetterige materiaal wat aan die buitekant van die epidermis voorkom) en epidermis (die laag selle aan die buitekant van byvoorbeeld die blare) van die plant te penetreer en infekteer selde deur die huidmondjies.
Dit is egter belangrik dat produsente moet besef dat enige skade wat aan die blare aangerig word daartoe kan bydra dat die plant onder soveel stremming geplaas word, dat dit meer vatbaar vir stamvrotte kan word. Wanneer ‘n erge graad van blaarsiektes voorkom, gebeur dit dikwels dat stamvrotte ook aansienlik toeneem en so bydra tot die totale opbrengsverlies wat gelei word.
Kies jou basters wys
Die inkorporering van weerstandsgene in mieliebasters word beskou as die mees effektiewe wyse van siektebeheer. Hoofweerstandsgene (Ht1, Ht2, Ht3 en HtN) word tans in teelprogramme gebruik om weerstand teen E. turcicum in basters te vestig. Letsels van die basters met een of meer van die Ht1-, Ht2- of Ht3-gene, toon vergeling (chlorose,
Foto 3) en beperkte sporulasie kom op sulke letsels voor.
Soms gebeur dit dat ‘n spesifieke baster wat een of meer van die hoofweerstandsgene bevat, ná ‘n paar jaar nie meer effektiewe weerstand teen ‘n siekte bied nie. Hierdie afbreking van weerstand is dan in alle waarskynlikheid die gevolg van die voorkoms van ‘n nuwe ras van die siekte-organisme.
Die term “ras” verwys na ‘n spesifieke groep swamme binne ‘n patogeniese spesie waarvan die gasheerreeks beperk is tot sekere variëteite. Die rasse van E. turcicum word vernoem na die noordelike mielieblaarskroei-weerstandsgeen waarteenoor dit virulent is (menende dié gene wat nie meer effektief is nie).
Ras 0 is byvoorbeeld avirulent vir al die Ht-weerstandsgene. Sou die dominante ras in die Bethlehem-area ‘n Ras 0 wees, beteken dit dat mieliebasters met enige van die noordelike mielieblaarskroei-weerstandsgene effektief die siekte sal stuit. Ras 13N dui weer daarop dat hierdie spesifieke “vorm” van noordelike mielieblaarskroei in staat sal wees om die weerstand wat die Ht1-, Ht3- asook HtN-gene bied, te oorkom en die plant te infekteer.
Sou die dominante noordelike mielie blaarskroei-ras in byvoorbeeld die Winterton-area tot die Ras 23-groep behoort, beteken dit dat die mieliebasters wat Ht2 en/of Ht3 as weerstandsgene bevat, nie effektiewe weerstand teen die siekte sal kan bied in hierdie omgewing nie. Die plant sal dus weerloos teen die siekte wees, ten spyte van die weerstandsgene wat dit bevat. Foto 4 is ‘n voorbeeld van wat kan gebeur indien ‘n nuwe ras in ‘n gebied inkom.
Van die E. Turcicum-rasse wat wêreldwyd bekend is, sluit in Ras 0, 1, 23, 1N, 2N, 23N en 123N. In die soeke na volhoubare weerstand teen noordelike mielieblaarskroei, is dit noodsaaklik dat die beskikbare weerstand getoets moet word teen alle patotipes wat bestaan vir die siekte. Deur voortdurend verskillende isolate (noordelike mielieblaarskroei afkomstig vanuit verskillende gebiede) te evalueer vir hul ras, kan die rasse in verskillende gebiede bepaal word en kan die voorkoms van ‘n nuwe ras betyds bevestig word, voordat dit tot erge oesverliese lei. Die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) is tans besig met so ‘n moniteringsprojek.
Wees slim met chemiese beheer
Die eerste stap in die beheer van enige siekte is om die siekte korrek te identifiseer of te laat identifiseer. Met die korrekte identifikasie van die probleempatogeen, kan die produsent nou verskeie opsies oorweeg vir die bestuur van die siekte. Weerstandbiedende variëteite vir noordelike mielieblaarskroei is beskikbaar en word beskou as die eerste stap vir ‘n geïntegreerde bestuurspraktyk. Addisionele praktyke, soos die verwydering van gewasresidu’s asook gewasrotasie, kan die primêre inokulumvlakke verlaag. Spore wat vanaf naburige plase inwaai, kan steeds infeksie tot gevolg hê.
Verskeie swamdoders is beskikbaar vir die beheer van noordelike mielieblaarskroei. In hoë siektepotensiaalgebiede soos dié wat gewoonlik geassosieer word met KwaZulu-Natal, of onder besproeiingsisteme, word beheer deur middel van swamdoders as voorkomingsmaatreël standaard toegepas.
Verskeie produsente is huiwerig om te spuit vanweë die koste verbonde daaraan, of vanweë die wisselvallige voorkoms van blaarsiektes. In sulke gevalle is die monitering van produksie van kardinale belang.
Aangesien die meeste blaarsiektes hoofsaaklik voorkom vanaf baardverskyning, is weeklikse monitering noodsaaklik gedurende die vegetatiewe stadia van die plant. Só sal die produsent vroegtydig bewus word van potensiële probleme wat kan ontstaan. Dit sal ook makliker wees om te bepaal wat die spoed is waarteen die siekte in ‘n gegewe land ontwikkel, wat gevolglik meer duidelikheid sal gee oor hoe dringend gespuit moet word.
Voor bespuiting plaasvind, is daar ‘n paar oorwegings wat in gedagte gehou moet word. In die geval van noordelike mielieblaarskroeibeheer onder droëlandtoestande, word dit gewoonlik as onekonomies beskou om swamdoderbeheer toe te pas en word die praktyk gewoonlik beperk tot saadproduksie.
Wanneer daar wel na swamdoders gekyk word weens gunstige weerstoestande en hoë infeksiedruk, moet dit op die korrekte tyd toegedien word om koste-effektiewe beskerming te verseker. Onder besproeiingsisteme word aanbeveel dat aanplantings gespuit moet word wanneer daar ‘n gemiddeld van een noordelike mielie blaarskroei-letsel per plant sigbaar is.
Produsente is welkom om die LNR-IGG te kontak by 018 299 6100 vir enige hulp rakende die identifikasie van plantsiektes.
Publication: September 2013
Section: Input Overview