July 2014
HANS LOMBARD, namens Fertilizer Association of Southern Africa
Die groeipotensiaal in die kunsmisuitvoermark in buurlande soos Mosambiek, Angola, Zambië en Malawi is ontsaglik. Die Suid-Afrikaanse kunsmisbedryf speel reeds ‘n belangrike rol in hierdie lande.
“FertASA (Fertilizer Association of Southern Africa) kan ‘n nog groter rol speel in die ontwikkeling van die kunsmisbedryf in Suider-Afrika,” het mnr Adriaan de Lange, voorsitter van FertASA en besturende direkteur van Omnia Kunsmis, in sy jaarverslag gesê op die 54ste jaarkongres van dié vereniging, wat in Johannesburg gehou is.
As gevolg van ongesteldheid is De Lange se verslag voorgelê deur mnr Adam Mostert (hoof uitvoerende beampte: FertASA).
Volgens die verslag, het die kunsmismark in Suid-Afrika in die vroeë tagtigerjare sy hoogtepunt bereik. Geen betekenisvolle groei is vir die onmiddellike toekoms voorsien nie. Suid-Afrika is steeds ‘n netto invoerder van kunsmisprodukte; ammoniak en rotsfosfaat uitgesluit. In 2013 het Suid-Afrika 1 408 271 ton kunsmis ingevoer – 5,7% minder as in die vorige jaar – teen ‘n koste van R5,6 miljard.
Die uitvoertonnemaat in 2013 het met bykans 64% tot 665 000 ton ter waarde van meer as R4 miljard toegeneem vergeleke met R2,1 miljard die vorige jaar. Die belangrikste lande vir uitvoer is Zimbabwe en Zambië, wat 62% van die uitvoer ontvang. Albei het hul invoer uit Suid-Afrika in 2013 aansienlik verhoog. Die verrassing was dat Botswana in die derde plek was.
Uitvoer na Mosambiek het gedaal, terwyl uitvoer na Australië, Brasilië, Malawi, Swaziland, Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Kenia deurgaans gestyg en vir Suid Afrika waardevolle buitelandse valuta verdien het.
Die hoofrede vir die groot invoere is die gebrek aan produksiegeriewe vir ureum en die afwesigheid van potasbronne in Suid-Afrika. Ureum en kaliumchloried verteenwoordig die oorwig invoere.
Volgens De Lange, het die Suid-Afrikaanse kunsmisbedryf in die afgelope jare ‘n mate van geloofwaardigheid verloor. Dit is oor beskuldigings van samespanning en prysvasstelling. Dit het die positiewe bydrae oorskadu wat die bedryf gemaak het om grondvrugbaarheid en voedselproduksie te bevorder.
FertASA het gevolglik herbesin om die bedryf soos volg van diens te wees:
Lede is toegewy aan ‘n streng gedragskode en aanvaar en onderskryf FertASA se riglyne vir voldoening aan mededingende gedrag ooreenkomstig die Mededingingswet. In die afgelope jaar het Fert ASA op ‘n aantal kritieke areas gefokus en die volgende bereik:
Kunsmiswet
Die voorgestelde wetsontwerp is deur die parlement afgekeur en terugverwys na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. FertASA het die departement versoek om die wette rakende veevoer en kunsmis te skei en daar is ingestem om dit te doen. Die kunsmiswet sal nou oopgestel word om ter wille van alle belanghebbendes in die kunsmisbedryf te wees.
Kunsmisregulasies
Die registrateur het planne aangekondig om die gebruik van sink-as as kunsmis te verban. FertASA het ‘n gedeeltelike verbod op sink-as voorgestel en voldoening aan die bestaande regulasies. ‘n Besluit deur die registrateur word afgewag.
Regulasies rakende Groep 3-misstowwe
Aangesien geen duidelike riglyne of kriteria bestaan vir die registrasie van Groep 3 misstowwe nie, is ‘n deskundige taakspan op dié gebied deur FertASA saamgestel om ‘n voorstel voor te berei wat aan die registrateur voorgelê kan word.
Produkregistrasie
Die registrateur het FertASA se aanbod aanvaar om te help met die pre-registrasieproses met die oog op die verkorting van die lang tyd wat produkregistrasie by die Departement van Landbou verg. Prosedures en stelsels is ontwikkel. Meer as 200 aansoeke geniet tans aandag. Die doelwit is om voor die einde van 2014 ‘n goedkeuringstyd van vier maande te bereik.
“Die Misstofvereniging van Suider-Afrika het ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Sy vlerke is ook wyer oor Suider-Afrika gespan om landbou en volhoubare voedselsekerheid doeltreffender te dien. Die vereniging sal voortaan bekend staan as die Fertilizer Association of Southern Africa (FertASA),” het die hoof uitvoerende beampte, mnr Adam Mostert, op die FertASA-kongres in Johannesburg bekend gemaak.
FertASA het ook ‘n duidelike visie en missie om landbou te dien, naamlik:
Visie: Om erken te word as die verteenwoordigende stem van die misstofbedryf met die stempel van goedkeuring vir verantwoordelike en volhoubare grondvrugbaarheid en plantvoeding in Suider-Afrika.
Missie: Om ‘n geloofwaardige platform te skep vir die bevordering van verantwoordelike en volhoubare aanwending van misstowwe.
Die vereniging het ook verander van ‘n Artikel 21 maatskappy na ‘n maatskappy sonder winsbejag. Vir die eerste keer is ook ‘n direksie verkies wat die hoogste gesag van die vereniging is.
Die direksie is: Mnr Adriaan de Lange, voorsitter, besturende direkteur van Omnia Kunsmis; (alternatief: Mnr Maarten
van Jaarsveld, bemarkingsdirekteur, Omnia Kunsmis); mnr Jaco Raath, visevoorsitter, direkteur Industrial Commodities Holdings (ICH); (alternatief: Dr Nicole Hart, sakebestuurder Misstowwe en Nywerheid, Lake International);
dr Pieter Hauman, hoofbestuurder, Graslandondernemings; (alternatief: Mnr Henk le Roux, seniorbestuurder handel, NWK); en mnr Adam Mostert, hoof uitvoerende beampte: FertASA. Daar is ‘n vakature vir nog een direkteur, wat later verkies sal word.
Mostert sê die samestelling van die raad is belangrik, omdat dit aan die kleiner maatskappye versekering van verteenwoordiging op die raad gee. Die direkteure het almal dieselfde stemreg. Die kleiner maatskappye het net soveel inspraak in die besluite van FertASA as die groot maatskappye.
FertASA het nou 28 lede teenoor 19 in 2012. Die mikpunt is om 30 lede teen die einde van 2014 te hê. Die lande in Suider-Afrika waarop FertASA hom gaan toespits, is Lesotho, Swaziland, Botswana, Angola, Zimbabwe, Zambië, Mosambiek en Malawi. Die vereniging het reeds twee lede in Zimbabwe – Chemplex en ZFC.
Dr John Purchase (hoof uitvoerende beampte: AgBiz) het die rol beskryf van agribesigheid ten opsigte van voedselsekerheid en die versekering van globale mededingende waardekettings in die breër agro-voedselsektor. Hy was ‘n spreker op die 54ste jaarlikse kongres van FertASA.
Hy het gesê dat volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) beteken voedselsekerheid “‘n situasie waar alle persone, ten alle tye, fisiese en ekonomiese toegang tot voldoende, veilige en voedsame voedsel het om aan hulle dieetkundige behoeftes en voedselvoorkeure te voorsien vir ‘n aktiewe en gesonde lewe.”
In hierdie opsig, het hy gesê, het Suid-Afrika in die algemeen ‘n goeie vlak van voedselsekerheid en beklee dit die nommer een posisie in Afrika. Suid-Afrika het ‘n betreklike goed ontwikkelde agribesigheidsektor.
“Agribesigheid kan ‘n kritieke rol speel as stukrag in ekonomiese transformasie in Afrika deur die ontwikkeling van agro-gebaseerde nywerhede wat werkverskaffing en inkomste kan voorsien waaraan daar ‘n groot behoefte is. Suksesvolle belegging in agribesighede stimuleer landbougroei,” sê Purchase.
Op ‘n kontinent betreklik ryk aan natuurlike hulpbronne, is daar groeiende kommer oor Afrika se toenemende invoer van landbouprodukte. Suid-Afrika is nog ‘n netto-uitvoerder van landbouprodukte, maar Purchase wys daarop dat daar ‘n duidelike tendens is dat hierdie surplus in landbouhandel stadig besig is om af te neem. Die uitdaging is om landbouproduksie te stimuleer, spesifiek ook met betrekking tot opkomende boere.
Prof Johan van Rooyen, direkteur van die Standard Bank Sentrum vir die Ontwikkeling van Agribesigheidsleierskap en -mentorskap, Universiteit Stellenbosch, het gesê dat landbou in Afrika nie stagneer nie.
Produksie het van 300 miljoen ton in 1984 toegeneem tot byna 750 miljoen ton in 2006. Met ‘n groenrewolusie kan Afrika die waarde van sy landbouproduksie verhoog van US0 miljard in 2011 tot meer as US0 miljard teen 2020 en US0 miljard teen 2030. Dit sal ‘n vraag na ‘n hele reeks stroomop-produkte en -dienste skep.
Teen 2030 word agribesigheid in Afrika geprojekteer op ‘n US triljoen industrie in Afrika suid van die Sahara. Landbou in Afrika het meer as US0 miljoen in privaatbeleggings in die eerste helfte van 2012 gelok, vergeleke met US miljoen vir die hele 2011. Standard Chartered het US miljoen vroeg in 2013 belê om ‘n aandeel in die graan- en kunsmishandel in Afrika suid van die Sahara te bekom. ‘n Verdere US miljoen is in Zimbabwe se tuinbousektor belê.
Vroue in Afrika produseer meeste van die voedsel. Tog ontvang hulle slegs 5% van landbouvoorligtingsopleiding en minder as 10% landelike krediet. Hulle verteenwoordig minder as ‘n kwart van die landbounavorsers. “Hierdie realiteit moet as ‘n prioriteit aangespreek word indien die produksie van opkomende boere verhoog en gekommersialiseer moet word,” het Van Rooyen beklemtoon.
Dr Jack Armour, Vrystaat Landbou se bedryfsbestuurder vir grondhervorming en plaasbestuur, het die kwessie van dualisme in die landbou aangespreek. Hy het daarop gewys dat in ontwikkelde ekonomiese lande daar groot steun is vir opkomende boere sowel as vir stedelike landbou.
Met ‘n groeiende wêreldbevolking moet alle produksiekanale ondersteun word om volhoubaarheid en voedselsekerheid te bevorder. “Die kunsmisbedryf sal moet aanpas om al hierdie nismarksegmente te dien,” het hy gesê.
Die Haber-Bosch-tegnologie, wat die reaksie van stikstof uit die atmosfeer met waterstofgasse beheer om sintetiese ammoniak te genereer, is ‘n belangrike tegnologiese deurbraak. (Vroeg in die twintigste eeu het talle chemici probeer om ammoniak uit lugstikstof te maak. Die Duitse chemikus, Fritz Haber, het ‘n proses ontdek wat vandag steeds gebruik word.)
Dit het bygedra om die kritieke wêreldhongersnood te verlig, sê mnr José de Sousa, markanalis vir stikstofprodukte van die Internasionale Misstofvereniging (IFA).
De Sousa was ‘n spreker op FertASA se jaarkongres en het gesê dié tegnologie het stikstofkunsmis op ‘n industriële skaal geproduseer wat landbouproduktiwiteit wêreldwyd verbeter het. Wêreldwye ammoniakproduksie het in 2013 die vlak van 169 miljoen ton NH3 bereik, ‘n 44%-verhoging in vergelyking met 117 miljoen ton in 1990.
Hy het verduidelik dat ammoniak die basiese grondstof is vir die totale stikstofkunsmisbedryf. Dit is die basiese inset vir alle stroomafstikstofprodukte, soos ureum, nitrate – insluitend AN en KAN – en indirek UAN- en NPK-mengsels.
“Ammoniak dien ook as ‘n basiese roumateriaal vir nywerheidsgebruike, wat tans verantwoordelik is vir 20% van wêreldwye stikstofverbruik. Dit is ‘n groeiende mark, duidelik los van die kunsmissektor, en minder siklies as landboumarkte. Ureum verbruik die meeste ammoniak – 54% in 2012, gevolg deur nitrate met 14,5%.”
“Aanduidings is dat ureum 62% van die geprojekteerde styging in die verbruik van ammoniak tussen 2012 en 2017 sal opneem. Volgens beplanning, sal bykans 55 nuwe ureumaanlegte tussen 2013 en 2017 in bedryf kom, waarvan 20 in China sal wees,” sê De Sousa.
Tot en met 2004 was China die wêreld se grootste ureum-invoerland, gevolg deur Viëtnam en Pakistan. Afrika sal na verwagting tussen 2012 en 2017 na vore tree as ‘n belangrike verbruiker, met naby aan 5,6 miljoen ton. Die langtermynvooruitsig van volgehoue misstofverbruik, en die sterk vraag na nywerheidsprodukte, het nuwe belangstelling en vraag in die ammoniak- en ureumsektore laat ontstaan.
‘n Wêreldopname in 2013 het getoon dat die ammoniakvolume met 19% sal styg, van 204,2 miljoen ton in 2012 tot 242,7 miljoen ton in 2017; ‘n gemiddelde jaarlikse styging van bykans 7 miljoen ton. Volgens die opname was amper 75 nuwe ammoniakfabrieke in aanbou wat na verwagting tussen 2013 en 2017 in bedryf sal kom.
“Natuurlike gas is die belangrikste grondstof wat gebruik word in die vervaardiging van stikstof met die Haber-Bosch-proses,” sê De Sousa. Die gasprys is ‘n belangrike faktor wat die prys van stikstofprodukte beïnvloed. In die geval van ammoniak kan aardgas verantwoordelik wees vir 75% tot 90% van die wisselende bedryfskoste. Steenkool en petroleumkooks verteenwoordig 31% van ammoniak se roumateriaal. In onlangse jare het ‘n tekort aan natuurlike gas die produksie van ammoniakgebaseerde produkte verlaag. Aan die ander kant het die ontwikkelings ten opsigte van skaliegas, nuwe belangstelling in die stikstofvolume aangevuur, veral in die VSA.
Volgens die VSA se inligtingsarm oor energie sal produksie van skaliegas teen 2035 die helfte van die VSA se produksie van natuurgas verteenwoordig.
“Die stikstofbedryf is hoogs energie-intensief. Beskikbaarheid van genoeg bekostigbare grondstof is ‘n basiese vereiste, des te meer in die lig van die vordering met uitvoer deur mededingende segmente, soos kragopwekking en vloeibare aardgas.
“Grondstofaspekte word hanteer deur óf kompleet nuwe energiebronne, soos skaliegas, te identifiseer, óf deur nuwe tegnologie te aanvaar, gebaseer op alternatiewe en volop grondstowwe. Steenkoolvergassing, wat deur Chinese maatskappye voorop gestel word, is nog ‘n voorbeeld,” sê De Sousa.
Die Forum vir Eenheid in die Landbou (ASUF) sal ‘n gelyke vlak van regs hulp aan alle partye betrokke by grondhervorming bepleit om aldus te verseker dat grondwetlike regte gehandhaaf word,” sê dr Langelihle Simela,
hoof uitvoerende amptenaar van die Nasionale Ontwikkelende Rooivleis Produsente Organisasie (Nerpo), uitvoerende direkteur van die African Farmers’ Association of South Africa (AFASA) en lid van die uitvoerende bestuur van ASUF. Sy was spreker op die jaarkongres van FertASA en het gesê ASUF sal hom beywer vir ‘n eensgesinde beëindiging van alle optrede ten opsigte van grondhervorming.
“ASUF steun nie die hervatting van die restitusieproses nie, maar sal reageer as die hervatting daarvan ‘n werklikheid word. Grondhervorming is ‘n grondwetlike, politieke beleid en ‘n ekonomiese noodsaaklikheid. Dit moet plaasvind binne die raamwerk van die grondwet en die regsorde in terme van ‘n duidelike, wetlike raamwerk en ‘n deursigtige beleid en moet aan alle belanghebbendes gekommunikeer word. Korrupsie en nepotisme moet uitgeroei word,” het sy beklemtoon.
Grondwaardasies, vir watter doel ook al, sal onderwerp word aan noukeurige ondersoek deur spesifieke instansies, soos ‘n hoofwaardeerder. Produsente wat onwettige restitusie eise ervaar het, moet ondersteun word, het sy voorts gesê. “ASUF sal ‘n gelyke en regverdige vlak van regshulp voorstaan aan alle partye wat by grondhervorming betrokke is om te verseker dat grondwetlike regte gehandhaaf word.”
Die groenskrif oor grondhervorming is op die punt om opgevolg te word met toepaslike beleid en wetgewing. ASUF wil deelneem aan relevante parlementêre en wetgewende optrede gegrond op mandate wat verkry is, en waarop deur ASUF ooreengekom is as konsensusstandpunte. “Onteiening sal slegs plaasvind ooreenkomstig die grondwet en volgens die beginsels van administratiewe reg asook met toevlug tot die hof waar dit deur belanghebbende partye vereis word. ASUF sal deelneem aan die ontwikkeling van ‘n nuwe Onteieningswet,” het Simela verduidelik. Die wetsontwerp is reeds vrygestel. Spesifieke aandag sal gegee word aan die omvang van vergoeding in verhouding tot Artikel 25 van die grondwet.
FertASA het verskeie landboupersoonlikhede tydens die vereniging se jaarkongres in Johannesburg vereer vir hul uitmuntende navorsing en bydrae tot die bevordering van landbou en die kunsmisbedryf in die algemeen.
Publication: July 2014
Section: Focus on