October 2017
Op internasionale vlak ervaar markte uiters lae pryse. Dit is hoofsaaklik die gevolg van geweldig-hoë aanbodsyfers in die mark. Wanneer 'n mens egter die mieliemark se geskiedenis bestudeer, is dit duidelik dat dit nie ‘n nuwe verskynsel is nie.
In die 1970’s was daar ‘n skerp toename in produksie en dit het beteken dat eindvoorraadvlakke begin styg het (supersiklus). Dié uitdaging is op daardie stadium opgelos deur die vraag te stimuleer en die grootste dryfkrag hierin was die vestiging van die glukosemarkte.
Daar was in die middel van die 1990’s weer ‘n sterk styging in terme van voorraadvlakke en weer is daar planne gemaak om die vraag te stimuleer. Dié keer was dit die vestiging van die etanolbedrywe, asook die sterk groei in vraag vanaf China.
Dit is interessant dat dit elke keer met ‘n supersiklus ongeveer vier jaar geneem het voordat die voorraadvlakke herstel het en die nuwe vraagstimuli alles in balans gebring het. Tans is ons weer in ‘n supersiklus en is die wêreld reeds by die vier jaar-siklus. Die bekommernis is dat daar nog weinig antwoorde is wat nuwe vraagstimuli betref.
Op die wêreldmark is die etanolbedryf besig om ‘n platform te bereik en die verwagting is dat dit heelwaarskynlik sywaarts kan beweeg en selfs moontlik kan daal. China se populasiegroei is onder beheer en hul verbruik beweeg ook redelik sywaarts. Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se basislyn is mielies se groei in produksie gelykstaande aan die groei van die wêreldpopulasie, naamlik 1,1%. Daar is daarom nie besonder goeie vooruitsigte wat vraag betref nie.
Die nuutste is dat Afrika die moontlike oplossing vir vraag gaan wees, maar die uitdagings is enorm. Afrika het nie geld nie. Afrika se logistieke stelsels is onderontwikkel en dan is daar nog GMO-beleide wat vraagimplikasies het. Die gevolgtrekking is dat daar nie merkwaardige planne is om die vraag oor die kort termyn in die globale mark te stimuleer nie. Die uitkoms hiervan is dat die globale mark nog vir ‘n wyle prysdruk gaan ervaar, weens die feit dat aanbod groter as vraag is.
Die inligting beteken dat Suid-Afrika na uitvoerpariteitprysvlakke beweeg sodra ons meer produseer as wat ons verbruik, wat beteken dat ons met die globale mark moet meeding. Tans kry Suid-Afrika net op ‘n marge/ha-basis meegeding wanneer uitermate goeie opbrengste behaal word.
Op ‘n insetkostebasis is Suid-Afrika nie mededingend nie. Hoofsaaklik weens ons hoë invoere – ongeveer 90% van ons insette word ingevoer. Kunsmis bly ‘n beduidende komponent van die insetkoste en Suid-Afrika se persentasie bydrae tot kostes is aansienlik hoër as dié van die mededingers.
Volgens BFAP se agribenchmark-syfers is Suid-Afrika se stikstof die tweede duurste in die wêreld, fosfate vierde duurste en kalium die duurste. In terme van die benutting van stikstof op ‘n kg mielies/kg N-gebruik, is Suid-Afrika onder die internasionale gemiddeld. Hierdie is net ‘n gedeelte van die faktore wat mededingendheid beïnvloed.
Die groot vraag is: Hoe nou gemaak?
Dit gaan in die toekoms belangrik wees om te verseker dat toepaslike produksie-ekonomiebeginsels toegepas word om te verseker dat optimale wins behaal word en nie noodwendig optimale omset nie.
Die effektiewe gebruik van insette gaan die bepalende faktor vir die winsgewendheid van ‘n produsent wees. In landbou speel die rol van marginaliteit (addisionele uitset vir addisionele inset) ‘n betreklik belangrike rol. Dit is van kardinale belang om produksie-ekonomiebeginsels binne produksiebesluite vir insette, asook die allokasie van hektare binne die boerdery, te gebruik.
Soms is dit beter om ‘n laer opbrengs te realiseer, maar meer winste in die sak te hê. Uiteraard is historiese inligting en proefdata noodsaaklik om die besluite effektief te neem.
‘n Goeie praktiese voorbeeld hiervan is die onlangse studie wat deur die Universiteit van die Vrystaat by Sernick Voerkrale gedoen is.
Mnr Phillip Oosthuizen het bepaal hoe lank elke ras in die voerkraal gevoer moet word om optimale wins te verseker. Dit is alles gedoen deur produksie-ekonomie te ontleed. Mnr Nick Serfontein (eienaar van Sernick Voerkrale) noem dit presisieboerdery binne ‘n voerkraal. In graan is presisieboerdery nie ‘n nuwe beginsel nie – veral as opbrengs bestudeer word. Die nuwe uitdaging is om te verseker dat die presisiebeginsels ook met produksie-ekonomiebeginsels getroud raak. Dit is daarom uiters belangrik om seker te maak dat daar noukeurig na historiese rekords gekyk word, asook nuwe op-die-plaasproewe. Ekodoeltreffendheid kan ‘n beduidende bydrae hiertoe lewer.
Groter klem op ekodoeltreffendheid as deel van produksie-ekonomie
Die konsep van ekodoeltreffendheid beteken die doeltreffende en volhoubare gebruik van hulpbronne in akkerbouproduksie en grondbestuur, met die strategie om meer voedsel te produseer sonder om meer grond, water en energie-gebaseerde insette te gebruik.
In die proses is dit egter belangrik om nie net die negatiewe ekologiese impak te minimaliseer nie, maar ook om akkerbouproduksie te maksimaliseer en ekostelseldienste te verbeter. In die konteks van die “supersiklus” in Suid-Afrika is dit krities dat produsente hierdie konsep verstaan en toepas om te verseker dat hulle oor die lang termyn volhoubaar en winsgewend is. Sonder dít is daar min kans vir oorlewing – finansieel en ekologies.
Gesonde landbougrond is die basis van ekodoeltreffendheid. Onmiddellik moet ons in ag neem dat ongeveer 70% van die uiters beperkte hoeveelheid bewerkbare hektare in Suid-Afrika gedegradeer is, met gemiddeld 50% daarvan waarvan die grondorganiese koolstof verlore is as gevolg van dekades se aggressiewe bewerking.
Dit is essensieel dat die grondorganiese koolstofvlakke herstel word om grondgesonheid, ekodoeltreffendheid en ekostelseldienste te verbeter.
Vervolgens word elkeen van hierdie elemente kortliks beskryf – spesifiek met die oog op grondvrugbaarheid, oftewel verbeterde kunsmisgebruiksdoeltreffendheid.
Die negatiewe ekologiese impak van kunsmis
As gevolg van die lae grondorganiese koolstof-inhoud van ons grond is graan opbrengs al hoe meer afhanklik van die toediening van sintetiese kunsmis – veral stikstof (N). Oor die afgelope 40 jaar het die gebruik van N-kunsmis op gewasse wêreldwyd 7,4 keer verhoog, terwyl opbrengste net 2,4 keer verhoog het. Net soos in Suid-Afrika, dui dit op ‘n al swakker gebruiksdoeltreffendheid (‘n daling van oor 70 kg tot ongeveer 25 kg graan per kg N).
In die meeste intensiewe landbouproduksiestelsels word 50% tot 70% van N wat toegedien word, nie deur die plante gebruik nie en gaan dit in die grond verlore. Behalwe vir geld wat letterlik in die water gegooi word, hou hierdie “verlore” N verskeie nadelige ekologiese gevolge in, wat hierdie negatiewe siklus vererger. Dit sluit onder andere die volgende in:
Maksimalisering van akkerbouproduksie
Gronde moet volgens geïntegreerde grondvrugbaarheidbestuursbeginsels vir maksimale produksie bestuur word. In SA Graan/Grain van Julie 2017 is hierdie konsep deeglik bespreek.
Dit beteken dat gewasproduksie per eenheid van kunsmis (of voedingstof) moet verhoog, plantwortels beter toegang tot grondvoedingstowwe moet kry en dat grond gesien en bestuur moet word as ‘n lewende ekostelsel.
Hierdie konsep aanvaar dat nie net minerale kunsmis of net ekostelseldienste alleen voldoende is om gewasopbrengs te maksimaliseer nie – veral nie in die tydperk waar gedegradeerde grond nog opgebou word nie.
Die opbrengs van beskikbare voedingstowwe in die grond (verskaf deur grond en kunsmis) per eenheid, kan verhoog word deur:
Die verbetering van eko-stelselfunksies en dienste
Hierdie is waarskynlik die mees onbekende, maar potensieel mees belowende beginsel om voedingstofgebruiksdoeltreffendheid te verbeter (sien SA Graan/Grain van Julie 2017).
Die kritiese grondekosisteemprosesse waarvan ons hier praat, is die transformering van koolstof (of mineralisasie), sirkulering van voedingstowwe, onderhoud van die struktuur van grond en die biologiese regulering van grondmikrobepopulasies. 90% van hierdie prosesse word deur mikro-organismes gedryf.
Die belangrikste praktyke om hierdie natuurlike biologiese funksies te verbeter, is deur die beginsels van bewaringslandbou, naamlik minimale grondversteuring, diversifisering deur gewasse en diere, teenwoordigheid van lewende wortels deur die jaar en permanente organiese grondbedekking.
Die resultaat van die verbetering van hierdie ekostelselfunksies en prosesse is die verskaffing van ‘n reeks goedere en dienste, wat gratis voorsien word.
Enigiemand kan hom- of haarself indink hoe ‘n groot impak dit op die winsgewendheid van enige produksiestelsel kan hê as die koste van sekere dienste, soos grondvrugbaarheid – waarvoor tans ten duurste betaal word – oor tyd minder en minder word, terwyl die opbrengste betreklik stabiel bly of stadig styg.
Alhoewel daar hordes mikro-organismes en -gemeenskappe is wat hierdie funksies uitvoer, word die bakterieë en swamme hier uitgesonder in terme van grondvrugbaarheid en voedingstofgebruiksdoeltreffendheid. Verhoogde populasies van hierdie mikro-organismes voorsien meer kos aan protosoë en nematodes, wie se uitskeidings direk as plantvoeding aan plante beskikbaar is.
Bakterieë
Rhizobiumbakterieë speel ‘n kritiese rol in biologiese N-vaslegging (BNV) deur middel van ‘n mutualistiese verhouding met peulgewasse. Tans word 65% van N aan gewasse deur BNV gelewer, maar daar is ruimte vir heelwat meer, want die voorsiening van atmosferiese N is onuitputlik.
Swamme
Mikorisaswamme verbeter die opname van al die grondvoedingstowwe in die plant. Hulle is daarom essensieel om die voedingstofgebruiksdoeltreffendheid in enige produksiestelsel te verbeter. Dit is veral belangrik met die opname van fosfaat (P).
Minder as 20% van grond-P word normaalweg deur die plant opgeneem, maar dubbel die hoeveelheid P is beskikbaar wanneer mikorisa teenwoordig is en minerale P aan plante beskikbaar stel. Oormatige P-kunsmis vernietig hierdie funksie van mikorisa.
‘n Swam soos trichoderma het ‘n soortgelyke positiewe impak op voedingstof-gebruiksdoeltreffendheid, terwyl ‘n verskeidenheid ander swamme ook ‘n kritiese rol speel – onder andere in die afbreek (mineralisering) van organiese materiaal.
Gevolgtrekking
Dit is duidelik dat daar ‘n gaping in die ekodoeltreffendheid van graanproduksiestelsels in Suid-Afrika is, wat op ‘n finansiële en ekologiese krisis vir produsente afstuur. Die landbourewolusie oor die volgende paar dekades sal ʼn ekodoeltreffendheidsrevolusie wees – daarop gemik om die doeltreffendheid met ten minste 50% tot 100% te verbeter, terwyl skaars hulpbronne (soos grond, water, biodiversiteit en klimaat) beskerm, verbeter en ook beter benut word.
Die beginpunt van hierdie proses is die herstel van grondorganiese koolstof en grondgesondheid, wat gevolg moet word deur ‘n geïntegreerde en multidissiplinêre benadering, wat alle komponente van die graanproduksiestelsel insluit.
Publication: October 2017
Section: On farm level