• Login
  • Search Icon

Suid-Afrikaanse Instituut van Landbou-Ingenieurswese vier goue jubileum

August 2015

FELIX REINDERS, oudpresident: Suid-Afrikaanse Instituut van Landbou-Ingenieurswese

Die Suid-Afrikaanse Instituut van Landbou-Ingenieurswese (SAILI) wat op 11 Februarie 1964 beslag gekry het, vervul ‘n onmisbare rol in die landbousektor, want feitlik geen landbou-aktiwiteite kan onderneem word sonder een of ander vorm van toerusting, stelsel of fasiliteit wat deur landbou-ingenieurswesetegnologie ondersteun word nie.

Só het SAILI ‘n lang geskiedenis van bydraes tot die ontwikkeling van landbou in Suid-Afrika en verlede jaar is hul 50ste bestaansjaar van uitnemendheid gevier.

Die stigtingsvergadering van SAILI is gereël op inisiatief van ‘n groepie manne wat kennelik bewus was van ‘n behoefte om landbou-ingenieurs in Suid-Afrika in ‘n verteenwoordigende liggaam saam te snoer en om ‘n spreekbuis vir hulle te wees om hulle tegniese en professionele belange te bevorder en ‘n bydrae te lewer tot die uitbouing van landbou in Suid-Afrika.

Hierdie manne kan vandag gesien word as SAILI se voortrekkers. Deur hulle aanvoeling, versiendheid en optrede is die fondamente van die instituut gelê. Dat die fondamente goed gelê is, spreek uit die feit dat SAILI in 2014, 50 jaar ná die eerste raadsvergadering van SAILI op 11 Februarie 1964, steeds daar was om die professie te dien.

Die doelstellings van die Instituut is soos volg:

  • Die bevordering en ontwikkeling van die wetenskap en tegniek van landbou-ingenieurswese.
  • Die bevordering van die landbou-ingenieursberoep.
  • Die bevordering en aanmoediging van navorsing en opleiding in landbou-ingenieurswese.
  • Die verspreiding van kennis, inligting en idees op landbouingenieursgebied by wyse van byeenkomste en publikasies.
  • Die skepping van onderlinge ontmoetingsgeleenthede vir landbou-ingenieurs en verwante tegnoloë in Suid-Afrika.
  • Die daarstelling van ‘n liggaam wat met gesag oor landbou-ingenieursaangeleenthede
  • in Suid-Afrika kan spreek en wat ook standaarde en kodes vir die vakgebied kan neerlê of aanbeveel.
  • Die beskerming van die belange van lede van die landbou-ingenieursberoep en onderlinge hulpverlening op tegniese en ander terreine.

Oorspronklik het die Departemente van Landbou-Ingenieurswese aan Suid-Afrikaanse universiteite, naamlik dié van die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van KwaZulu-Natal, verseker dat deurlopende opleiding van studente in landbou-ingenieurswese plaasvind, maar tans is dit nog net die Universiteit van KwaZulu-Natal wat landbou-ingenieurswese binne ‘n geakkrediteerde program van die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese aanbied.

‘n Klein groepie landbou-ingenieurs wat sedert die dertigerjare van die vorige eeu aan die universiteite afgestudeer het, was yl en wydverspreid oor die hele Suid-Afrika. ‘n Mens sou kon sê: “In die begin was die wêreld van die landbou-ingenieur woes en leeg” – hulle was onbekend en onbemind.

Baie min mense het begryp en aanvaar dat die broodnodige ingenieursaspekte van die landboubedryf kritiek belangrik is in die landbou met sy omvattende natuurlike hulpbronne, soos grond, water, klimaat, omgewing, plante, diere, energie, arbeid en finansies. Toenemend is hierdie areas in die landboubedryf paslik met entoesiasme en oorgawe aangevul deur landbou-ingenieurs.

Só is daar duidelike voorbeelde van die groot bydraes wat landbou-ingenieurslede van SAILI en hulle organisasies in die Suid-Afrikaanse landboubedryf gelewer het en steeds lewer.

Landboumeganisasie het in die destydse Unie van Suid-Afrika, ná die Tweede Wêreldoorlog, geweldig uitgebrei en die mark was voorsien van ‘n groot verskeidenheid fabrikate en modelle van trekkers en ander werktuie wat vele diens- en herstelwerkprobleme opgelewer het.

‘n Behoefte is deur verskeie organisasies uitgespreek dat ‘n organisasie tot stand moes kom om onpartydige en wetenskaplik gefundeerde gegewens oor trekkers se werkverrigting onder Suid-Afrikaanse toestande beskikbaar te stel.

Vanuit hierdie klein begin het uiteindelik ‘n instansie ontstaan in 1961 wat ‘n kardinale rol in landboumeganisasie, besproeiing en hulpbronbewaring vervul. Die Afdeling Landboumeganisasie en Ingenieurswese, soos dit destyds bekend gestaan het, het ‘n belangrike mylpaal in die geskiedenis van landbou-ingenieurswese ingelui, want dit het die omstandighede geskep vir die konsolidasie van landbou-ingenieurswese in die Departement van Landbou Tegniese Dienste.

Vandag vervul die Instituut vir Landbou-Ingenieurswese van die Landbounavorsingsraad steeds daardie rol en is verantwoordelik vir navorsing in al die velde van landbou-ingenieurswese, naamlik besproeiing, meganisasie, grondbewaring, prosessering, plaasstrukture en -fasiliteite, energie asook landelike ingenieurswese.

Verder is die maatskappy Murray, Biesenbach en Badenhorst (MBB) in 1973 gestig as Suid-Afrika se eerste landbou-ingenieurswese konsultantegroep wat vandag een van die grootste spesialismaatskappye op die Afrika-kontinent is, wat ook dienste lewer op die siviele, industriële, meganiese en strukturele ingenieurswesegebiede.

imageHulle het ervaring in elke aspek van landbou-ingenieurswese, soos die ontwikkeling van infrastruktuur; damme en besproeiing, grootmaatwatervoorsiening, waterwetsake, agroprosessering en stoorfasiliteite, om maar net ‘n paar te noem.

Daar is ook landbou-ingenieurs betrokke by kommersiële boerdery, soos Wildeklawer, ZZ2 en Schoeman boerdery, Dalein plaasbou, Swineline en TSB; asook by maatskappye soos Illovo Suiker, die SA Suikervereniging, by koöperasies en by Eskom; by konsultantgroepe soos Aurecon, EVN, Kariwa, Rieng, WSM-Leshika en vele meer.

Van ons voorste implementvervaardigers word ook deur landbou-ingenieurs besit of hulle is aan die hoof van die ontwikkeling. Hierdie produkte het ‘n groot impak in die landboubedryf en gee in sommige gevalle die koers aan.

Sterk vennootskappe is verder ontwikkel en uitgebou met Graan SA, die Waternavorsingskommissie, die Departement van Waterwese, universiteite en ander privaat sektor vennote, die nasionale en provinsiale Departemente van Landbou, Bosbou en Visserye asook Agri SA en NAFU.

Daar kan met trots deur SAILI teruggekyk word na dit wat vermag en gelewer is tot uitbouing van landbou in Suid-Afrika en erkenning moet gegee word aan al die landbou-ingenieurs wat oor die jare insette gelewer het as individue en deur hulle organisasies – dit alles het tot die vooruitgang en ontwikkeling van landbou in Suid-Afrika bygedra.

Vir die Suid-Afrikaanse Instituut van Landbou-Ingenieurs was 2014 beslis ‘n jaar wat met dankbaarheid gevier is.

Publication: August 2015

Section: Focus on

Search