• Login
  • Search Icon

Suid-Afrika se afhanklikheid van kunsmisinvoere raak groter

July 2013

CORNÉ LOUW, SENIOR EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Uit statistiek blyk dit dat Suid-Afrika al meer kunsmis invoer om aan die plaaslike behoeftes te voldoen.

Behoort ons daaroor bekommerd te wees? Is dit nie maar net die nuwe manier van besigheid doen nie? Plaas ons moontlik Suid-Afrika se voedselsekerheid op risiko? Wat gebeur in jare waar daar op internasionale markte ‘n tekort is en as internasionale pryse skerp styg?

Suid-Afrika voer tans 100% van sy ureum- en kaliumbehoeftes in, maar produseer ons eie nitraatgebaseerde kunsmis afkomstig van Sasol se plaaslike steenkool-na-brandstof-proses.

Daar moet wel ekstra ammoniak ingevoer word om aan al die behoeftes vir nitraatkunsmis te voldoen. Suid-Afrika behoort ook surplus fosfate te produseer, maar volgens invoerstatistiek het ons die afgelope vyf jaar gemiddeld 20% van ons plaaslike verbruik van fosfate ingevoer (Grafiek 1). Suid-Afrika het opgehou ureum produseer in 2000, wat duidelik waargeneem kan word in die toename van die persentasie invoere van kunsmis teenoor die plaaslike gebruik daarvan.

image

In Grafiek 2 kan gesien word dat die persentasie kunsmisinvoere om aan plaaslike behoeftes te voldoen sedert
2000 toegeneem het. In 2010 is 66% van Suid-Afrika se plaaslike verbruik ingevoer, terwyl in 2002 tot soveel as 71% ingevoer is.

Die Misstofvereniging van Suid-Afrika (MVSA) het aangedui dat invoere na Suid-Afrika in 2009 heelwat minder was as gevolg van hoë oordragvoorrade veroorsaak deur swak ekonomiese omstandighede in 2008.

Volgens die MVSA is meer as 1,4 miljoen ton fisiese kunsmis per jaar in 2011 en 2012 ingevoer. Uitvoere was ongeveer 400 000 ton, hoofsaaklik na ander Afrika-lande. Dit wil sê Suid-Afrika het steeds netto kunsmisinvoere van meer as ‘n miljoen ton gehad.

Om ten minste een van die bogenoemde vrae te beantwoord – Graan SA is oor hierdie tendens bekommerd. Graan- en oliesadeprodusente gebruik die helfte van die land se kunsmisbehoeftes en voel dat hierdie groter wordende invoere ‘n risiko vir produsente en die land is. Hieroor is reeds met die regering (IDC) gesprekke gevoer.

image

Internasionale en plaaslike kunsmispryse onder die loep

Met so ‘n groot hoeveelheid van die land se kunsmisbehoeftes wat ingevoer word, is die verwagting dat plaaslike kunsmispryse internasionale kunsmispryse streng sal navolg.

Met kunsmis as produksie-inset wat om en by 35% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekosterekening beslaan, is dit baie belangrik dat die pryse wat plaaslike produsente vir kunsmis moet opdok met dié van die internasionale kompetisie moet vergelyk.

Oor ‘n jaartydperk is gesien dat internasionale pryse van ureum, DAP en kaliumchloried met 26,5%, 14,4% en 13% gedaal het. Oor dieselfde tydperk het die prys van ammoniak met 8,5% gestyg (Tabel 1).

image

Oor ‘n twaalf maande tydperk het die waarde van die rand met 14,6% verswak teenoor die dollar, wat meegebring het dat die internasionale pryse in randterme tot ‘n mindere mate gedaal het en in die geval van ammoniak, met ‘n groter mate gestyg het as die pryse in dollarwaarde. Tabel 2 toon aan hoe internasionale kunsmispryse in randwaarde oor ‘n jaartydperk beweeg het. Tabel 3 toon aan hoe plaaslike prysveranderinge met dié van internasionale pryse vergelyk.

image

image

Terwyl KAN tot ‘n mindere mate as internasionale ammoniakpryse gestyg het, het die pryse van MAP en kaliumchloried stygings getoon, terwyl dit internasionaal gedaal het. Ureum het ook op internasionale markte in randterme 16% gedaal, terwyl dit plaaslik net 4% gedaal het.

Publication: July 2013

Section: Input Overview

Search