September 2017
Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), of Visie 2030 soos wat dit ook bekend staan, is daarop gemik om armoede uit te skakel, ongelykheid te verminder en voedselsekerheid teen 2030 te bewerkstellig. Ons reënboognasie het in 2012 met ongekende eenstemmigheid die plan aanvaar.
Die landboubesigheidsektor het ook dadelik te kenne gegee dat hy Visie 2030 ondersteun. Die plan vra onder meer vir grondhervorming, beter benutting van landbougrond, die ontwikkeling van kleinboere, die uitbou van volhoubare plattelandse bedrywe, groter beleggings in agri-bewerking en meer doeltreffende toegang tot markte en finansiële dienste vir alle produsente.
Aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid is essensieel vir die sukses van die NOP en menige opheffingsprojekte is in dié gees van stapel gestuur, maar helaas, heeltemal te veel daarvan het misluk. Ek het begin wonder: Waarom raak groot landboubesighede nog enigsins betrokke by projekte en wat maak ‘n projek suksesvol al dan nie?
‘n Ruk terug is ek genooi om saam met die Graan SA Ontwikkelingsprogramspan en hul vennote by van die klein- en bestaansboere, wat deel is van hul projek, besoek af te lê. Ek kon van die begin af sien dat hierdie projek nie sommer net nóg ‘n projek is nie – mense se lewens word daadwerklik verander.
Subsistence to Abundance – die projek se naam – sê alles en die verantwoordelikheid om die naam gestand te doen, rus tot ‘n groot mate op die boere. Om deel te wees van die projek, moet boere ‘n finansiële bydrae maak, ‘n lid wees van ‘n Graan SA-studiegroep, die Inleiding tot mielieproduksiekursus bywoon en in besit wees van ‘n onlangse grondmonster wat op sy plaas geneem is.
Die boer moet passievol en betrokke wees. Ek het gesien en ervaar hoe die boere met trots hul mielielande, waar die mielies hoog staan en die koppe vol is, afwys. Ek het gehoor hoe dit hul lewens verander het, dat oeste in die meeste gevalle meer as verdubbel het en dat hulle nou nie meer net genoeg produseer vir tuisgebruik nie, maar ook ‘n stewige inkomste uit hul oeste genereer.
Maar elkeen van die boere was vinnig om te erken dat hulle dit nie sonder die hulp van Graan SA, die mentors, toegang tot die beste saad, kunsmis en chemikalieë en die kennis wat hulle deur die studiegroepe opdoen, sou kon bereik nie.
Hoe kry Graan SA dit reg? Dit het alles sowat vier jaar gelede begin. Die idee om kleinboere ordentlik op te lei en aan die beste tegnologie bloot te stel, het in ‘n mielieland by mnre Jurie Mentz (ontwikkelingskoördineerder, Graan SA) en Pieter Smit (bemarkingsbestuurder: Saad en Biotegnologie, Monsanto SA) posgevat.
In 2014 het die projek afgeskop en aan die stuur staan me Jane McPherson (‘n klein vroutjie met ‘n groot hart). Sy is vinnig om uit te wys dat die projek glad nie moontlik sou gewees het sonder hul wonderlike vennote nie. Die huidige vennote is Monsanto, Kynoch, die Sasol Agricultural Trust, SA Kalk & Gips, Syngenta en die Departement van Finansies deur middel van die Jobs Fund-projek.
Hierdie departement het die landbousektor oorweeg as ‘n moontlike werkskepper om die NOP se 2030 doelwitte te realiseer en het hul daarom verbind tot finansiële ondersteuning vir die projek, op ‘n rand-tot-randbasis. Die randwaarde van die insetkoste-afslagte wat deur die vennote bewillig is, word bygetel by die finansiële bydraes vanaf die boere self. Die Departement van Finansies se Jobs Fund ewenaar dan dié somtotaal in rand.
Die projek is ook só saamgestel dat Subsistence to Abundance-boere nie vir ewig afhanklik bly van die hulp wat hul ontvang nie. Boere wat volhoubaar, suksesvol en gewapen met die nuutste tegnologie die toekoms op hul eie kan aanpak, is die uiteindelike doelwit van hierdie uitsonderlike projek. Daarom word groot klem op opleiding geplaas.
Kundige Graan SA mentors is verantwoordelik vir die opleiding, wat ‘n breë spektrum van onderwerpe insluit. Dit sluit onder andere finansiële beplanning en bestuur, kritiese aspekte van mielieverbouing, die optimale gebruik van kunsmis en chemikalieë, basiese grondkunde, meganika en tegnologie in. Hierdie opleiding word vir die boere by hul onderskeie studiegroepe en boeredae aangebied.
Aanvanklik is die mentors deur die Landbounavorsingsraad geborg, maar van die vennote is nou ook borge van hierdie uiters belangrike komponent van die projek.
Monsanto was van die begin af betrokke by die Subsistence to Abundance-projek. Hul borg van die mentors en ondersteun dieboere om toegang tot die nuutste saadtegnologie te bekom. Mnr Kobus Steenekamp (besturende direkteur, Monsanto SA) het my vraag oor waarom die groot internasionale maatskappy, Monsanto, by dié projek betrokke is, so beantwoord:
“Dit is vir ons ‘n eer om deel te wees van hierdie projek. Subsistence to Abundance het die vermoë om lewens te verander en dit is vir ons wonderlik om ook deur middel van ons bydrae ‘n verskil aan die lewens van hierdie boere te kan maak: Om te kan hoor hoe me Mavis Hlatshwayo sê dat hulle, vandat hulle deel is van die projek, genoeg mielies het om te eet, te verkoop en aan die minderbevoorregtes te gee – en dat in haar gemeenskap niemand meer honger gaan slaap nie, is vir ons baie kosbaar.”
Monsanto was ook gasheer van die eerste Subsistence to Abundance-konferensie wat onlangs in Pretoria plaasgevind het. Die meeste van die rolspelers was teenwoordig en dit het aan my die geleentheid gebied om ook met van die ander vennote te gesels.
Die doel van die konferensie was om die projek se pad vorentoe te bespreek en vas te stel of al die vennote steeds daartoe verbind is om voort te gaan met die 2017/2018-plantseisoen, wat om die draai is.
Elke een van die vennote het weer eens hul volle ondersteuning beloof. Mnr Jakes du Plessis (streeksbestuurder, Kynoch Kunsmis) het gesê dat hul in die toekoms selfs meer betrokke wil raak. Hy glo dat hul ‘n groot bydrae kan maak tot die tegniese opleiding van die boere.
Van Syngenta se kant af het me Linda van der Merwe (hoof: Kliëntebemarking, Syngenta SA) gesê: “Dit is vir ons ‘n plesier om ‘n vennoot van hierdie projek te wees.
“Ons wil graag die ekstra myl stap en ondersoek daarom tans die moontlikheid om van ons produkverpakkings aan te pas om meer prakties by die projek in te pas.”
“Hierdie projek is besig om mense se drome te bewaarheid,” aldus me Carlin Fullard (bemarkingsbestuurder, SA Kalk & Gips). Die maatskappy neem jaarliks talle tydelike werkers in diens om met die verpakking van die projek se kalk te help.
Uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, mnr Jannie de Villiers, het McPherson en haar span geloof vir hul passie, positiwiteit en pligsgetrouheid. Die span ervaar die sukses van elke boer persoonlik en hul trots kom so duidelik deur in hul kommunikasie en administrasie.
"Graan SA se Ontwikkelende Landbouspan het ‘n gesonde platform geskep om dié projek te kan hanteer. Hierdie platform is vir jare al deur die verskillende graantrusts ondersteun," het hy gesê.
De Villiers het ook die Subsistence to Abundance-span geluk gewens met hul onlangse skitterskoon ouditeursverslag.
Ek het tot die slotsom gekom dat daar voordele vir alle betrokkenes by hierdie projek is. In kort:
Vir die boere
Vir die sektor en insetverskaffers
Vir ons land
Ek is oortuig daarvan en verstaan nou waarom die staat en groot maatskappye met oorgawe betrokke is en wil bly by dié projek. In teendeel, ek wonder nou: Hoe kan enige landboubesigheid bekostig om nie betrokke by Subsistence to Abundance te wees nie?
Publication: September 2017
Section: Grain SA