June 2010
Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder
Die huidige mielieoes is die beste voorbeeld van die bedryf se verbintenis tot die doeltreffende kombinasie van die hulpbronne wat tot die beskikking van produsente is. Maksimum produksie het die bedryf egter op sy kop gekeer en produsente is tans ‘n slagoffer van hul eie doeltreffendheid met lae pryse weens ‘n ooraanbod. Optimale produksie en gevolglike maksimum wins vra egter kopskuiwe. Ekonomiese wetmatigheid dikteer dat die enigste teenvoeter vir lae pryse te midde van ’n trae, onvoldoende vraag is om produksie of aanbod te verminder.
Daarvoor is tyd nodig, want met die huidige oes/aanbod as gegewe, is die aanbod totaal prys-onelasties. Prysveranderings het geen impak op die huidige aanbod nie, maar met voldoende tyd vir aanpassing, behoort die aanbod te reageer. Die ironie is dat die gewenste reaksie aanbodvermindering oor tyd moet wees, maar waarvan die gevolge geweldig negatief sal wees.
Landbou speel ‘n ononderhandelbare rol in die waardeketting; en die presiese plek, as die sneller van ekonomiese aktiwiteite, word weliswaar erken, maar ongelukkig nie genoeg waardeer nie. Die huidige prysvlakke vir mielies het ooglopende negatiewe gevolge waarvan die belangrikste die volgende is:
Die besigheidsomgewing waarbinne produsente moet optree is allermins bevorderlik vir winsgewende produksie. Die gevolglike herstrukturering kan binne die afsienbare toekoms ernstige negatiewe gevolge inhou ten opsigte van voedselsekuriteit oor die algemeen, maar veral ten opsigte van voedselsekerheid. Dit is dus noodsaaklik dat ‘n afdwingbare strategiekaart ontwikkel moet word as ‘n konsensus oplossing vir die graanbedryf in die geheel. Belangrike punte wat oorweging moet geniet sluit in:
Hoop is nie ‘n strategie nie – byvoorbeeld die hoop dat wêreldmarkte sal herstel. Dit is ten beste slegs ‘n aspek wat strategiese regstellings kan komplementeer. Die graanbedryf verdien ‘n behoorlike belyning van strategieë op alle tersaaklike vlakke.
Publication: June 2010
Section: Editorial