• Login
  • Search Icon

Spanbenadering van landboukundige en produsent essensieel vir sukses

July 2017

ARNO VAN VUUREN, bestuurder: Landboubestuursdienste, NWK Beperk

Produsente sê dikwels dat hulle nie veel vertroue het in die raad wat landboukundiges verskaf nie. In ekstreme gevalle kom ‘n mens ook produsente teë wat geensins van adviseurs gebruik maak in die besluite wat op die plaas geneem word nie.

Daar is talle grondige redes vir hierdie toedrag van sake en daar is waarskynlik net soveel grondige redes waarom landboukundiges van tyd tot tyd met hulle hande in hul hare sit omdat hul advies op dowe ore geval het – of nie die resultate opgelewer het wat dit moes nie.

Wêreldwyd is dit ‘n algemene verskynsel dat produsente op die een of ander wyse van die kundigheid wat by vakkundiges opgesluit lê, gebruik maak. Hierdie spesialiste het gewoonlik almal ‘n waardevolle kombinasie van teoretiese kennis en praktiese ervaring in hul mondering.

Dit word oor die jare heen verder versterk deur die diepgaande ondervinding wat in hul betrokke spesialisveld opgedoen word – hetsy die geografiese area waarin hulle werk of die onderwerp waarin hulle spesialiseer.

Dit is uiters noodsaaklik dat beide die produsent en die landboukundige dieselfde vertrekpunt moet hê om die regte vrae te vra en om sodoende die regte advies te verskaf. Indien dit nie die geval is nie, sal die advies nie geïmplementeer word nie of die verkeerde resultate sal verkry word.

Waar begin ‘n mens?
‘n Produsent wat al jare op sy grond boer, het ‘n diepgaande kennis van sy grond. Hierdie kennis word opgebou deur ‘n fyn waarnemingsin, asook gewas- en kuddeprestasie waarvan hy deeglike kennis besit.

‘n Groot aantal produsente kan byvoorbeeld ‘n klipkol in ‘n land akkuraat uitwys, sonder dat hy grondkartering op sy plaas laat doen het. Hy weet dus reeds dat daar ‘n onderpresterende gedeelte is, asook die redes daarvoor.

Behalwe vir die produksiekennis, weet die produsent presies hoe dit met die finansies staan. Hierdie kennis is net so belangrik as die produksiekennis, omdat die beskikbare finansies sal bepaal wat, waar en hoe geproduseer moet word.

Die produsent is ook terdeë bewus van waarheen die besigheid op pad is. Moet daar dalk uitgebrei, ingekrimp, krediet verminder en risiko verlaag word?

Dit is alles aspekte wat die advies gaan beïnvloed. Die produsent se voorkeure is net so belangrik. As die produsent byvoorbeeld nie van die verbouing van droëbone hou nie, sal daar met moeite ‘n sukses daarvan gemaak word.

In teenstelling met bogemelde feit, is die landboukundige op ʼn uiters beperkte wyse blootgestel aan die eienskappe van die hulpbron en moet daar dikwels staat gemaak word op brokkies inligting wat moontlik ‘n rol in die aanbeveling gaan speel.

Die verantwoordelikheid val hier beslis op albei se skouers. Vir die adviseur om ‘n wetenskaplik-gefundeerde aanbeveling te kan doen, moet al die relevante feite bekend wees en moet die produsent in alle opsigte ywerig meewerk om die feite te verskaf. Alleen dán kan albei partye verseker wees daarvan dat die feite wetenskaplik behoorlik oorweeg en toegepas is.

In die praktyk beteken dit dat die produsent alle beskikbare inligting, soos grondkarteringsinligting, chemiese ontledings, name van kultivars en plaagbeheermiddels wat gebruik is, onkruiddoderprogramme gevolg en toepaslike datums eerlik moet kan verskaf indien dit relevant is. Die adviseur moet ook deel in die produsent se toekomsbeplanning en stand van finansies.

Dit is uiters belangrik dat die produksievermoë van die hulpbronne bekend moet wees. Die gronde se effektiewe dieptes, kleipersentasie en langtermynreënval sal gebruik word om die produksiepotensiaal te bepaal. Met al die inligting beskikbaar en bekend, kan ‘n holistiese benadering gevolg word om die hulpbronne te optimaliseer en die besigheid se wins te maksimaliseer.

Die verhouding tussen die adviseur en produsent
Boerdery het in afgelope aantal dekades daadwerklik verander en is allermins nog die ongekompliseerde, nie-gejaagde bestaan van jare gelede. Die produsent is deesdae die bestuurder van ‘n onderneming wat toenemende finansiële druk ervaar weens krimpende marges. Hiermee saam is ‘n ellelange lys van wetlike voorskrifte waaraan daar voldoen moet word en wat heelwat tyd in beslag neem.

Die hedendaagse moderne produsent het daarom geen ander keuse nie as om sy eie tyd en bestuursvermoëns te “rek” deur gebruik te maak van ‘n span kundiges om sy onderneming op die regte pad te hou. Die landboukundige moet nou in dieselfde konteks as die arbeidskonsultant, die finansiële adviseur, die prokureur en die rekenmeester beskou word.

Meer as een paar oë wat op die toekoms gerig is en op dieselfde doelwitte fokus, sal die besigheid beslis verbeter. Waar plaas dit die produsent se verhouding met die landboukundige?

Produsente moet hul langtermynplanne sorgvuldig met die adviseur kan deel en daarom is dit belangrik dat die regte adviseurs gekies word. Uiteraard kan dit nie anders as dat daar ‘n pad met die landboukundige geloop word nie.

Ideaal gesproke moet dit ‘n lang pad wees, waar die professionele verhouding later omskep word in ‘n vriendskapsverhouding waarbinne die uiterste vertroue in mekaar en ‘n gedugte spanbenadering hoogty vier.

Wat benodig die adviseur om die probleem te verstaan?
Dit is bykans onmoontlik om enige diagnose te maak sonder dat die relevante feite op die tafel geplaas word. Vergelyk dit gerus met die ondersoek wat deur ‘n mediese spesialis gedoen word. Die toestand kan slegs gediagnoseer word nadat etlike toets -uitslae bekom is, die mediese geskiedenis oorweeg is en ‘n behoorlike ondersoek gedoen is om oorsake te bepaal. Net só is dit onmoontlik vir die landboukundige om ‘n probleem suksesvol te identifiseer en behandeling voor te skryf indien al die feite nie bekend is nie.

Om verskeie redes word die relevante feite soms verswyg, verdraai of verdoesel. Wat ook al die rede daarvoor is, kan dit net lei tot die swakker prestasie van die landboukundige en verdere druk op die finansiële prestasie van die boerdery.

Die produsent behoort daarom in ‘n detailgesprek met die landboukundige te tree ten einde hom te bemagtig om die beste raad te gee. Gebeur dit nie, kan die uitkoms onbevredigend wees en beslis nie goeie waarde vir geld inhou nie.

Wat is die verantwoordelikhede van die twee partye?
Soos die gesegde wat lui “It takes two to tango”, is die verhouding tussen die landboukundige en die produsent ‘n dans waarin dit net nie meer dieselfde effek het as een van die twee partye afwesig is nie.

Adviseurs se rol word geoptimaliseer as hul reeds deel vorm van die beplanning vir die jaar wat kom. Gereelde kontrole van die vordering en tydige aanpassings kan beslis tot die besigheid se voordeel wees. Die verantwoordelikheid van die produsent lê daarin dat hulp vroegtydig eerder as té laat bekom moet word. Dit is veral ter sprake in probleemondersoeke waar dit krities is om die simptome te kan sien en te oorweeg soos wat dit ontstaan.

Dikwels is daar ook ‘n verloop in die wyse waarop simptome vererger of verdwyn en indien dit té laat ondersoek word, is daar min diagnostiese inligting beskikbaar. ‘n Uiterste voorbeeld is waar onkruidskade vermoed word, maar die ondersoek eers teen strooptyd (of daarna as die skade eers tydens die stroopproses aan die lig kom) gedoen moet word. Dit is weer eens belangrik dat die volledige stel feite op ‘n eerlike en openhartige wyse geopenbaar word, aangesien sommige probleme by wyse van eliminasie van oorsake geïdentifiseer moet word.

Van die landboukundige word verwag om binne die raamwerk van teorie en praktiese ondervinding wat in sy portefeulje opgebou is, ‘n wetenskaplike beredenering van die tersaaklike feite te maak, waarskynlikhede te oorweeg en tot ‘n slotsom te kom oor wat vir die produsent die beste uitkoms sal verseker.

Soms is daar weens praktiese redes nie ‘n ideale wyse om ‘n saak te hanteer nie (soos wanneer ‘n spesifieke implement nie beskikbaar is nie en ook nie bekom kan word nie) en moet dit in ag geneem word om ‘n tweede beste plan te beraam. Dit sou ideaal wees indien daar ‘n opvolgbesoek of telefoonoproep plaasvind om te bepaal of die verwagte uitkoms wel bereik is.

Slaggate wat lei tot ongelukkigheid
Die basis van enige suksesvolle besigheidsverhouding is eerlikheid en wedersydse respek vir die ander party se tyd en koste. Stiptelikheid, nakoming van afsprake, ‘n professionele interaksie en respek vir beskikbare werksure en privaatheid is dikwels die suksesfaktore wat lei tot ‘n lang en aangename verbintenis.

Landbou het dikwels die beeld van ‘n informele werksomgewing en dit is moontlik dat dít ook juis die trekpleister is vir toetrede tot ‘n loopbaan in hierdie bedryf. Dit is egter geen rede om die noodsaaklikheid van professionaliteit te ignoreer nie. Beide partye behoort ten alle tye professioneel teenoor mekaar op te tree wanneer ‘n afspraak gemaak en nagekom word, wanneer die ondersoek gedoen en die aanbeveling gedoen word en selfs wanneer die faktuur uitgereik en betaal moet word.

Samevatting
Die interaksie tussen die produsent en die landboukundige is in vele opsigte besonders omdat hulle ‘n passie vir landbou deel. Dit is egter ook ‘n professionele verhouding wat tussen twee partye vestig en dit behoort deurgaans die beginsel te wees wat toegepas word wanneer kontak plaasvind. Die resultate van ʼn goeie spanbenadering sal vanself spreek.

 

Publication: July 2017

Section: On farm level

Search