• Login
  • Search Icon

Soos Lasarus

June 2012

– Junie 2012

image

Beste Grootneef,

Vir die eerste drie dae in intensief, het hy aanmekaar geprewel – “stop die vark, stop die vark”. Die dokter het maar net kop geskud en nog ‘n lading pynstillers in sy lyf losgelaat. Op die vierde dag kon hy deur die linkeroog loer, met so wilde kyk. En as jy sê “vark”, het die hartmonitor se lyn deur die dak geklim. Buurman het vyf dae in intensief gelê. Die verpleegsters het op ‘n stadium onder mekaar weddenskappe geplaas oor hoeveel sekelbosdorings nog uit sy agterstewe en rug getrek sal word...

Dit het alles begin met ‘n ligte plukkie aan die tou om sy middellyf...maar laat ek by die begin begin.

Daardie jaar se jag is met ongeduld afgewag, veral deur Buurman. Sy nuwe 7x57 Mouser se lisensie het uiteindelik gekom en die blinknuwe geweer kon sitplek in sy eie kluis kry. Op die skietbaan is die geweer en teleskoop getroud met ‘n groepering van ‘n R2 op ‘n honderd treë. Reg vir die bos.

Die voorbereiding en pak vir die jag was amper net so lekker soos die jag self. Vleis vir die braai en skenkels vir die pot. Uie en tamaties vir die sous. Beskuit vir die oggendkoffie, lemoene vir die veld. Amstel vir slaai. En ‘n bietjie polisiekoffie vir as dit dalk sou koud raak saans. Verkyker afgestof en jagmes uit die kas – die lem ‘n paar keer liefderik oor die oliesteentjie gestreel. ‘n Man wil nie met ‘n stomp mes sukkel as dit kom by afslag nie.

Laastens, die nuwe 7x57 Mouser uit die kluis – kolf blinknuut sonder ‘n krappie of merkie. Die loop word vir oulaas met ‘n droë lappie deurgetrek en die blink groewe teen die sonlig gemeet. Patrone word afgetel en bo in die jagsak gebêre. 170 grein “Sako hammerheads”, pappa...

Die manne het mekaar voor son uit vir die lang tog noorde toe gekry. Buurman se nuwe 7x57 knus op die agtersitplek. By die Magaliesberge verby, het die Bosveld geil vertoon. Vanjaar gaan ons sukkel in die ruie bos...

Laatmiddag by ons kamp afgepak, nesgeskrop, vuurtjie aan die brand, stoele uit, ‘n Germaanse bruisdrankie in die linkerhand. Saligheid op note en die Bosveld op sy beste. Buurman het so met die een oog weste toe gekorrel en laat weet dat daar nog genoeg sonlig is, hy wil gou gaan kyk vir spore by die watergat agter die kamp. En dis toe dat ons hom vir oulaas regop sien wegstap het, geweer oor die skouer die bos in.

So halfuur later het ons die skoot hoor klap, met ‘n weerklank wat deur die bos gerol het. Soos een man het ons ‘n heildronk ingestel, die nuwe geweer is ingewy! Ons is met die bakkie vort na die watergat om te sien waarmee Buurman sy roer gedoop het. Langs die pad, geen Buurman, by die watergat, geen Buurman. Ons het begin kopkrap, want al wat ons aan ‘n spoor kon sien was ‘n nat streep modder uit die watergat die bosse in. Met ‘n Mouser wat netjies teen ‘n boom staangemaak is.

Heelwat later het ons die storie gehoor. Buurman vertel dat toe hy met die veldpaadjie langs deur die bosse naby die watergat kom, hy die grootste vlakvarkbeer in sy lewe op die vlak eiland in die watergat sien staan het. Só kans kry ‘n man nie elke dag nie en net daar en dan lê hy deur ‘n mik aan na die vark des varke. Toe die skoot klap, het die vark net daar neergesak – kopskoot! Geweer teen ‘n boom staan gemaak, het hy gaan ondersoek instel. Wat ‘n vark, met tande soos ‘n Afrikaneros se horings!

Moeilikheid was, hoe om die vark van die eiland deur die vlak modderwater tot op droë grond te kry vir die laaislag. Bietjie rondgekyk en in die pomphuisie daar naby sien Buurman ‘n tou hang. Gewapen met die tou is Buurman terug na die vark toe. Die tou om die vark se dik nek en tande, en die ander punt stewig om sy middellyf geknoop. Met die tou op snaarstywe spanwydte, was Buurman so enkeldiep in die modder, handeviervoet soos ‘n kruiptrekker op pad na hoer grond, met die kosbare vrag trofeevark agterna. Dit is tóé dat hy die plukkie aan die tou voel. Vreemd, dink hy by homself. Die tweede plukkie was meer intens, soos ‘n elf wat aas vat. Toe hy omkyk, sien hy die vark op vier pote vir hom staan en gluur...Die vark was toe wragtig net katswink en nie bokveld toe nie. Jy kan maar sê hy het opgestaan soos Lasarus!

Volgens Buurman het dinge hierna vinnig gebeur. Die vark het net een wilde snork gegee en rieme neergelê bosse toe. Buurman is uit sy handeviervoet in die sagte modder gepluk en soos ‘n slee meegesleur, eers deur die modder van die eiland en toe oor die droë getrapte turwe. Die groot moeilikheid het egter gekom toe die vark die hasepad onderdeur ‘n sekelbos kies en Buurman willens en wetens saamgesleep is.

Eina pyn! Agter die sekelbos het Buurman, soos ‘n waterskiër, vlugtig op sy voete gekom en gesien die vark mik nou vir ‘n mopanieboom. Buurman galop toe vir ‘n vale saam met die vark na die mopanie, met ‘n slap tou tussen hulle wat oor die klippe sleep. By die mopanie gekom, kies die vark linksom en Buurman regsom die stam, met die tou in die middel. Buurman en vark het so drie keer by mekaar verby gehol voor die tou behoorlik om die stam opgewen was! En dis waar ons uiteindelik die twee opgespoor het. Beide partye steunend aan weerskante van die mopanie, besig om hul wonde te lek. Dit was nou vir jou ‘n behoorlike 50/50 wenfoto werd!

Met die tou uiteindelik losgetorring, het die vark die bosse ingebars en is Buurman en sy nuwe geweer versigtig agterop die bakkie gelaai en vandaar na die nursies wat hom moes ontsekelbos.

As jy my nou vra wat die moral of the story is, sou ek sê daar is twee lesse. Die eerste, moenie na ‘n vark by ‘n watergat skiet nie. En die tweede les, as jy ‘n vark op sleeptou wil neem, maak seker jy het die oorwig!

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: June 2012

Section: E-mails

Search