September 2013
PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA
Produsente is oor die algemeen prysnemers en met die toenemende styging van insetkoste heers daar bekommernis oor of die inkomste die koste kan dek. Die daarstel van produksiebegrotings voor die aanplant van gewasse, is dus noodsaaklik aangesien dit produsente help om produksiebesluite te neem.
Opstel van ‘n gewasbegroting
Die noodsaaklikheid van volledige gewasbegrotings kan nie genoeg beklemtoon word nie en ‘n goed opgestelde begroting vorm ‘n basis vanwaar beslissings geneem kan word.
Begrotings moet egter nie as rigiede of vaste planne beskou word nie, aangesien dit om planne vir die toekoms gaan en op vooruitskattings, historiese gegewens, aannames en ondervinding gebaseer word.
Niemand kan die toekoms met al sy risiko’s en onsekerhede akkuraat voorspel nie en daarom in die lig hiervan, moet produsente as gebruikers van begrotings, daarvan bewus wees dat begrotings en die aannames waarop dit berus, voortdurend aan veranderings onderworpe is.
Kostestruktuur van bedryfstakke
Die kostestruktuur van ‘n vertakking word uit vaste en veranderlike koste saamgestel. Sedert die koms van die vrye mark, moet produsente self besluit of die Safex-prys voldoende is om te produseer al dan nie.
Slegs deur alle koste te bereken kan ‘n sinvolle besluit vir volhoubare produksie geneem word. Vervolgens moet vasgestel word hoeveel geld nodig is om die vaste en veranderlike koste van die onderneming te dek en watter vertakkings hoeveel daarvan gaan bydra.
Vaste koste
Die vaste of oorhoofse koste is gewoonlik uitgawes wat aangegaan moet word, afgesien daarvan of daar geproduseer word of nie. Voorbeelde van vaste koste is salarisse, huur, lewenskoste, elektrisiteit en nog vele meer.
Uit ‘n onlangse studie, wil dit voorkom of die vaste koste per hektaar vir ‘n gemiddelde somersaaiboerdery tussen 30% en 50% van die totale koste kan wissel. Hierdie koste moet by die veranderlike koste per hektaar getel word om die totale produksiekoste te bereken.
Veranderlike koste
Die veranderlike koste is gewoonlik daardie koste wat maklik met die vertakking geassosieer word en verander soos daar meer of minder van die inset gebruik word. In die gewasvertakkings sal veranderlike koste bestaan uit byvoorbeeld saad, kunsmis, onkruiddoder en diesel.
Uit Tabel 1 tot Tabel 3 is dit duidelik dat bemesting die grootste komponent van die veranderlike koste uitmaak.
Produksiekoste vir die 2013/2014-produksieseisoen
In Tabel 1 tot Tabel 3 word die totale koste van graanverbouing vir die westelike, oostelike en sentrale produksie-areas aangedui.
Verskillende aannames word met die opstel van die begrotings gemaak. In die geval van kunsmis, is ‘n gemiddeld van al die kunsmismaatskappye se pryslyste (Juliemaand) vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) bereken en in die begrotings geïnkorporeer.
Met die berekening van byvoorbeeld die brandstofkoste is drie verskillende dieselpryse beraam. Eerstens ‘n prys vir bewerkings tot plant, tweedens ‘n prys vir plant tot voor stroop en derdens ‘n prys vir stroop en wegry. Die vooruitskattings is met behulp van future rand/dollarwisselkoerse en future ruoliepryse vasgestel.
Westelike streek
In Tabel 1 word die produksiekoste van Bt-mielies en sonneblom in die westelike streek vir die komende seisoen getoon.
Produksiekoste van droëland-GM-mielies (Bt)
In die eerste kolom van Tabel 1 word die begrote produksiekoste van Bt-mielies vir die 2013/2014-produksieseisoen uiteengesit. Die totale veranderlike koste vir ‘n 3 ton/ha opbrengs beloop R4 492/ha vir ‘n Bt-mielie kultivar. ‘n Berekende vaste koste van R2 000/ha word bygetel om ‘n totale produksiekoste van R6 492/ha onderskeidelik daar te stel.
‘n Julie 2014 Safex-mielieprys van R2 100/ton is gebruik, wat min of meer R1 871/ton in die produsent se sak sal beteken ná inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie. In hierdie tabel word die produksiekoste van ‘n 3 ton/ha en 4 ton/ha opbrengsmikpunt ten toon gestel.
Indien hierdie prys teen die begrote insetkoste realiseer, moet die produsent vir ‘n Bt-mielie ‘n minimum van ongeveer
3,5 ton/ha stroop om gelyk te breek. Let daarop dat Graan SA se begrotingsmodel volledig is en grotendeels alle koste wat deur produsente aangegaan kan word, in ag neem. Indien ‘n opbrengs van 3 ton/ha behaal word, sal ‘n Safexprys van
R2 393/ton vir ‘n Bt-mielie nodig wees om gelyk te breek. Produsente word aangeraai om hulle sommetjies vir mielieverbouing deeglik te doen aangesien die heersende swak ondergrondse vogtoestande beperkings op opbrengste kan plaas.
Produksiekoste van sonneblom
Die tweede kolom van Tabel 1 bevat die insetkoste vir die verbouing van sonneblom. Sonneblompryse vir Mei 2014 word tans goed ondersteun deur knap plaaslike voorrade.
‘n Mei 2014 Safex-sonneblomprys van R5 000/ton is gebruik, wat ‘n prys van ongeveer R4 711/ton in die produsent se sak beteken ná inagneming van die vervoerdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie.
Gegewe die begrote insetkoste, kan ‘n minimum van 1 ton/ha sonneblom in die westelike streek gestroop word om gelyk te breek, mits die begrote insetkoste verwesenlik. Volgens die begrotings en berekeninge lyk dit of sonneblomproduksie relatief winsgewend in die weste verbou kan word, maar ons weet dat produsente kalvoet loop vir Sclerotinia en duifskade.
Oostelike streek
In Tabel 2 word die produksiekoste van GM-mielies (RR) en sojabone in die oostelike streek vir die komende seisoen geïllustreer.
Produksiekoste van droëland-GM-mielies (RR)
In die eerste kolom van Tabel 2 word die begrote produksiekoste van GM-mielies (RR) vir die 2013/2014-produksieseisoen vir die oostelike streke uiteengesit. Soos vir mielieverbouing in die westelike streek, is ‘n Julie 2014 Safex-graanprys van R2 100/ton gebruik. In die tabel word die produksiekoste van 5 ton/ha en 6 ton/ha ten toon ge stel. Volgens berekeninge wil dit voorkom of tussen 4,5 ton/ha en 5 ton/ha vir die RR-mielies gestroop moet word om gelyk te breek indien die begrote insetkoste bewaarheid word.
Produksiekoste vir sojabone
Die tweede kolom van Tabel 2 illustreer die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is. Dit is welbekend dat sojabone sonder stikstof aangeplant kan word, alhoewel dié begrotings ‘n koste vir N, P sowel as K insluit.
‘n Mei 2014 Safex-sojaboonprys van R4 800/ton is gebruik en aangesien sojabone geen vervoerdifferensiaalkoste het nie, kan ‘n moontlike prys van R4 741/ton in die produsent se sak realiseer. Hanteringskoste en bemarkingskommissie is wel koste wat in berekening gebring moet word en van die Safex-prys verhaal moet word. Volgens Tabel 2 kan ‘n opbrengs van kleiner as 1,5 ton/ha behaal word om gelyk te breek met sojabooninsetkoste in die oostelike streek. Die produksiekoste vir die sentrale streek kan in Tabel 3 besigtig word. Produsente in die grootste gedeeltes van die streek word ook aangemoedig om deeglike berekeninge te maak aangesien die huidige swak ondergrondse vogtoestande opbrengste kan belemmer.
Dit is van kardinale belang dat produsente hulself eers deeglik vergewis van die produksiekoste van verskillende graangewasse asook die effek daarvan op winsgewendheid. Produsente word aangeraai om hul risiko te versprei en meer as een gewas aan te plant, sodat daar nie net op een gewas staatgemaak hoef te word nie.
Produsente en ander rolspelers kan die basiese produksiekoste op die Graan SA-webtuiste besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is. Stuur ‘n e-pos aan petru@grainsa.co.za tesame met jou Graan SA-lidnommer om die model te ontvang.
Publication: September 2013
Section: Input Overview