• Login
  • Search Icon

So lyk mark vir soja en oliekoek

August 2018

Sojabone as oliesaad speel ‘n uiters belangrike rol in die internasionale markomgewing. Die toenemende vraag na sojabone is ‘n bevestiging daarvan. Die wêreldvraag na sojabone het oor die afgelope tien jaar skerp toegeneem. Dit word gereflekteer in die skerp toename in die invoere wat oor hierdie tydperk gerapporteer is. 

Sojaboonolie en -oliekoek is die twee hoofprodukte wat verkry word wanneer sojabone gepers word – met oliekoek wat ‘n besonder belangrike rol as proteïenbron in die veevoermarkte speel. Sojaboonoliekoek vorm ook ‘n groot gedeelte van die breër sojaboonmark. Dié mark moet in perspektief geplaas word ten einde ‘n geheelbeeld van sojabone te verkry. 

Wêreldtendense oor tyd
Grafiek 1 illustreer die indekswaardes van die wêreldsojaboonproduksie en -invoere, asook sojaboonoliekoekproduksie en -invoere met die 2007/2008-seisoen as basisjaar. Uit Grafiek 1 kan afgelei word dat dié aspekte van die sojaboonbedryf oor die afgelope tien jaar bevredigende groei geniet het – met wêreldinvoere van sojabone wat verdubbel het. 

Volgens die Amerikaanse Departement van Landbou sal wêreld­sojabooninvoere in die 2018/2019-seisoen ongeveer 96% meer wees as die invoere wat in die 2007/2008-seisoen plaasgevind het. China is die grootste invoerder van sojabone en ontvang gemiddeld 65% van wêreldinvoere. Die produksie van sojaboonoliekoek het oor die afgelope tien jaar ook ‘n duidelike toenemende tendens getoon en het met ongeveer 55% oor dié tydperk toegeneem. Die VSA is die grootste produsent van die produk, gevolg deur China, Argentinië en Brasilië – met Argentinië wat die grootste uitvoerder daarvan is. Wanneer die verskil in die indekswaardes van die produksie en invoere daarvan ontleed word, is dit duidelik dat die grootste verbruikers van die produk redelik selfvoorsienend is en nie so afhanklik van invoere is nie. 

Die invoere van sojaboonoliekoek het oor die afgelope tien jaar met slegs ongeveer 14% toegeneem. Internasionale sojaboonproduksie het oor dieselfde tydperk met ongeveer 63% toegeneem, met die VSA, Brasilië en Argentinië wat vir meer as 80% van die wêreldproduksie verantwoordelik is.

Internasionale prysvergelykings
Grafiek 2 wys die maandelikse gemiddelde sojaboonpryse van die drie belangrikste produserende lande, naamlik die VSA, Brasilië en Argentinië. Uit die grafiek is dit duidelik dat die internasionale pryse van sojabone sedert die 2010-seisoen hoofsaaklik in ‘n opwaartse tendens was, voordat dit gedurende die 2012/2013-seisoen ‘n draaipunt bereik het. Daarna het dit weer ‘n afwaartse siklus getoon. Bevredigende groei in produksie, wat sedert die 2012-seisoen waargeneem is, het bygedra tot die druk op die pryse. Oor die algemeen was daar oor hierdie tydperk wel behoorlike oplewing in die vraag na oliesade – wat die verliese aan die laer pryse tot ‘n mate beperk het.

Plaaslike mark
Die plaaslike sojaboonmark het oor die afgelope vyf tot ses jaar behoorlike groei getoon, veral in terme van produksie – met die afgelope twee seisoene wat beide rekordproduksieseisoene van 1,316 miljoen ton en 1,558 miljoen ton vir die 2017/2018- en 2018/2019-seisoene onderskeidelik was. Die voortreflike produksie wat die afgelope twee jaar gesien is, het die plaaslike voorraadvlakke aansienlik laat toeneem, met die gevolg dat Suid-Afrika aan die einde van die 2017/2018-seisoen met ‘n oordragvoorraad van ongeveer 320 000 ton gesit het. 

Hoë voorraadvlakke plaas die tempo van die verwerking van sojabone plaaslik onder die vergrootglas. Met sojaboonoliekoek en -olie as die belangrikste produkte wat uit sojabone verkry word wanneer dit gepers word – en wat ‘n kardinale rol in die groter markomgewing speel, is die fokus in die mark grootliks hierop. Aangesien beide produkte steeds op ‘n jaarlikse basis ingevoer word, is dit duidelik dat die plaaslike mark vir hierdie twee produkte in terme van die plaaslike produksie daarvan ver van versadig is. Dit beteken dat daar wel nog genoeg spasie in die mark is om sojabone vir die produksie van olie en oliekoek te verwerk – wat ‘n beduidende rol kan speel in die opneem van die huidige plaaslike sojaboon-“surplus”.

Grafiek 3 vervat die plaaslike onverwerkte voorrade per maand wat sedert Maart 2012 in die land beskikbaar was, tesame met die maandelikse gemiddelde hoeveelheid sojabone wat plaaslik verwerk word, die oliekoekinvoere asook die plaaslike Safex-sojaboonprys en die afgeleide prys vir sojabone.

In Grafiek 3 kan ‘n mens sien dat die plaaslike voorraadvlakke sedert die begin van die 2017/2018-seisoen (Maart 2017) aansienlik toegeneem het – wat die plaaslike pryse onder druk geplaas het en dit meer in ‘n sywaartse rigting laat verhandel het. Plaaslike voorraadvlakke is steeds hoog vergeleke met die vorige paar jaar, wat plaaslike pryse steeds onder druk hou. 

Dit is duidelik dat wanneer die verskil tussen die plaaslike sojaboonpryse en die afgeleide pryse oorweeg word, die persmarge tans groot is – wat daarop dui dat dit wel winsgewend is om sojabone plaaslik vir olie- en oliekoekproduksie te pers. Dit behoort die vraag na sojabone te stimuleer, maar die tempo waarteen die plaaslike oliekoek in die veevoermark opgeneem word, bly steeds die grootste vraagstuk. 

Plaaslike sojaboonoliekoek
Die gemiddelde plaaslike verbruik van sojaboonoliekoek is tussen ongeveer 1,2 miljoen - 1,3 miljoen ton per jaar, waarvan byna 700 000 ton plaaslik vervaardig word, terwyl die res (± 550 000 ton - 600 000 ton) ingevoer word. Die belangrikste bestemming waarvandaan die oliekoek na Suid-Afrika ingevoer word, is Argentinië, terwyl daar sedert Januarie 2017 ook wesenlike hoeveelhede vanaf Zambië af ingevoer is. In Grafiek 4 is die maandelikse gemiddelde invoerpryse na Suid-Afrika vanaf hierdie twee bestemmings – soos gerapporteer deur die Suid-Afrikaanse Inkomste­diens (SAID) – aangebring, asook die gemiddelde uitvoerprys vanaf Argentinië en Zambië na ander wêreldbestemmings. 

Uit Grafiek 4 kan afgelei word dat die Suid-Afrikaanse invoerprys redelik goed met die Argentynse uitvoerprys korreleer en dat dit meeste van die tyd in lyn met mekaar is. Dieselfde tendens is nie van toepassing wanneer die prys waarteen die Zambiese oliekoek ingevoer word, bestudeer word nie. Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse invoerprys van Zambiese sojaboonoliekoek aansienlik laer is as die Zambiese uitvoerprys na ander internasionale bestemmings. 

Ten slotte
In ‘n internasionale konteks is die voortreflike groei wat in die verbruik van veral sojabone waargeneem word, oor die algemeen ‘n ondersteunende faktor vir internasionale pryse. Daar is tans in die internasionale mark heelwat onsekerhede wat hoofsaaklik geskep word deur handelsonsekerhede tussen die VSA en China – met die VSA as die grootste uitvoerder van sojabone en China die grootste invoerder. 

Die plaaslike verwerking van sojabone vind tans nie teen die verlangde tempo plaas nie – wat 'n bekommernis vir die plaaslike mark is. Die voorraadvlakke van sojabone akkumuleer en hou die plaaslike pryse onder druk. Dit bied wel ondersteuning aan die plaaslike persmarge – wat die plaaslike vraag na sojabone kan stimuleer en hopelik in die nabye toekoms ‘n oplewing in die perskapasiteit in strategies-geposisioneerde lokaliteite tot gevolg sal hê. 

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie. 

Publication: August 2018

Section: Mini-Focus on Soybeans

Search