• Login
  • Search Icon

E-posse aan Grootneef: So ja

July 2014

image

image

Beste Grootneef

‘n Paar dinge in die lewe is te groot om te verstaan, te wonderlik om te begryp. Soos die getye van die oseaan wat groei saam met die maan, die bome wat weet wanneer om te bot en die stil wintersnagte wat ryp soos as oor die velde uitstrooi. Wat is die mens...

Die ander ding bo begrip is rugby se nuwe skrumreëls. Kyk maar elke naweek, die twee stelle stutte druk dat dit bars, maar die skrumskakel gooi nie die bal in die oond nie. As die spul in duie stort, staan die skrumskakel kiertsregop soos ‘n meerkat en steek sy hand met die bal in die lug – om nou te wys dat hy nie die bal ingegooi het nie. Dié kon almal in elk geval sien. Dan start die ref weer alles op met ‘n hak in die veld om sy merkie te wys, of druk die hele spul vyf tree veld af om uit die nat kol te kom. En dan bind die hele spul weer met ‘n gekreun, om oomblikke later weer in te plof.

As ek nou ‘n ref was, sou ek die spul staangemaak het en as hulle nou klaar engage het, tot drie tel. Wee dan die skrumskakel wat nie binne drie tellings ingooi nie, ‘n summiere rooikaart vir hom...

‘n Ander ding bo begrip van mens en dier, is ons navolging van Europese modegiere hier ter plaatse. Ons hogeres in die parlement hang graag uit met snyerspakke van die fynste wol. Ons nuutste partyleier in die hoogste gestoeltes, rooi kadot en al, het hoeka anderdag laat wiel met die uitlating dat om ‘n das te dra, net ‘n manier is om onvermoë te verbloem. Só ‘n stuk waarheid uit sy mond! Dáár is die Israeli’s se Knesset met ‘n oopnekhemp ‘n voorbeeld. Hulle besef immers dat hul in ‘n woestyn bly.

Hoe dit ook al sy, partykeer los probleme hulself op. Soos die sojabedryf. Vir baie jare het soja ‘n sukkelbestaan in ons geweste gevoer. ‘n Bietjie hier en daar, maar in baie gevalle is die skaap maar aan die einde van die seisoen in die land ingejaag as die peule begin oopspring. Kultivars was daar ook nie eintlik wat lekker in ons sandgronde geaard het nie.

‘n Verdere moeilikheid, was die prys. As soja nie twee keer plus, die prys van mielies inbring nie, was dit kwalik die moeite werd om ‘n stukkie daarvan te plant. Daarvoor is mielieplantery te lekker. Eweneens was die silobestuurders ook nie altyd lus vir soja nie, want daar was net nie ‘n plekkie daarvoor in die buis nie. En wie sou dit koop? Daar is baie beduie van afgeleide pryse van sojakoek in die wêreld wat na ons toe kom en dat dít nou die prys in die Vrystaat bepaal. Boonop was koring altyd ‘n lekker winterwisselbougewas.

Toe ons egter ons oë uitvee, het daar skielik ‘n klompie dinge gebeur wat sojabone anders laat lyk. Die pryse per ton klop nou mielies. Koringpryse laat weer die manne twee keer dink oor droëlandproduksie in die winter. Sojakultivars, aangepas vir ons geweste, is nou te kies en te keur. En die bonus van sojawisselbou wat deursuur met ‘n stikstoffie vir die opvolgoes, is nie te versmaai nie. As jy terselfdertyd ook nou nog ‘n paar skapies het, kyk maar, ná die stroopaksie tel hulle al die sojapitte uit die sand uit op – spekvet uit lande wat op die oog af lyk of daar niks is nie.

Ou Neef, vir die nuwe seisoen weet ek van ‘n hele paar manne wat ‘n ou mielieland met soja gaan plant. As die etanol-storie op Bothaville nou ook net kan begin werk, kan ons nóg minder mielies plant...

Ou Neef, kom ons klink ‘n glasie op die nuwe seisoen en op al die planne wat gemaak word. So ja, laat hy val waar hy wil. Met ys ja.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: July 2014

Section: Features

Search