• Login
  • Search Icon

Slakke, insekte en ander peste op kanola

September 2013

KOBUS VAN TONDER, NAMENS DIE PROTEÏENNAVORSINGSTIGTING

image

Die beskerming van die oes teen plaaginsekte is ‘n belangrike bestuurs aksie by kanolaverbouing. Dit is waarom die Proteïenna vorsingstigting (PNS) dikwels vir dr Geoff Tribe vra om die omvang van die probleem te ondersoek en aanbevelings te doen oor hoe om dit beter te bestuur.

Dr Tribe is ‘n bekende Kaapse landbou-insekkundige wat tot voor sy onlangse aftrede aan die Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming op Stellenbosch verbonde was. Danksy hierdie werk van dr Tribe en sy medewerkers op plaaginsekte, het kanolaprodusente nou meer toepaslike inligting tot hul beskikking om ‘n intensiewe bestuursplan saam te stel.

Opvallend in die verslag is die groter klem op die monitering van insektegetalle en doeltreffender, dog meer omgewingsvriendelike, aanwending van chemie.

Produsente weet reeds dat ‘n aantal insekte kanola ‘n besonder sappige happie vind. Veral een, isopoda tesame met naakslakke, het die potensiaal om opbrengs en gehalte ernstig te skaad. Daar is ander ook, maar hulle is tans van minder belang.

Isopoda

In teenstelling met talle produsente se oortuiging, rig isopoda meer skade as slakke aan. “Die twee pak tewens hul strooptogte bykans gelyktydig aan,” sê dr Tribe.

Isopoda (Armadillidium vulgare) is daardie plat, grys, veelpotige en talryke goggas wat hul kenmerkend in piepklein balletjies oprol wanneer versteur word en rig die meeste skade aan al word slakke soms in groot getalle aangetref.

Isopoda skuil meestal net onder die grondoppervlakte en slaan vinnig toe, veral wanneer dit later as gewoonlik reën. Slegs effense vog is nodig. Hoewel die meeste skade snags bogronds aangerig word, kan hulle reeds ondergronds aan die ontkiemende saad begin vreet.

Saailinge word egter net gedurende die eerste vier weke na-plant aangeval. Namate plantjies die saailingstadium ontgroei, word hulle selde weer deur die isopoda gevreet.

Volgens dr Tribe is aanvanklik aanvaar dat die inheemse isopoda vir die skade verantwoordelik is. Voorbeelde van die kwaaddoeners is aan ‘n oorsese kenner vir identifikasie gestuur. Dié het sonder twyfel vasgestel dat die verantwoordelike spesie uitheems is. Hulle is moontlik van Europese oorsprong, maar het sedertdien die status van “wêreldburgers” verkry.

‘n Algemene verbouingstegniek wat kanolaprodusente tydens vestiging volg, is om eers alle onkruid uit te spuit alvorens geplant word. Vir die isopoda en slakke is daar gevolglik op daardie tydstip niks anders as die ontluikende kanola om te vreet nie.

Dr Tribe glo die laaste woord is nog nie gespreek oor of onkruidbeheer só vroeg die regte praktyk is nie.

image

Slakke

Die ekonomiese skade van slakke in kanola is egter wêreldwyd aan die toeneem. In een sta dium was plaaslike produsente ook erg bekommerd hieroor.

Volgens dr Tribe, was die vrese nie heeltemal ongegrond nie. Al drie die spesies naakslakke wat die meeste skade doen, kom uit die Mediterreense streke. Hulle is uitermate goed aangepas onder winterreën- en somerdroogtetoestande.

Volwasse naakslakke is grootliks grondgebonde en oorleef in die somer tot 20 cm diep. Oorsese navorsing wil dit hê dat hierdie slakke ter wille van oorlewing die grond tot 1 m diep kan indring. Dr Tribe-hulle het egter in die omgewing van Caledon gevind dat dié slakke selde dieper as die humuslaag gaan. Namate die grond egter uitdroog, versamel hulle rondom krake waardeur indringing kan geskied.

image

Die uitheemse naakslakke se natuurlike vyande het nie die reis meegemaak nie. Dit laat ons met ‘n unieke probleem om beheer toe te pas.

Vir dr Tribe was hierdie ‘n uitdaging, ‘n geleentheid om baanbrekerswerk te verrig. Hy het dit met albei hande aangegryp.

“Die drie uitheemse spesies moenie met die groot, gelerige plaaslike naakslakke verwar word nie,” sê hy. Laasgenoemde kom eers later in die seisoen op die toneel wanneer die meeste slakpille reeds verweer of opgevreet is. Hierdie slakke betree selde ‘n kanolaland en verkies om in die omliggende fynbos te oorleef.

image

Inheemse naakslakke word dus bykans nie deur die bestaande beheermaatreëls van produsente geraak nie. Sommige omgewingsgroepe is besorg dat dié slakke dalk uitgeroei kan word. Hul verweer is dat inheemse slakke bydra tot die volhoubare voortbestaan van ons natuurlike omgewing.

“Daar is ‘n fundamentele verskil tussen die konstruktiewe beheer van plaaginsekte en hul blote uitdelging met ooraanwending van chemie,” sê dr Tribe.

So byvoorbeeld is daar tradisioneel ‘n voorkomende benadering tot die beheer van plaaginsekte gevolg waartydens toepaslike chemiese middels met gereelde tussenposes gespuit is. Dit is dikwels gedoen sonder dat die betrokke produsent hom eers vooraf van die omvang van die plaag vergewis het.

“Dié benadering,” sê dr Tribe, “is duur en dikwels ‘n mors van geld wanneer insekgetalle laag is.” Die moontlikheid is nooit eers oorweeg dat klein getalle plaaginsekte volkome verduur kan word nie, aangesien hulle slegs geringe invloed op opbrengs en gehalte het.

In sulke gevalle is die koste om te spuit veel groter as die voordeel wat uit chemiese beheer verkry word. (Sien Tabel 1 vir drumpelwaardes vir die beheer van insekte op kanola asook die tye wanneer vir verskillende plae opgelet moet word).

image

“Boonop word die ‘goeie’ insekte ook gedood wat soms tot ernstige uitbrake van plaaginsekte in die algemeen aanleiding gee wat andersins natuurlik beheer kon word,” meen dr Tribe.

Die nuwer benadering tot plaagbeheer behels bykomende beheermaatreëls wat afhanklikheid van chemiese spuitstowwe verminder. Een so ‘n maatreël behels dat insekgetalle gereeld en akkuraat gemonitor moet word.

Die ou waarheid van “om te meet is om te weet” geld dus hier.

Chemiese beheer volg alleen wanneer plaaginsekte se getalle voorafbepaalde maksimum vlakke oorskry. Dít is die vlak wanneer daardie stadium bereik word waar skade wat deur plaaginsekte aangerig is, gelyk of meer is as die koste van chemiese beheer.

Volgens dr Tribe behels die beheer vir sowel die uitheemse slakke en isopoda, ‘n gekombineerde aanwending van metaldihied en karbariel. Metaldihied op sy eie werk nie so doeltreffend nie. Karbariel dood die isopoda wat verantwoordelik is vir sowat 80% van die verliese onder saailinge. Metaldihied beheer slegs slakke.

Die eerste behandeling geskied wanneer kanola gevestig word. Hy beveel aan dat slakpille teen ‘n tempo van 8 kg/ha met planting gestrooi word.

image

Sy proewe het getoon dat hierdie hoeveelheid die mees kostedoeltreffend was om saailinge teen slakke sowel as isopoda te beskerm. “Hierdie hoeveelheid skyn te min te wees, maar werk tog goed,” verseker hy.

Dié metode is egter nie heeltemal onfeilbaar nie. Die aktiwiteite van sowel slakke as isopoda word soms erg deur reën en temperature beïnvloed. Trouens, dr Tribe is ‘n voorstander van verdere navorsing waarvolgens weerdata met die voorkoms en gedrag van isopoda en slakke gekorreleer word ten einde wisseling in hul getalle te voorspel.

Hy het ook gevind dat daar nie werklik ‘n groot verskil in doeltreffendheid tussen die verskillende handelsmerke is nie.

Hy is bewus van produsente wat tot soveel as 15 kg/ha uitplaas en goeie beheer verkry. Hy meen die hoeveelheid is dalk effens oordrewe hoewel hierdie produsente nog geen ernstige verliese onder hul saailinge gely het nie.

Dr Tribe en sy span het ook ‘n proef gedoen waar slakpille saam met die saad in die grond geplaas was. “Die metode werk nie,” sê hy. “Die pille moet op die oppervlakte wees.”

Ruitrugmot

Oor die ruitrugmot sê hy dat dié insek in die Wes-Kaap nie werklik so ‘n groot probleem as in die somerreënvalgebiede is nie. Die verkla ring hiervoor is dat dié motte eenvoudig nie van water hou nie.

As dit egter reën (gewoonlik rondom September) en ‘n droë tydperk van etlike weke volg, kan hul in getalle letterlik ontplof. Hulle slaan gewoonlik toe wanneer kanola sterk begin blom (September/Oktober).

Dr Tribe meen dat die skade wat hulle op die blare aanrig nie werklik opbrengste beïnvloed nie. Dit is egter ‘n groot probleem wanneer hulle op die peule begin voed.

Nogtans meen hy dat ‘n voorkomende beheerprogram in die Wes-Kaap net ‘n vermorsing van geld sal wees. As hy ‘n produsent was, sou hy hul gereeld dophou, maar nie spuit tensy hul getalle handuit ruk en gevolglik aan die peule begin vreet nie.

image

Stamboorders

Nog ‘n moontlike probleem is stamboorders wat die plantstamme aanval en op die voedingstowwe wat deurvloei teer. Hierdie is eintlik net ‘n potensiële probleem waaraan weinig gedoen kan word om dit te verhoed.

Koolluise

Dr Tribe beskou koolluise, ook ‘n uitheemse spesie, as niks meer as net ‘n ergernis wat nie die moeite of koste werd is om te bespuit nie. Hulle slaan gewoonlik op 50% blomstadium toe. Net sowat 0,1% van ‘n land word gewoonlik besmet. Gelukkig het dié luise se parasiet, ‘n klein tipe wespe, ook saamgekom en pas goeie natuurlike beheer toe indien hul onversteurd toegelaat word.

image

Publication: September 2013

Section: Input Overview

Search