November 2013
– November 2013
Beste Grootneef,
Met al die tweebeenjakkalse en ander ongediertes wat die skapies so uitdun, word die trop wat ons aanhou, al hoe kleiner. Laas week het ek weer ‘n plek gekry waar ‘n potslagter ‘n hamel keel afgesny het, met die kop, pote en binnegoed in die vel toegedraai. As die vel eers af is, verander jou skaap in ‘n karkas sonder naam...
Ou Neef, dié tyd van die jaar laat my altyd dink aan vergange se dae toe skeertyd nog ‘n groot ding op die plaas was. Skeertyd het altyd saamgeloop met ‘n jaar wat amper volgeloop het, gewoonlik hier oor laat November, begin Desember.
Daar is eers gewag dat die laaste winterkoue oorwaai, voordat skeertyd beplan is. Die BKB-man is dan gebel om te hoor waar trek die skeerspanne in die omgewing en dan is ‘n week “bespreek”.
So week of wat voor die skeerspan sou opdaag, is die skuur uitgepak en skoongevee om dit te omskep in ‘n skeerhok. Die wolklastafels is van die balke gelig en in die middel van die skuur geplaas. Gewoonlik was die tafels se sparre pikswart en bedek met so ‘n lagie ou wolvetjie van die vorige seisoen. Daarna is die wolhokke langs die mure staangemaak, in die orde wat die BKB-man gevra het.
Twee tydelike kampies is ook gespan, een voor die skuur waar die skeerders die skape kon uitvang en dan weer aan die ander kant van die skuur ‘n kampie waar die geskeerde skape laat los is. So paar dae voor die groot skeer sou begin, is die troppe skape in kampe, nie te ver van die werf af nie, ingejaag. Die skape is dan sommer uitgesoek met die hamels, ou ooie, lammerooie en ramme, elk in ‘n eie trop.
Die skeerders is laat haal van waar hul die vorige week klaargemaak het. Die meeste was destyds Lesotho-burgers. Met die afklimslag het hul met kooigoed, bagasie, skaapskêr en slypsteen aangestryk na die skeerhok, om dinge deur te kyk. Elk het dan sonder om te veel te praat, vir homself nes geskrop.
Die klank van skaapskêre op slypstene sal my altyd bybly. Die manne het so halwe emmertjie water by hul gehad om oor die steen te drup en dan is die skêre met ‘n geoefende hand heen en weer oor die nat slypsteen getrek. Ou Neef, daardie skêre se twee lemme was naderhand so blink en skerp soos ‘n slagmes!
By die deur waar die skape ná die skeer-aksie laat los is, het ‘n sak met mieliepitte gehang. Dit was die “lootjies”. Soos wat elke skaap geskeer is en laat los is, is ‘n mieliepit deur die skeerder gevat. Meeste het hul lootjies in ‘n ou twaksak gedruk, want daardie lootjie is later omgeskakel in harde kontant. Aan die einde van die skeertyd, het die skeerders hul
lootjies voor hul uitgepak vir die groot tel, elke lootjie was een geskeerde skaap werd.
Kyk, daardie skeerders was taai! Hulle het in die vanghok die grootste ooi ligvoets aan die agterpoot gevang, opgelig en in die skeerhok ingedra. Die skaap is dan op die agterstewe sitgemaak tussen die skeerder se knieë, waarna dié dan gebukkend die wol eers aan eenkant en dan aan die ander kant van die skaap geskeer het. Elke snysel ‘n hand-aksie. Ou Neef, om jou lootjie te kry deur geboë ‘n skaap met jou knieë vas te druk en dan met ‘n skaapskêr wol te skeer van vroegdag tot laatmiddag, gee ‘n nuwe betekenis aan om jou brood met sweet te verdien!
Gewoonlik was daar so jongetjie tussen die skeerders wat die vagte wol van die skeerders bymekaargemaak het. Dit was ook ‘n kuns om die vag soos ‘n kombers na binne toe te vou en dan op die woltafel oop te gooi, sodat dit oopgesprei het vir die klas-aksie. Die wolklasser het dan “afgerond” en die tipes wol op grond van lengte en karteling in die verskillende hokke geplaas. Sodra ‘n hok vol was, is bondels van hierdie wol aangedra na die wolpers. Die wol is dan met ‘n pers-aksie in die wolbaal gedruk, tot die baal tot barstens toe vol was.
Met elke vol baal, is ‘n stensil gebruik om aan die een kant die tipe wol se kode in swart op te verf, met die produsent se besonderhede aan die ander kant van die baal. Die boepensbaal is dan verskuif na die stoor langsaan, om later met trekker en sleepwa na Steynsrus se stasie gekarwei te word, al die pad na die Baai vir die wolveiling.
‘n Paar weke het dan verbygesleep, tot op die blye dag dat die woltjek in die posbus geland het. Daardie wolgeldjie het deur die jare gehelp om die wolf van die deur weg te hou.
Ou Neef, dis tog jammer dat skaapboerdery so moeilik geraak het. Wat kan dan nou mooier wees as ‘n spierwit trop geskeerde skape wat koers kry die veld in?
Al wat van daardie dae oor is, is die onthou van die klank van skaapskêre oor ‘n slypsteen, die geblêr van skape om die plaaswerf en die oliegeur van pas geskeerde wol.
Groete op die Oosgrens
Kleinneef
Publication: November 2013
Section: E-mails