• Login
  • Search Icon

Skaapboerdery se potensiaal in mielieproduserende gebiede

October 2015

HENDRIK VAN PLETZEN, Voermol Voere

Skaapboerdery se potensiaal in mielieproduserende gebiedeSkape is ‘n goeie alternatief om die winsgewendheid van die boerderyeenheid te verskans. Weiding- en voedingshulpbronne op ‘n tipiese plaas in die somersaaigebiede met ‘n graanopbrengspotensiaal van 4 ton/ha tot 5 ton/ha, bied groot geleenthede vir intensiewe skaapboerdery.

Om ‘n eenheid van 500 mediumraamgrootte teelooie te bedryf, kan op so min as 135 ha gedoen word. Ongeveer 60 ha soja- en mieliereste, 60 ha meerjarige someraangeplante weiding en 15 ha weimielies word benodig om ‘n teelooi-eenheid van 500 aan te hou.

Die kapitaalbelegging in grond per teelooi is aansienlik laer as byvoorbeeld Karoogronde waar afhangende van die gebied, 1 500 ha tot 3 000 ha nodig is vir ‘n ooi-eenheid van 500. Kontrole en beheer oor diefstal en ongediertes op ‘n kleiner oppervlakte is baie goedkoper en makliker as op groot oppervlaktes.

Oesreste vir oorwintering teen lae koste

In ‘n tipiese voervloeibeplanning bied oesreste goeie gehalte weiding vir vier tot ses wintermaande teen ‘n lae koste. Met die uitbreiding van sojaboonaanplantings, is sojaresteweiding reeds vanaf April beskikbaar en afhangende van beskikbare oppervlaktes, kan skape vir ses tot agt weke op sojareste loop en dan op mieliereste vir die volgende ongeveer vier maande.

Volwasse skape benut sojareste baie goed omdat hul behoefte aan deurvloeiproteïen baie laer is as dié van lakterende ooie en lammers. Sojaresteweiding is ‘n uitstekende prikkelvoer vir ooie en in prikkelvoedingsproewe is gevind dat sojabone lampersentasie met 14,3% verbeter het, in vergelyking met ‘n negatiewe kontrole.

Skaapboerdery se potensiaal in mielieproduserende gebiedeDrakragriglyn van sojareste
Skape benut die reste (plantmateriaal) baie beter as byvoorbeeld mieliereste en die drakragriglyn van sojareste is vyf tot sewe kleinvee (KVE)-eenhede (KVE – ‘n 45 kg - 50 kg skaap) vir ‘n weiperiode van 80 tot 100 dae.

Selfs die growwer plantmateriaal en stingels word baie goed benut. Die rou sojaboon is hoog in proteïen (ongeveer 36%), maar dit het sekere beperkinge in die vorm van nievoedingsfaktore, soos byvoorbeeld tripsien- en chemotripsien-inhibeerders en ‘n laag verteerbare aminosuurprofiel. Dit veroorsaak dat lammerooie op sojareste dik en taai biesmelk het, min melk produseer en gevolglik groei lammers swak.

Prosessering van sojabone is nodig om die nievoedingsfaktore op te hef en die voedingspotensiaal te ontsluit. Die resteweiding kan nie geprosesseer word nie en daarom moet die regte lekaanvulling gegee word om die beperkinge te oorkom. Lekke soos byvoorbeeld Voermol Molovite bevat goeie gehalte natuurlike proteïen (geen ureum nie) en is die standaard aanbeveling op sojareste.
 

Vir lammerooie moet een sak Voermol Procon 33 met drie sakke Molovite gemeng word om die deurvloeiproteïen te verhoog en gee vir hoogproduseerders, soos tweelingooie en speenlammers, die volgende mengsel: 500 kg Molovite, 300 kg Procon, 200 kg mieliemeel en 10 kg voerkalk.

Skaapboerdery se potensiaal in mielieproduserende gebiedeDrakragriglyn van mielieresteweiding
Die drakragriglyn van mielieresteweiding is nege tot twaalf KVE/ha vir ‘n weiperiode van 90 tot 120 dae. Beweiding van mieliereste moenie ten koste van langtermyngraanproduksie geskied nie. Mnr I.A. Koster (persoonlike mededeling) het in ‘n langtermynstudie oor 17 jaar gevind dat die graanopbrengs met 280 kg/ha gedaal het (5,33 ton/ha teenoor 5,61 ton/ha) waar alle reste verwyder is in vergelyking met proefpersele waar geen reste verwyder is nie.

By bogenoemde veelading word ongeveer 40% van die reste verwyder, met ander woorde meer as die helfte van die reste word op die land gelaat vir die instandhouding en opbou van organiese materiaal. Indien reste nie bewei word nie, verdwyn ongeveer 21% oor die winter as gevolg van wind en verwering.

Die energiewaarde van vars gestroopte lande is hoog, veral waar ‘n redelike hoeveelheid graan in die oesproses vermors is. Die hoeveelheid mielies op ‘n vars gestroopte land wissel baie en navorsing met behulp van slukdermgefistelleerde skape toon aan dat ‘n skaap tot 800 g mielies binne ‘n halfuur vreet.

Skape wat nie op graanvoeding aangepas is nie, ontwikkel suurpens met verliese tot gevolg. ‘n Verdere probleem met mieliereste is dat die proteïenwaarde marginaal tot laag is, veral vir diere met ‘n hoë voedingsbehoefte, soos lammerooie en speenlammers. Tekorte aan kalsium, magnesium, sink, koper en selenium (veral op rooi gronde) kom ook voor.

Met bogenoemde navorsing as agtergrond, is Voermol Landelek ontwikkel om voedingstekorte en voe dingsprobleme op mieliereste en weimielies te beperk. Lammers groei tot 260 g/dag vir die eerste vier weke op vars gestroopte lande met heelwat graan, maar die groei plat af namate die graan uitgevreet raak.

Afhangende van die gehalte en groeipotensiaal van skape, kan tot 100 kg lewende massa per hektaar mielieresteweiding geproduseer word en tot 14 kg skoonwol per hektaar met goeie gehalte dubbeldoelskape. Hierdie produksiedata wys op die waarde van mielieresteweiding, mits die regte bestuur toegepas word.

Skaapboerdery se potensiaal in mielieproduserende gebiedeWeimielies vir lamafronding en strategiese weiding vir lammerooie

Die wei van mielies is ‘n baie ou praktyk en kom al vanuit die vorige eeu vandat mielies vir die eerste keer geplant is. Weimielies is eintlik ‘n laekoste-voerkraal waar stroop-, uitry-, opberg-, maal-, meng- en voerkoste uitgeskakel word.

Mielies, die beste energiebron om skape mee af te rond, word net so op die land gelaat en bewei. Beweiding kan reeds op die harde deegstadium begin en drakrag word hoofsaaklik deur graanopbrengs bepaal.

‘n KVE vreet ongeveer 1 kg mielies per dag en daarvolgens kan die drakrag bepaal word. By ‘n graanopbrengs van byvoorbeeld 5 ton/ha, is die drakrag ongeveer 55 skape/ha vir 90 dae. Die grootste risiko van weimielies is suurpens en daarom moet ‘n lek soos Voermol Landelek bygevoer word.

Goeie gehalte, dubbeldoel speenlammers (wol en vleis) met ‘n aanvangsgewig van 28 kg - 32 kg voeg die beste waarde tot weimielies toe.

Met die huidige vleis- en wolpryse kan ‘n “mielieprys” van R3 400/ton tot R3 700/ton gerealiseer word deur mielies deur lammers te bemark.

Skeer lammers twee tot drie weke voor slag om die maksimum voordeel van wolproduksie te benut. ‘n Speenlam verbruik nagenoeg 110 kg mielies in 80 tot 90 dae. Lammers op weimielies word gewoonlik swaarder om die gewenste graad te bereik in vergelyking met lammers in ‘n voerkraal.

Ooie met lammers kan ook weimielies benut, maar voeg nie soveel waarde toe soos speenlammers nie. Lammers moet ten minste drie weke oud wees voordat hulle op weimielies gaan om te verhoed dat lammers en ooie van mekaar skei. Lammerooie word vet op weimielies en in die praktyk lam tot 68% van hulle tweelinge in die volgende lamseisoen. Ooie “betaal” dus eers met die volgende lammeroes die mielies wat hulle tans vreet.

Meerjarige someraangeplante weidings

Feitlik enige meerjarige weiding kan op laer potensiaal mieliegronde groei. Voorbeelde hiervan is oulandsgras in die meer oostelike gebiede op koeler, klammer gronde en Smutsvingergras in die warmer sentrale- en westelike gebiede.

Droëlandlusern (peulplant) is ‘n baie goeie wisselbougewas wat met groot sukses in ‘n skaapstelsel ingeskakel kan word. Droëlandlusern groei waar mielies groei en navorsing in dié verband is op laer potensiaal gronde gedoen met pH (KCl) waardes van 4,6; fosfaatontledings van 24 dpm; en kalium 93.

Vestiging van lusern in rye (dieselfde rywydte as mielies), bied die geleentheid vir tussenry-bewerking en daar is bevind dat bewerking seisoensproduksie (drakrag) met 30% verhoog het. Skape loop tussen die rye en trap min op plante met minder vermorsing tot gevolg.

In stelselproewe met lusern en mielies, was die opbrengs in jaar een van mielies op lusern (ná vyf jaar onder lusern) 5,96 ton/ha teenoor 3,63 ton/ha monokultuur. In jaar twee was die opbrengs 6,6 ton/ha teenoor 4,06 ton/ha monokultuur.

In die derde jaar was die wisselbou-effek egter klein (5 ton/ha versus 4,3 ton/ha). Afgesien van die peulplant-effek, is daar ongeveer 30% tot 35% hersirkulasie van voedingstowwe deur mis en urine. Wisselbou hou ook groot voordele vir skape in.

Onder intensiewe beweiding op aangeplante weidings is daar ‘n groot konsentrasie van diere op kleiner oppervlaktes en die opbou van weerstandbiedende parasiete is ‘n wesenlike probleem. Deur die grond te bewerk en mielies te plant, is daar vir twee of drie jaar geen skape in die somer op die grond nie en daardeur word die parasietlading verlaag.

Die groot voordeel van lusern is dat dit ‘n hoëkwaliteit, laekoste weiding produseer. Omdat lusern ‘n peulplant is, word geen stikstofbemesting benodig nie en die voedingstatus van mieliegronde is gewoonlik goed genoeg vir lusern sodat geen bemesting nodig is nie. Onder normale omstandighede is dit slegs vestigingskoste (grondvoorbereiding en saad) en twee tussenry-bewerkings per jaar. Lusern het egter twee nadele en die eerste een is ‘n opblaasrisiko. Skape en skaaprasse wat aggressiewe vreters is, is meer geneig tot opblaas, maar dit kan deur bestuur en die gebruik van ‘n lek verminder word. Voermol Molovite Plus bevat medikamente wat opblaas verhoed en die produk is suksesvol op hoë-risiko gronde getoets. Die ander nadeel is dat lusern blare verloor onder droogtestremming en daarom moet ook voorsiening gemaak word vir ‘n grasweiding in die voervloeibeplanning.

Die drakragriglyn van droëlandlusern is elf tot 17 KVE/ha vir sewe maande. In ‘n mielie-lusern-stelselproef is jong ooie op elf maande ouderdom gedek met ‘n lampersentasie van 82% tot 96,8%. Die lampersentasie van volwasse ooie was van 120% tot 146%, met ‘n jaarwolproduksie van 6,5 kg per ooi. Die rente verdien op kapitaal belê in die skaapbedryfstak was gemiddeld 16,7% oor vyf jaar.

Die groot voordeel van ‘n skaap-mielie-lusernstelsel is hoëkwaliteit, laekoste weidings met goeie skaapproduksie en ‘n goeie, volhoubare winspotensiaal. Dit vereis egter kundige en toegewyde bestuursinsette vir 365 dae van die jaar.

Bogenoemde navorsingsresultate kom deels uit ‘n MSc-verhandeling van H.W. van Pletzen met die titel “Oorwintering van wolskape op mielie-oesreste”, Universiteit van Pretoria.

Skaapboerdery se potensiaal in mielieproduserende gebiede

Publication: October 2015

Section: Focus on

Search